
2 minute read
BOESMANLAND-TAK

Anthony Swift - Voorsitter
Advertisement
Op Saterdag 8 Mei 2021 het Boesmanland Jag die geleentheid gehad om ‘n CHASA Vlakteskiet aan te bied. Die skiet het plaasgevind teen die hange van Rebunie berg agter Ramskop skietbaan, wat vir ‘n paar asemrowende uitsigte gesorg het. ‘n Totaal van 35 skuts het die dag aangedurf - ‘n ligte herfs briesie en ‘n verskeidenheid interessante en snaakse skiet-posisies (lê teen ‘n skuins wal en ‘n melkkrat om oor te skiet), het dit vir die skuts moeilik gemaak om nes te skrop. Ten spyte van die uitdagings was die kompetisie straf, maar is die dag geneem deur Andries Theart, met Evan Lategan in tweede en Louwtjie Hanekom in derde plek. Na afloop van die geweer skiet het die skuts mekaar aangevat met ‘n praktiese pistool uitdaging en “steel challenge”. Weens die COVID-19 inperkings was skiet getalle maar min, maar tog was daar die getroue en toegewyde skuts wat ons deurentyd ondersteun het deur hierdie tydperk.
Op Saterdag 07 Augustus 2021 het Boesmanland Jag die geleentheid gehad om ‘n nuwe CHASA .22 Vlakteskiet aan te bied, volgens President Johann Strauss se nuut-geskrewe formaat. Die skiet het ook teen die hange van Rebunie berg plaasgevind. ‘n Totaal van 21 skuts het die dag aangedurf. Die kondisies was onverbeterlik vir ‘n .22 skiet – wind-stil en helder-blou lug. Die kompetisie het bestaan uit 6 bane, wat verdeel was in 2 gong bane en 4 papier teiken bane. Die papierteikens was ‘n klein-koppie tarentaal, gans, ystervark en ‘n “Roland Ward” dassie wat mooi tussen die rotshange vir die skuts gepronk het. Die skuts het meegeding vir ‘n potensiële groottotaal van 900, en die deelnemers het behoorlik hul staal gewys. Die dag was gewen deur Izak Hanekom met ‘n allemintige 885.6, terwyl tweede plek aan Andries Theart en derde plek aan Johann Strauss behoort het. Die COVID-19 inperkings het skiet getalle min gehou, tog was daar die getroue skuts wat ons ondersteun het deur hierdie tydperk.
Boesmanland is ook dankbaar vir die afgelope reënseisoen wat gesorg het dat ons skietbaan in ‘n lowergroen vlakte verander het. Hierdie sal verseker sorg dat ons opkomende Veldblom Skiet sy naam gestand sal doen.
Saterdag 8 Mei se CHASA Vlakteskiet


Boesmanland-tak

Saterdag 7 Augustus 2021 het Boesmanland die CHASA .22 Vlakteskiet gehou te Rebunieberg








