14 minute read

MY EERSTE KOEDOE

Next Article
WESKUSJAG-TAK

WESKUSJAG-TAK

Deur : Jacobus Sieberhagen

Om ‘n koedoe te skiet was nog altyd een van my groot drome, maar nie agter van ‘n bakkie af of vanuit ‘n skerm op ‘n lusernland in die nag nie. Nee, ek wou “walk en stalk”. Ek wou dit ook graag op my eie doen sonder ‘n PH of ‘n spoorsnyer wat vir my sê wat om te maak en wanneer. Nie omdat ek hardegat is nie, maar net omdat ek my vernuf teenoor syne wil toets.

Advertisement

Ek was ook reg daarmee as hy sou wen. Op ‘n manier het ek geweet dit sal nie sommer gebeur nie, want watter jagplaas sal nou ‘n vreemdeling alleen op sy plaas loslaat. Die aanloop van my 2021 jagseisoen begin al vroeg in Februarie met ‘n Facebook advertensie wat ek sien van ‘n baie billike springbokjag in die Middelburg Oos-Kaap omgewing. Ons is reeds ‘n groep van vyf vriende wat besluit het op ‘n jag vir die jaar, maar het nog nie besluit op ‘n plek nie. Ek vra onmiddelik meer inligting aan en teen laat middag is ons jag geboek vir vroeg Mei. Ek het gesien op die lys van wild wat gejag kan word is daar ook Koedoes, maar die plaasbaas lig ons in dat sy plaas nie met wildheining omhein is nie en dat die koedoes dus maar kom en gaan. Tog boek ons vir die groep ook vyf koedoes saam met die springbokke. Ons reël met die eienaar dat ons soggens elk saam met ‘n plaaswerker te voet gaan kyk vir koedoes en laat soggens tot laat middag gaan springbok skiet.

Ek is baie opgewonde. My vrou kan skaars met my huishou en dit is nou maar eers Februarie. Ek begin dadelik bietjie kyk na punte en ladings vir my .270 en besluit op 150gr Sierra GameKings. Saans na werk vat ek my geweer en gaan stap in die koppies agter my huis rond vir oefening (ek is bevoorreg om op n Bolandse plaas te bly met baie koppies en veld). Gou besef ek dat die paar veldskoene wat ek dra dit nie gaan maak in daai OosKaap se berge nie en ek skaf vir my ‘n paar ordentlike stapkoene aan. Saterdae spandeer ek op die skietbaan en oefen om van alle moontlike posisies af te skiet. Saans in my drome sien ek my eerste koedoe jag. Gelukkig loop die maande vinnig en Mei-maand breek aan. Ons vertrek vroeg die Sondagoggend van Robertson en vat die N1 Hanover toe. Ons kom veilig die Sondagmiddag by ons bestemming aan en begin afpak en maak ons tuis in die pragtige ou plaashuis omring deur geel en oranje populierbome. Om die storie kort te hou gaan ek maar net sê dat die soggens se koedoe jag nie eintlik die Maandag en Dinsdag plaasgevind het nie. Ons het wel teen Dinsdagaand ons getal springbokke gehad. Ons spreek toe af dat ons Woensdag, wat ons laaste jagdag was, gaan probeer vir ‘n koedoe. Die eienaar kon seker sien dat ek nie iemand is wat roekelose skote sal skiet nie en dat ek wel vir hom sal sê indien ek ‘n bok kwes, want net daar begin my droom gestalte kry. Hy stel voor dat omdat hy weet ek nie graag van n bakkie af wil skiet nie ek

sommer die volgende oggend op my eie van die huis af moet stap al met die droë rivierbedding langs terwyl hy met die ander manne ‘n draai met die bakkie gaan ry. Daai aand sukkel ek om te slaap en verskillende prentjies speel in my kop af. Party goed, ander sleg. Ek is wakker voor my wekker en begin my goed bymekaar kry. Die res van die huis slaap nog toe ek die deur agter my toe trek. Ek is half bewerig opgewonde en en ek stel vir myself ‘n paar reëls op. Geen kopskote, geen skoot verder as 250 meter nie en geen skoot in die hardloop nie behalwe as hy gekwes is. Ek het ook besluit dat dit nie saak maak of dit ‘n koei of ‘n bul is nie, alhoewel ‘n bul eerste prys sal wees. Ek sê ‘n vinnige gebed op en stap met die paaidjie om die huis wat afloop na die rivier toe. Ek stap deur die mooiste Populierbos en voor my gaan die paaidjie deur die droeë rivier. ‘n Beweging vang my oog en ek sak op my hurke neer. Skaars 50m van my af staan ‘n koedoe-koei besig om aan ‘n boom te vreet. Ek bekyk haar deur my teleskoop maar besluit dat dit darem te maklik is. Ek is nog nie eens vyf minute weg van die huis nie. Ek kruip saggies verby sodat sy nou nie almal van my teenwoordigheid sal in kennis stel nie. Ek bly op die tweespoorpad en gewaar nog ‘n hele paar koeie met kalwers, of sal ek eerder sê hulle gewaar my, want ek hoor net die geblaf en takke wat breek en dan die koppe van die bokke soos hulle weer in die digte rivierloop verdwyn. Net om vir julle die terrein te beskryf, links van my is die oewer van die rivier toegegroei met groot bosse en doringbome. Regs van my is ‘n plat grasvlakte met ‘n berg wat so 500m verder begin. Die son was nog nie uit agter die berg nie, so die hele hang en ‘n gedeelte van die vlakte was nog in skaduwee terwyl die son se strale al die rivierloop bereik het. Ek besef ek sal my strategie moet verander en besluit om van die pad af te kom en eerder tussen die digte bosse van die rivierloop se kant af te beweeg en om gereeld stil te gaan sit en die wêreld voor my met die vêrkyker te bespied. So gesê so gedaan en ek klim deur die draad wat die rivier afspan en loop stadig en saggies van bos tot bos terwyl ek gereeld deur die vêrkyker kyk. Dit is doodstil en ek gewaar geen beweging nie en begin effens spyt voel dat ek nie tog maar die koei in die rivierloop geskiet het nie. Terwyl ek die rivier voor my bespied besluit ek om so bietjie die vlakte en die hang van die berg ook te bekyk. Teen die voet van die berg sien ek ‘n groot donker lyf staan. Die kop kan ek nie sien nie. Dit is half agter ‘n groot bos. Ek besluit daar en dan dat dit die koedoe gaan wees waaraan ek my aandag nou gaan gee, maak nie saak of dit ‘n koei is nie. Die bok is ongeveer 800m van my af, maar daar is gelukkig baie bosse tussen ons tot waar die grasvlakte begin. Stadig begin ek weer terugstap na die tweespoorpad se kant toe ek klim weer deur die draad en nou is ek in die vlakte met net nog een bos tussen my en die bok. Ek gaan sit agter die laaste bos en “range” die afstand tot by die bok. Dit is 380m. Teen die tyd kon ek darem al sien dat dit ‘n koei is maar die besluit is klaar geneem. Die enigste problem is daar lê 380m se plat veld voor my met net gras en bossies so hoog soos my enkel. Dis nie al nie. 30m voor my is ‘n trop tarentale besig om te wei en mekaar rond te jaag en regs van my is ‘n troppie skape wat al klaar agterdogtig is. Wel ek het gesê dat ek my vernuf wil toets en hier is die toets. Ek loer gou vining op my horlosie. Dit is 6:50 vm. Die koedoe is baie rustig. Ek besluit dat bekruip die enigste opsie is. Met my geweer se tweepoot uitgevou sit ek die geweer so armlengte voor my neer en kruip dan self weer nader. Af en toe moet ek plat op my maag gaan lê as die tarentale te naby kom. Op een stadium was die tarentale so naby aan my dat ek die voorstes

Die rooi pyl is die laaste bos waaragter ek kon skuil en die blou sirkel is waar die koedoes op daai stadium was

met klein klippies gegooi het om hulle net van rigting te laat verander. Ek vorder maar stadig en fokus nie heeltyd op die bok nie. Toe ek weer ‘n slag opkyk is die bok weg. Terwyl ek op my maag lê neem ek die vêrkyker om die bok te soek. Na ‘n paar sekondes kom stap ‘n koei agter die bos uit gevolg deur nog een en begin aan die bos langsaan vreet. Die afstand is nou ateeds 340m, so nog steeds te vêr om te skiet. Ek lê nog so en die twee koeie en bekyk toe daar skielik van agter dieselfde bos waaraan die koeie vreet ‘n bul uitstap. My hart het vir ‘n paar sekondes gaan stilstaan en ek kon nie glo wat ek sien nie. Terwyl ek nog so lê begin die twee koeie wegstap van die bul af in die rigting van die rivier. Hulle kom nou so half skuins in my rigting gestap. Die bul is egter besig om hoër teen die voet van die berg op te wei. Ek dink die tarentale se gefladder moes die koeie se aandag getrek het want hulle gaan staan plank dwars doodstil in die middel van die vlakte. Die afstand 250m. Ek besluit ek gaan my geluk met die bul probeer. As hy wegkom sal ek daarmee tevrede moet wees. Die twee koeie staan vir omtrent tien minute net so doodstil en ek kan nie roer nie want hulle kyk reg in my rigting. Uiteindelik begin hulle weer aanstap na die rivier en verdwyn tussen die bosse. Die bul het intussen nou al oor die draad wat die berg afkamp gepring en staan nou met sy boude na my toe in ‘n klein klofie. Dit is die kans waarvoor ek gewag het. Ek staan stadig op en stap gebukkend maar vinnig na die voet van die berg. Die tarentale se verbassing was groot toe ek opstaan en hulle vlieg met ‘n groot lawaai op net om ‘n paar meter verder weer te gaan sit. My plan is om so gou as moontlik teen die berg op te kom om te kyk of ek nie bo die bul kan kom nie. Waar ek die berg begin uitstap kan nie ek of hy mekaar sien nie en daar is gelukkig ook geen wind nie. Ek stap vinnig teen die berg op tot bo-op ‘n rotswand. Aan die bokant van die rotswand is ‘n wildspaaidjie. Ek volg die paadjie in die rigting van die klofie waar ek die bul laas gesien het. Ek is nou bo die klofie en gaan sit met my rug teen ‘n rots en bespied die kloof met die vêrkyker. Dit is doodstil en ek sien geen beweging nie. In die verte sien ek die bakkie op die grondpad wat nou seker die ander manne gaan optel vir hulle jag. Ek vertoef ‘n lang tyd daar maar besef dat hy alreeds uit die kloof is en dalk ook al om die punt van die berg is om seker aan die agterkant van die berg vir die dag te gaan skuil. Die tyd is nou 8:45. Ek stap verder met die wildspaaidjie terwyl ‘n brandwag bobbejaan my van bo af koggel. Die punt van die berg maak ‘n plato so halfpad op teen die berg. As jy daar staan kan jy die oostelike en westelike hange van die berg sien. Die oostelike hang veskil heeltemal van die westelike hang. Hier is groot rotse met bosse en erosie slote. Toe ek om die punt van die berg kom is daar ‘n ligte windjie wat in my gesig waai en dit gee my toe weer ‘n bietjie hoop. Ek skrik my boeglam toe ‘n rooiribbokram skaars 50m van my af fluit en saam met sy drie ooitjies teen die berg op hardloop. Terwyl ek hulle deur die vêrkyker bekyk dink ek by by myself as die bul nou nog nie van my geweet het nie dan weet hy nou. Ek besluit om nog een keer met die vêrkyker die veld onder my deur te kyk en dan maar die aftog te blaas en weer met die rivier langs terug te stap huis toe. Miskien kry ek weer ‘n kans daar. ‘n Weerkaatsing in ‘n bos laat my weer terugdraai, maar ek sien niks. Tog hou ek die vêrkyker ‘n paar sekondes langer gefokus op die bos en waaragtig daar stap die bul agter die bos uit. Vir ‘n tweede keer die dag gaan staan my hart vir ‘n paar sekondes. Net so vinnig as wat ek hom gesien het verdwyn hy weer in ‘n erosiesloot. Dit gee my gou tyd om my tweepoot oop te maak en om selfs ‘n bietjie nader te kan kom. Ek beweeg saggies en gebruik die bosse en rotse as skuiling en beweeg net as hy my nie kan sien nie of as hy weg beweeg van my. Die bul is duidelik op pad iewers heen want hy gaan staan nie stil nie, hy bly aan beweeg weg van my af, maar hy is tog ook nie bewus van my nie. Hy is oppad na die draad toe wat die berg afspan.

Anderkant die draad is ‘n vlakte wat eindig in n digte kloof waarin hy seker vir die dag wil skuil. Hy gaan staan met sy bors voor die draad reg om te spring. In die proses wat ek probeer bybly het moes hy my gehoor het, want net voor hy spring draai hy effens skuins en kyk terug in my ringting. Vandaar af het dinge vinnig begin gebeur. Ek val plat in ‘n ongemaklike sitposisie. Gelukkig was my tweepoot se bene op hul langste uitgetrek en ek lê aan. Tyd vir “range” was daar nie maar ek het geweet dis nader as 250m en my geweer was gezero op 200m. Die kruishaar is op die blad van die bok toe ek die sneller trek. Toe die skoot klap spring die bok bo-oor die draad, maar ek kon die soliede impak van die skoot hoor. Die bul hardloop agter ‘n bos in en ek haal weer oor, reg om te skiet as hy agter die bos uithardloop, maar niks gebeur nie. Net toe ek regmaak om op te staan, stap die bul om die bos. Ek kon sien hy is swaar gewond maar ek wou nie onnodig ‘n kans waag nie. Die bul staan nou met sy kop na my toe ek ek mik net links van sy borsbeen. Die skoot klap en hy spring met ‘n 180 grade draai in die lug maar toe sy bene grond vat is daar nie meer krag nie en hy sak net daar inmekaar met sy bene onder hom. Weer haal ek oor en hou die kruishaar vir nog ‘n paar sekondes op hom, maar daar is geen teken van lewe nie. Ek staan op en stap vinnig na waar die bul geval het ek klim ook deur die draad waaroor hy gespring het. Ek sit weer ‘n patroon in die loop en stap stadig nader, gereed om te skiet indien hy sou opspring, maar sy oë is reeds vaal toe ek by kom. Die adrenalien begin plek maak vir opgewondenheid en ek moet bieg ek het ‘n gil van geluk en sukses gegee. Ek neem n tydjie om net langs die dier te gaan sit met my hand op sy lyf en is in daai oomblik baie bewus van die voorreg wat ek nou so pas beleef het. Ek kyk weer op my horlosie. Dit is nou 9:55 vm. Nou begin ek kyk na waar my skote getref het. Die eerste skoot het hom op sy linker blad getref en die regterblad gebreek, maar nie ‘n uitgangswond gemaak nie. My tweede skoot het toe net links van die borsbeen getref. Wat ek nie geweet het nie is dat hy op daai stadium met sy agterlyf in n sloot gestaan het. Dus is die tweede skoot deur sy bors en so 10 cm onder sy rugstring aan die linkersy uit, maar het net ‘n klein gaatjie gemaak. Die son is redelik warm en ek weet nie hoe lank dit gaan wees voor ons die bok sal kan oplaai nie. Ek besluit om hom in die skaduwe van ‘n bos agter my in te sleep. Terwyl ek die bok dieper onder die bos probeer inkry vang my oog iets op die grond lê. Sowaar, dit is die koeël wat deur die bors en onder die rugstring uit is. Slegs die binneste lood is uit. Ek trek my baaidjie uit en gooi dit oor die bos as ‘n merk en kry vir my nog ‘n paar vaste landmerke sodat ons die bok maklik weer kan kry. Ek begin terugstap huistoe, baie opgewonde dat ek op ‘n ouderdom van 42 nog een van my drome kon verwesenlik op die presiese manier hoe ek dit altyd vir my voorgestel het. En ja ek weet dis nie die grootste bul met die langste horings nie, maar dis my eerste koedoe.

This article is from: