Kruispad #21

Page 27

LEEFSTYL

V

olgens Hebreërs 11:1 is geloof "om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." Ek het nooit besef hoe radikaal die versie in my eie geloof is nie totdat ek en my man die afgelope Desembervakansie die voorreg gehad het om na Thailand te reis. Die land het ons dadelik betower met sy pragtige mense en landskappe, maar ons was baie bly toe ons vliegtuig weer in Suid Afrika geland het. Die grootste rede daarvoor was maar om weer tussen ons eie mense te wees, veral medegelowiges. 95% van Thailand se bevolking is Boeddhiste, dit word selfs as die amptelike geloof van die land erken. Oral waar 'n mens kyk is daar tempels, Boeddha-beelde en mense wat vir die monnike aalmoese aandra. Boeddhisme is nie 'n stelsel wat gekenmerk word deur 'n geloof in en diens aan 'n bonatuurlike wese nie, dit is eerder 'n filosofie waarvolgens menslike bestaan bevorder word. Daar is geen "god" volgens die Boeddhiste nie, die klem val egter op intellektuele denke. Wat my die meeste ontstel het, was dat 95% van Thailand se bevolking ontken dat God is wie Hy sê Hy is. Hierdie besef het my met intense hartseer gevul oor al die verlore mense in die land. Die Thai mense is 'n baie vriendelike en behulpsame nasie en dus was dit baie maklik om van hulle te hou, maar die soeke na iets groter as hulleself is daagliks sigbaar in hulle rituele en gebruike. Die mense is vasgevang in 'n geloof van aalmoese aandra, wierook brand, monnike vereer en die ergste vir my persoonlik, om voor mensgemaakte beelde neer te buig. Omdat ek en my man vooraf besluit het om die land te gaan beleef vir wat dit is en nie net die toeristeaantrekkings te besoek nie, het ons verskeie van die groot en bekende tempels besoek en met die mense gesels oor hulle geloof. Ons het vooraf gebid dat die Here ons sal help om uit liefde na die mense en die land te kyk en ook dat Hy vir ons geleenthede sal gee om oor Hom te getuig. Die tempels is kunswerke en enige argitek sal hom- of haarself vergaap aan die argitektuur van die geboue en beelde. Ons aanvanklike afgryse vir die enorme goue beelde en mense wat voor hulle buig, is vinnig omgesit in intense liefde vir die mense. Ons het 'n punt gemaak om vir die mense waarmee ons in aanraking gekom het te bid, in liefde teenoor hulle op te tree en wanneer die geleentheid hom voorgedoen het ook oor ons geloof te getuig. En die Here het vir ons die geleenthede geskep. Ek het opnuut besef hoe bevoorreg ons is om die lewende God te ken en lief te hê. En ek het besef dat geloof nie vanself kom nie, maar dat dit 'n geskenk van Bo is. Om in Iemand te glo wat ons nie sien nie verg juis dié tipe geloof en daardeur leef ons ook met hoop. Hoop dat ons eendag saam met Jesus by die Vader sal wees. My gebed is dat Jesus Homself aan sy kinders sal openbaar en daarom glo ek dat selfs die mense van Thailand wat Hom nog nie ken nie tot inkeer sal kom en sal besef dat daar net één Weg, Waarheid en Lewe (Johannes 14:2) is en dit is deur geloof in Jesus!

Juanita van der Merwe (Kruispad-redaksie)

KRUISPAD | UITGAWE 21

27


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.