Tygerburger Elsiesrivier 12 Sept 2012

Page 7

Woensdag 12 September 2012

Koningin Laurika kom ‘huis toe’ MARITA MEYER

Die onbetwiste koningin van die Afrikaanse luisterliedjie, Laurika Rauch, kom einde Oktober terug “huis toe” vir ’n unieke eenmalige produksie getiteld Laurika en Vriende. TygerBurger is die mediaborg van die produksie op Saterdag 27 Oktober. Die venue, uniek in eie reg, kan nie méér gepas wees nie – die Liqui-fruit-amfiteater in die Paarl, geleë reg langs die Afrikaanse Taalmonument. Laurika, wat in die Kaap gebore is maar al dekades in Gauteng bly, sê sy sien geweldig uit na die produksie “onder die sterre en die maan” (dit gaan twee dae voor volmaan wees). Sy vertel sy het aanvanklik, toe die idee aan haar voorgelê is, nie die omvang van die produksie besef nie. “Noudat dit begin lewe kry en ek sien hoe al die elemente bymekaarkom, sien ek geweldig uit daarna: Janine Neethling, wat die program saamstel en musiekregisseur van die produksie is; die vier A-lys-musikante en die wonderlike twee sangers, Brandon October en Jak de Priester, wat saam met my sing en speel; Leon van Nierop se pragtige teks – hy gaan self ook optree as aanbieder vir die aand. “Dis ’n voorreg om deel te wees van so iets,” sê sy. Leon sal die aand nie soos gewoonlik agter die skerms wees nie, maar saam met Laurika op die verhoog as storieverteller optree. Volgens Leon was hy geweldig geëerd toe hy gevra is om die teks vir die produksie te skryf. “Ek het gespring vir die geleentheid, en hoewel ek ’n geweldige vol skryfprogram het, het ek tyd daarvoor gemaak.” Leon en Laurika het saam by die Universiteit van Stellenbosch studeer. “Sy was my senior op dramaskool en ek onthou altyd hierdie waardige, beeldskone vrou met die donker stem wat altyd uit haar pad gegaan het om vriendelik en simpatiek teenoor ’n eerstejaartjie te wees. Ek het toe gedink sy gaan ’n groot aktrise word, maar toe ek haar hoor sing (sy het kitaar gespeel in daardie dae) het dit iets in my geroer wat ek nou eers verstaan.” Volgens hom kan konsertgangers iets baie spesiaals verwag: “Laurika sal haar gewone briljante en beeldskone sang saam met Brandon en Jak lewer en ek sal hier en daar met hulle in gesprek tree op die verhoog en die teks aanbied. Dus, ’n gesellige, maar ook hoogs respekvolle siening van dit wat Laurika so spesiaal maak en haar verhouding met spesiale musiekvriende.” Om die teks saam te stel, het Leon en Laurika vir “een marathon-sessie” ontmoet, waar hulle oor hulself gesels het en oor dit wat in die lewe vir hul saakmaak. “Ek het opnuut weer na elke liedjie van Laurika geluister, die lirieke bestudeer en die DVD’s noukeurig bekyk. Ek het na aanleiding daarvan ’n skakelteks geskryf wat haar treffers en minder bekende liedjies aanmekaarskakel.” Leon sê sy gunsteling-Laurika-liedjie is Lili Marlene, “wat sy sing soos nie eers Marlene Dietrich dit kan sing nie”, en Die mense wat ek liefhet “omdat sy dit met soveel heimwee, begrip en deernis sing dat dit ver verby my hart strek.” Konsertgangers kan die aand meeste van Laurika se treffers verwag. ’n Massakoor, saamgestel uit leerlinge van verskeie Paarlse skole, sal twee van Laurika se liedjies saam met haar sing. . Kaartjies vir die konsert wissel van R110 tot R160. Dit is beskikbaar by www.cultivaria.com of by 021 872 9754. Konsertgangers word aangeraai om ten minste ’n uur voor die vertoning by die amfiteater te wees, waar ’n ware feesatmosfeer by die kos- en wynstalletjies sal heers. Onthou ook om ’n sagte kussing saam te bring. Parkering vir die konsert is beskikbaar. ’n Buspendeldiens sal konsertgangers, wat langs die hooftoegangsroete parkeer, gratis vervoer.

Nuus/News

TygerBurger Elsiesrivier Bladsy 7


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.