2 minute read

Die skoolhoofde aan die woord

Interskole Teen Ho R Landbouskool Boland

Dit is vir Hoër Landbouskool Oakdale `n voorreg om Hoër Landbouskool Boland hier op die plaas te verwelkom, nie net vir die jaarlikse interskole nie, maar ook om te deel te wees van ons 95ste verjaardagvieringe en ons Akkerfees.

Die interskole tussen Oakdale en Boland Landbou is ‘n tradisieryke en emosioneelbelaaide geleentheid waartydens die seuns van Hoër Landbouskool Oakdale en die seuns van Hoër Landbouskool Boland kompeteer vir die “bragging rights” vir die volgende jaar. Wedstryde, gewen of verloor, is dikwels jare daarna nog steeds die onderwerp van vele braaivleiskuiers en oor die jare was daar al uitslae wat nie noodwendig deur die verloorspan verwag is nie. Sterkte aan al die seuns wat die naweek gaan deelneem.

Die hele Oakdale-gemeenskap, leerders, ouers, onderwysers en oud-Oakdalers is geweldig opgewonde om die interskole teen Boland Landbou in groot getalle op die plaas by te woon. Hierdie dag is ‘n besondere dag vir vir beide skole. Dankie aan al die ouers en ondersteuners wat ook die Akkerfees kom bywoon.

Die naweek skop reeds Vrydag af met gholf, bergfietsry en die baie gewilde “Old Boys” wedstryd. Baie sterkte aan al die ou manne, wat hiervan deel gaan wees, met die stywe lywe en dalk ander pyne ná die feeswedstryd!

Mag hierdie naweek die toonbeeld van mededingende sport wees, maar ook van vriendskap en broederskap op en van die veld af. Landbouskole het ‘n geweldige verantwoordelikheid om jong manne van integriteit die wêreld in te stuur om ‘n leidende rol in voedselproduksie te speel. My wens is dat hierdie naweek juis dít sal vermag.

Baie welkom aan mnr. Kobus Hartman, personeel en al die Boland Landbou-ondersteuners hier by ons op die plaas. Ek vertrou dat u die naweek saam met ons sal geniet en met ‘n warm gevoel in die hart Saterdagmiddag huis toe sal ry.

Interskole 2023

Daar is ‘n mooi en waar gesegde: “Slegs landbou kan die land bou…”

Die afgelope Julievakansie het ek en my gesin die voorreg gehad om na die Suid-Kaap te reis om daar vakansie te hou. Wat ‘n belewenis! Ons roete het ons geneem deur pragtige landskapstonele - heldergeel Canolalande, grasgroen koring wat geil staan en plaasdamme wat tot oorlopens toe vol is.

My hart was warm! Want - dit wat ek in die SuidKaap gesien en ervaar het, was sinoniem met die Wes-Kaap vanwaar ek gereis het. Ek het weer besef, slegs landbou kan die land bou… Hoe gesonder die Suid-Kaap (Riversdal) en WesKaap (Paarl/Wellington) is, hoe gesonder is die land. Hierdie twee streke bied bakens van hoop vir Suid-Afrika!

Boland Landbouskool en Oakdale Landbouskool funksioneer in hierdie twee pragtige landboustreke. Albei is trotse skole met ryke tradisies. Albei skole werk kliphard om op alle terreine: akademie, buite-kurrikulêr, landbou en kultuurgebied, so goed as moontlik te presteer. Ons sien baie uit na die gesonde kompetisie geassosieer met Interskole tussen die twee landbouskole. Ons weet: hoe meer jou opposisie jou uitdaag, hoe beter vir jouself! Dit lig jou plafon en help jou om nuwe horisonne te verken.

Hoër Landbouskool Boland

Wanneer ons tydens die 2023 Interskole kragte meet op die rugbyveld, mag die standaard van mededinging op die hoogste vlak wees. Mag elke seun tydens sy wedstryd alles gee! Mag die uitslag vir homself sorg, en mag elke seun, afrigter en ondersteuner daarby baat. Mag elke speler sy rugbytrui op ‘n beter plek los - geken deur karakter, trots en waardigheid.

Baie dankie aan Oakdale wat gasheer speel vir die Interskole 2023. Dankie vir harde werk agter die skerms deur alle partye betrokke. Dankie aan die Riversdalgemeenskap wat ons hartlik ontvang en ons besoek aan die Suid-Kaap deel maak van ons herinneringsdagboeke.

Wanneer die eindfluitjies Saterdag op verskeie velde blaas en ons handskud - geluk aan die wenners. Aan die verloorders - wees volgende jaar sterker. Mag ons vriendskappe smee wat leeftye hou en altyd onthou ons is vennote in die landbou. Ons verteenwoordig twee eilande van uitnemendheid, wat vir seuns, asook ons gemeenskappe, hoop gee in ‘n land waar dit baie nodig is. Mag daar nog baie jare wees van hierdie pragtige tradisie van mededinging tussen Boland Landbou en Oakdale Landbou!

Vriendelike groete, Kobus Hartman - Boland Landbou