
2 minute read
Finansiële beleggings
from Concipio 2023
by semperPRG
Francois Dercksen
Het jy finansiële beleggings?
Advertisement
Oorweeg dit sterk!
Die skep van ’n finansiële plan is uiters belangrik vir enige persoon wat finansiële sukses wil beleef. Maar hoe begin mens met só ’n plan? Beleggings is ’n uitstekende beginpunt.
Beleggings het, selfs vir skoolleerders, verskeie voordele. Dit is voor die hand liggend dat jy geld kan maak uit aandele, maar die voordele is nie beperk tot wins nie. Beleggings leer leerders finansiële verantwoordelikheid. Deur moeilike besluite te maak en die resultate daarvan dop te hou, ontwikkel belangrike vaardighede wat baie nut vir die toekoms inhou. Vir leerders wat ’n toekoms in die wêreld van besigheid oorweeg, kan beleggings goeie blootstelling en ervaring bied ten opsigte van besighede, industrieë en ekonomieë. Goeie gewoontes, soos dissipline, geduld en ’n langtermyn uitkyk wat lewenslank voordelig is, word ook gevestig. Beleggings bied toegang tot kapitaalgroei met samegestelde rente, en soos Albert Einstein gesê het: “Saamgestelde rente is die agste wonder van die wêreld. As jy dit verstaan, verdien jy dit; indien nie, betaal jy dit.” Hoe vroeër jy met ’n spaarplan begin, hoe beter. Wanneer jy in die toekoms fondse vir noodsaaklikhede benodig soos ’n voertuig, universiteitsgelde of ’n huis, sal fondse in beleggings beskikbaar wees en jou help om hierdie belangrike items te kan bekostig.
Daar is verskeie maniere om jou geld te belê; ’n deposito of spaarrekening in die bank is die mees algemeen. Die bank is ’n eenvoudige en betroubare manier om jou geld teen ’n rentekoers te belê en dit bied ook ander voordele soos bankdienste. Is jy egter tevrede met die bank se relatiewe lae rentekoers? As inflasie in ag geneem word, sal die bank se rente nooit ’n werklike wins genereer nie. Dus moet ander beleggingsopsies oorweeg word om werklike kapitaalgroei te verseker. Waar begin ’n mens met jou beleggingsplan? Aandele is ’n goeie beginpunt aangesien daar ’n breë mark met diverse geleenthede is en jy enige bedrag as aanvangskapitaal kan gebruik. Alhoewel aandele die potensiaal het om groter wins as bankrentekoerse te lewer, kan dit ongelukkig ook tot groot verliese lei. Daar is dus ’n mate van risiko, maar risikovlakke wissel afhangend van die tipe aandele waarin jy belê. Sekere langtermyngroei-aandele sal ’n meer betroubare wins lewer, maar teen ’n laer persentasie groei oor tyd. Die teenoorgestelde geld vir risiko-aandele soos kriptogeldeenhede (“Crypto”) wat oornag kan verdubbel of halveer. “Crypto” is uiterse hoërisikobeleggings. Moderne aandeelhandelsplatforms, soos EasyEquities, maak dit maklik en eenvoudig genoeg dat enige iemand kan begin belê.
’n Goeie en gediversifiseerde beleggingsportefeulje is noodsaaklik vir finansiële sukses. ’n Grondige kennis van beleggingsopsies en die werking daarvan is onontbeerlik. Almal behoort ’n aandeel in die wêreld van beleggings te hê. PRG-leerders het die geleentheid om vir ’n JSE-aandelekompetisie in te skryf, maar sal dit nie ook nuttig wees om beleggingskennis deel van die basiese onderrigplan te maak nie? Sal dit nie sinvol wees om in LOR hiervan te leer nie? Wat as ons by oudleerders wat suksesvolle sakemanne geword het, leer? Die geleenthede is legio; jy moet dit net aangryp en jou eerste belegging maak.