Handleiding G12 ~ Afrikaans Huistaal: Taalkunde
Eenheid
1
EENHEID 1: ’n Nuwe begin LEERDOELWITTE Nadat jy hierdie eenheid voltooi het, moet jy die volgende kan doen:
Die luisterproses kan hersien. Die verskillende kenmerke van leestekste kan raaksien en kan onderskei. Die dialoog/onderhoud as transaksionele teks beplan en aanbied in ’n sinvolle skryfstuk. ’n Geïntegreerde taaloefening voltooi waar die fokus geplaas sal word op die gebruik en funksie van die verskillende skryftekens.
In hierdie eenheid gaan jy die luisterproses hersien. Hierdie vaardighede sal jy moet kan toepas wanneer jy ’n luisterbegrip voltooi. Daar word gekyk na die verskillende soorte leestekste wat jy tot en met graad 11 tydens begripslees behandel het. Die eenheid bevat ook ’n taalhersieningsoefening wat al die vorige taalwerk integreer, maar ook weer klem plaas op die gebruik van die verskillende skryftekens.
Wenke Die luisterproses is baie belangrik. ’n Dialoog is baie keer die makliker opsie om as langer transaksionele teks in vraestel 3 te kies. Maak seker jy ken die vereistes van hoe ’n dialoog lyk. Elke taaloefening in elke eenheid fokus op ’n spesifieke deel van taalleer. Maak seker jy doen elke deel, want dan is jy in geheel voorbereid vir die eksamen.
Les 1: Informatiewe luister Luister is sentraal in die leer van alle vakke. Deur doeltreffende informatiewe luisterstrategieë kan jy inligting insamel en dele wat pas, bymekaarsit. Die onderrig van luistervaardighede word bepaal deur die soort mondelinge teks en die luisteraar se doel. Informatiewe luister is die vaardigheid om vir spesifieke inligting te luister. Luister vir spesifieke inligting Tydens dié les gaan jy doeltreffend luister, eerder as om net te hoor, want dit is die sleutel tot enige intelligente reaksie op die wêreld rondom ons. Volg die onderstaande stappe tydens die luisterproses. Pre-luister Lees deur die vrae en bepaal die konteks waarin die luisterteks afspeel. Kyk na die spesifieke woordkeuses en hoe dit by die onderwerp pas. © Optimi
7