
11 minute read
EENHEID 2: Voorseisoen
LEERDOELWITTE
Nadat jy hierdie eenheid voltooi het, moet jy die volgende kan doen:
’n Informele bespreking kan hou oor die onnatuurlike seisoene, reënpatrone, hitte, ens., wat ons beleef. ’n Begripsleesoefening voltooi. ’n Beredenerende/argumenterende opstel skryf. ’n Geïntegreerde taaloefening voltooi wat op leestekens fokus.
Die doel van hierdie eenheid is om jou bekend te stel aan informele besprekings sodat jy leer om jou opinie op grond van feite te stel. Jy gaan ’n begripsleesoefening doen, leer hoe om ’n beredenerende opstel te beplan en te skryf, sowel as ’n taaloefening voltooi waar die fokus op leestekens is.
Les 5: Informele bespreking
Praat
Jy gaan in hierdie eenheid leer hoe om gemaklik, geredelik en akkuraat te praat. Dit is een van die belangrikste vaardighede vir jou persoonlike en professionele lewe in die toekoms. In die vorige grade het jy reeds die meeste van die basiese praattegnieke geleer, daarom word net dié tegnieke waarmee jy nog nie vertroud is nie, behandel.
Die praatproses
Tydens die praatproses moet jy die volgende praatproses- en kommunikasiestrategieë insluit: Beplanning, navorsing, organisering. Voorbereiding en aanbieding.
Beplanning, navorsing en organisering
Jy moet die vaardighede van beplanning, navorsing en organisering vir mondelinge aanbiedings deur die volgende demonstreer: Die gebruik van gepaste register, styl en toon (volgens gehoor, doel, konteks en tema). Die gebruik van toepaslike taal. Kritiese taalbewustheid demonstreer deur feite weer te gee, menings uit te spreek, denotatiewe en konnotatiewe betekenis te herken en geïmpliseerde betekenis te verduidelik. Uitdrukking gee aan waardes en houdings en bewustheid van partydigheid, stereotipering, gevoels-, oorredings- en manipulerende taal toon.
Bronne en verwysingsmateriaal soos woordeboeke en tesourusse gebruik om effektiewe en presiese woordeskat te kies en aanbiedings te lewer deur gebruik te maak van notas en rekwisiete, oudio- en/of visuele hulpmiddels en grafieke om die aanslag en akkuraatheid van aanbiedings te verhoog.
Voorbereiding en aanbieding
Jy moet mondelinge-aanbiedingsvaardighede inoefen en demonstreer deur die volgende te doen: Direk met die gehoor te praat. Na ’n wye verskeidenheid bronne verwys wat geraadpleeg is, insluitend ’n reeks feite en voorbeelde volgens die vereistes van die taak en erkenning aan die geraadpleegde bronne gee. ’n Doeltreffende inleiding gee en ’n gevolgtrekking maak, idees ontwikkel en argumente op ’n duidelike en logiese manier saamstel sodat die toespraak op die man af is en afwykings, onnodige herhaling en clichés vermy word. Organisatoriese strukture soos chronologie, onderwerp, oorsaak-gevolg, vergelykkontrasteer en probleemoplossing gebruik om in te lig en te oorreed. Korrekte intonasie en frasering gebruik. ’n Duidelike argument aanbied en dit volhou deur verskillende gepaste bewyse te kies (bv. statistiek, getuigskrifte, spesifieke gevalle) wat geloofwaardig, geldig en relevant is. Gepaste aanspreekvorme en herhalings (dames en here; ek wil beklemtoon dat ...) gebruik. Gepaste woordkeuse, taalstrukture en -konvensies gebruik. Verbale en nieverbale tegnieke (bv. toon, stemprojeksie en -modulasie, volume, tempo, frasering, oogkontak, gesigsuitdrukkings, gebare, liggaamstaal) in aanbiedings gebruik.
Informele bespreking/gesprek
Die volgende stappe moet gedoen word tydens die informele bespreking of gesprek: Inisieer en hou die gesprekke vol. Pas beurtnemingskonvensies toe. Gee vir elke persoon in die groep ’n kans om sy/haar mening te lug. Verdedig ’n standpunt met feite, sonder om aggressief of emosioneel te raak. Onderhandel altyd sodat ’n kompromie bereik kan word. Vul gapings in en moedig ander sprekers aan om ook hul opinie te gee. Deel idees en ervarings en toon begrip van konsepte.
Doen voor die tyd navorsing oor die klimaatveranderingspatrone en seisoenveranderings en onnatuurlike weerpatrone wat die wêreld tans ervaar. Jy gaan die navorsing nodig hê om jou standpunt te kan regverdig en te verdedig.
AKTIWITEIT 5
Informele besprekingspunt: Die natuur gee vir ons die eerste tekens dat die wêreld besig is om te vergaan.
Stem jy saam of nie?
(Bron: goo.gl/iGn0Hr)
Bestudeer artikels, statistieke, nuusberigte, die web, ens., om inligting rakende die onderwerp te versamel. 1. Kry ’n groep vriende/jou gesin/maats bymekaar as deel van jou besprekingsgroep. 2. Lees een van die artikels wat jy gekry het as inleiding tot julle informele bespreking. 3. As voorsitter van die besprekingsgroep moet jy leiding neem en alle lede van die groep ’n geleentheid gee om hul mening te lug. 4. Probeer om elke mening met jou navorsing te staaf of verkeerd te bewys. 5. Kyk of jul groep tot ’n aanvaarde slotsom vir alle lede kan kom. 6. Ten slotte: As jy met die stelling saamstem, moet jy kyk watter oplossings julle kan uitdink wat elke mens in die wêreld redelik maklik kan doen om te help, sodat ons saam ons wêreld kan red. 7. Plak alle navorsing in jou werkboek.
Les 6: Begripslees
Die leesproses soos uiteengesit in les 2 is van toepassing.
AKTIWITEIT 6
Lees die artikel aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
Reënvalpatrone steeds deurmekaar
LANDBOUNUUS – Geen twee jare is uit ’n klimaatsoogpunt dieselfde nie.
1. Die 2010/11-somerseisoen is gekenmerk deur uitermate swaar reën en vloede in die somerreënvalgebied terwyl die huidige seisoen byna die teenoorgestelde is wat reënval betref. Beide seisoene is egter geklassifiseer as La Niña of koeler as normale seeoppervlaktemperature in die sentrale Stille Oseaan, alhoewel 2010/11 darem ietwat sterker ontwikkel was.
2. Een van die groot sondebokke vanjaar was die kolle van warmer-as-normaal-water in die Indiese Oseaan wat verantwoordelik was vir ’n reeks tropiese siklone baie naby aan die ooskus van sentraal en suidelike Afrika.
3. Sedert die begin van Januarie 2012 was daar nie minder as 12 siklone tussen Afrika en Australië nie. Dit is egter nie ’n abnormale getal nie, maar wat abnormaal was is die feit dat nege hiervan oor Madagaskar was of in die Mosambiekkanaal inbeweeg het. Gewoonlik neig die siklonale aktiwiteite meer na die sentrale Indiese Oseaan nader aan Australië en kom slegs een of twee siklone naby genoeg aan Afrika om ernstige ontwrigting van die normale reënvalpatrone te veroorsaak.
4. Siklone is baie intense laagdrukstelsels wat vog na die kern van die sikloon konsentreer met swaar reën in hierdie gebied, maar wat die droë uitgereënde of dalende lug neersit as ’n hoogdrukstelsel. ’n Hoogdrukstelsel is ongunstig vir reën met die gevolg dat die grootste gedeelte van suidelike Afrika droë toestande ervaar het in die laaste paar maande.
5. Die sikloonseisoen eindig darem gewoonlik teen Maart/April wanneer die watertemperature begin afkoel omdat die son verder noordwaarts begin beweeg met die winterseisoen. Ongelukkig beweeg tropiese vog wat die bron is van somerreënval ook weer verder noordwaarts en begin die kanse vir somerreënval dan ook afneem.
6. Hierdie situasie kan egter voordelig wees vir reënval oor die Wes-Kaap, want dit kan veroorsaak dat koue fronte weer vinniger noordwaarts kan begin beweeg soos wat die sisteme as geheel effens noordwaarts skuif.
7. Wat vir die res van die somerseisoen? Daar is steeds twee moontlikhede naamlik dat die effek van die siklone vinnig verswak en dat daar nog genoeg van die somerreënval seisoen oor is om goeie somerreënval voor die winter te gee. Intussen het die huidige La Niña-verskynsel begin verswak en is nou baie naby aan neutraal. Indien hierdie verwarmingseffek sterk genoeg is, kan dit veroorsaak dat reënval vroeg kan ophou en dat die winter vinnig kan begin.
8. Daar is egter een of twee tekens wat aandui dat die kanse vir reën nog steeds goed is in die volgende maande voor die winter: Die vloede in suidoos Australië gedurende die eerste week of twee van Maart, die droogte in gedeeltes van Suid-Amerika en Rusland asook die baie reën wat Namibië gekry het. Hierdie is nog tipiese tekens dat die La Niña-verskynsel se invloed nog nie verstreke is nie en indien die effek van tropiese laagdrukstelsels en siklone oor die Indiese Oseaan begin afneem, daar nog somerreënval kan voorkom.
9. Intussen het landboutoestande oor die grootste gedeelte van die somerreënvalgebied baie verswak. Die somergraanoes en veral die mielie- en sojaboonoes kry groot droogteskade en die kanse is goed dat daar vanjaar nie surplus somergrane geproduseer gaan word nie.
10. Weidingstoestande is ook swak en met die kuddebouproses van die afgelope paar seisoene kan die beskikbare weiding teenoor die aantal vee oor groot gedeeltes van die land buite verhouding wees. Dit kan ernstige probleme skep as grootskaalse bemarking van vee moet geskied wanneer die voedings- en weidingsbronne uitgeput is, wat die prys van lewende hawe kan laat daal. Met die min mielies gaan die prys van voer vanjaar baie duur wees en boere moet dit in gedagte hou.
(Artikel deur Johan van den Berg, Bestuurder: Gespesialiseerde Oesversekering/Santam Landbou, Bloemfontein)
1. Paragraaf 1 maak die aanname dat die “huidige seisoen” die teenoorgestelde as die vorige is. Hoe sal die huidige seisoen se weer lyk? 2. Wat kan afgelei word van die betekenis van die woord “La Niña” in paragraaf 1, as in ag geneem word dat “albei as ’n La Niña geklassifiseer is”? 3. Word die uitdrukking “sondebokke” in paragraaf 2 as denotatief of konnotatief bedoel? Motiveer jou antwoord. 4. Is die volgende stellings feite of bewerings? Motiveer jou antwoord. 4.1 Daar was in Januarie 2012 net 12 siklone in Afrika en Australië. 4.2 Die nege siklone in Madagaskar was normaal. 5. Verduidelik na aanleiding van paragraaf 4 wat jy onder “sikloon” verstaan. 6. Wat is die gevolg van hoogdrukstelsels?
7. Wat is die hoofoorsaak dat die sikloonseisoen in Maart/April eindig? 8. Wat gaan die hoofoorsaak wees, volgens paragraaf 7, dat die winter vinnig begin? 9. Noem die twee tekens vir goeie reën. 10. Landboutoestande het verswak. Skryf in jou eie woorde wat die gevolg van die swak landboutoestande, volgens paragraaf 9, gaan wees. 11. Wat beteken die woord “weidingstoestande” in paragraaf 10? 12. Verklaar die oorsaak en gevolg van die weidingsprobleme op lewende hawe. Stel dit in jou eie woorde. 13. Boere moet kan beplan. As die prys van mielies duur is, wat is volgens jou die gevolge op die koper? 14. Bewys uit die teks dat die skrywer se opinie wel as belangrik beskou kan word.
Les 7: Beredenerende opstel
Die skryfproses soos uiteengesit in les 3 moet hersien word.
Argumenterende/beredenerende opstel
Argumenterende opstelle stel ’n argument vir óf teen iets (“Waarom vroue beter bestuurders as mans is”). Beredenerende opstelle gee argumente vir én teen iets en die skrywer se standpunt word gewoonlik in die slot gestel (“Is vrouens beter bestuurders as mans? Ja en nee, maar my standpunt is ja”). Argumenterende opstelle bevat subjektiewe redenering; die verdediging of aanval van ’n saak word enduit volgehou; dit is eensydig; die slot stel die skrywer se standpunt duidelik. Beredenerende opstelle is meer gebalanseerd; dit bevat beide kante van ’n argument; die struktuur word deeglik en versigtig beplan; dis hoofsaaklik objektief, maar die skrywer kan ook persoonlik raak; dit bevat goed gemotiveerde en ondersteunende stellings; die slot gee ’n sterk aanduiding van die skrywer se mening.
AKTIWITEIT 7
Kies EEN van die onderstaande onderwerpe en hanteer die volledige skryfproses deur óf ’n argumenterende óf ’n beredenerende opstel van 400 – 450 woorde oor een van die onderstaande onderwerpe te skryf.
1. Elke mens het ook sy seisoene. 2. Die mens verwoes sy eie wêreld. 3. Om groen te leef, kan nie die tyd terugdraai nie. 4. Dit is my ouers se skuld …
Les 8: Taalleer: Leestekens
Leestekens word gebruik om lees te vergemaklik.
Punt (.)
Die punt word gebruik: 1. Aan die einde van ’n sin/stelling. 2. By afkortings, bv. a.g.v.
Komma (,)
Die komma word gebruik: 1. In reekse en lyste, bv. Die motor is vinnig, rooi, nuut en lig op brandstof. 2. Voor en na parentese/ekstra inligting, bv. Mnr. Swart, die skoolhoof, is siek. 3. Na ’n aanspreekvorm, bv. Piet, sal jy asseblief …? 4. Tussen twee gesegdes/werkwoorde, bv. Wat sy sing, ken ek nie. 5. Voor voegwoorde want, maar, mits, al, gevolglik, bv. Ek hou hiervan, want … (Let wel: Geen komma voor “omdat” nie, tensy dit ’n lang sin is. Geen komma voor “en” nie – daar is wel uitsonderings.)
Kommapunt (;)
1. Dit skei twee gedagtes binne ’n sin. 2. Dit word gebruik tussen ’n reeks neweskikkende hoofsinne of bysinne, bv. Daar is fout met die internet; die tegnikus sal dit kom herstel.
Dubbelpunt (:)
Die dubbelpunt word gebruik: 1. Voor ’n verduideliking, bv. Bespaar water: moenie die kraan laat loop terwyl jy tande borsel nie. 2. Voor ’n lys van artikels, bv. Hy bestel die volgende: wors, lamsvleis en kaas. 3. By die direkte rede, bv. Esra sê: “Ek is baie …”
Vraagteken (?)
Die vraagteken word aan die einde van ’n direkte vraag gebruik: Wat is jou naam? Daar is drie soorte vraagsinne: 1. Algemene vraagsin, waarop die antwoord altyd “ja” of “nee” is. 2. Spesifieke vraagsin, wat ’n spesifieke antwoord vereis, bv. “Wat eet die kat?” 3. Retoriese vrae kry ook vraagtekens, al word ’n antwoord nie verwag nie.
Uitroepteken (!)
Die uitroepteken word gebruik om ’n uitroep van ontsteltenis, dringendheid, versoeke, bevele, opgewondenheid, blydskap en waarskuwings aan te dui, bv. Eina!
Aandagstreep (–) (langer as ’n koppelteken)
Die aandagstreep word gebruik om: 1. Aandag te vestig op dit wat volg, bv. Ek het ure gestudeer en al wat ek kry is –mooi so! 2. Om parentese (inlassin) aan te dui, bv. Die man – mooi en jonk – dra swart skoene.
Asterisk (*)
Die sterretjie (*) verwys na ’n aantekening wat elders in die stuk is. Dit kan ook op ’n skeiding dui. Drie sterretjies aan die einde van ’n leesstuk kan aandui dat tyd verloop het of dat ’n gedagtesprong plaasgevind het.
Hakies en parentese ()
Die hakies rondom ’n frase/woord beteken dit is ekstra inligting, bv.: Piet sal Donderdag (oor twee dae) in Suid-Afrika land. Kommas of aandagstrepe kan ook gebruik word: Piet sal Donderdag, oor twee dae, in Suid-Afrika land. Piet sal Donderdag – oor twee dae – in Suid-Afrika land.
Doen navorsing en kyk watter uitsonderings daar op elke reël is. Die uitsonderings is baie keer juis die woorde waarmee jy sukkel tydens skryfwerk en spelling! Indien moontlik, kry ’n Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) en/of Skryf Afrikaans van A tot Z (Dalene Müller) in die hande.