Fasiliteerdersgids G12 ~ Afrikaans Huistaal: Taalkunde
Eenheid
2
EENHEID 2: Voorseisoen LEERDOELWITTE
Nadat die kandidate hierdie eenheid voltooi het, moet hulle die volgende kan doen: ’n Informele bespreking hou oor die onnatuurlike seisoene, reënpatrone, hitte, ens., wat ons beleef. ’n Begripsleesoefening voltooi. ’n Beredenerende/argumenterende opstel skryf. ’n Geïntegreerde taaloefening voltooi wat op leestekens fokus.
Die doel van hierdie eenheid is om die kandidate bekend te stel aan informele besprekings sodat hulle leer om ’n mening op grond van feite te stel. Die kandidate gaan ’n begripsleesoefening doen, leer hoe om ’n beredenerende opstel te beplan en te skryf, sowel as ’n taaloefening voltooi waar die fokus op leestekens is.
Les 5: Informele bespreking Praat Kandidate gaan in hierdie eenheid leer hoe om gemaklik, geredelik en akkuraat te praat. Dit is een van die belangrikste vaardighede vir hul persoonlike en professionele lewe in die toekoms. In die vorige grade het hulle reeds die meeste van die basiese praattegnieke geleer, daarom word net dié tegnieke waarmee kandidate nog nie vertroud is nie, behandel. Die praatproses Tydens die praatproses moet jy die volgende praatproses- en kommunikasiestrategieë insluit: Beplanning, navorsing, organisering. Voorbereiding en aanbieding. Beplanning, navorsing en organisering Jy moet die vaardighede van beplanning, navorsing en organisering vir mondelinge aanbiedings deur die volgende demonstreer: Die gebruik van gepaste register, styl en toon (volgens gehoor, doel, konteks en tema). Die gebruik van toepaslike taal. Kritiese taalbewustheid demonstreer deur feite weer te gee, menings uit te spreek, denotatiewe en konnotatiewe betekenis te herken en geïmpliseerde betekenis te verduidelik. Uitdrukking gee aan waardes en houdings en bewustheid van partydigheid, stereotipering, gevoels-, oorredings- en manipulerende taal toon.
© Optimi
23