
12 minute read
EENHEID 1: ’n Nuwe begin
LEERDOELWITTE
Nadat die kandidate hierdie eenheid voltooi het, moet hulle die volgende kan doen:
Die luisterproses hersien. Die verskillende kenmerke van leestekste raaksien en kan onderskei. Die dialoog/onderhoud as transaksionele teks beplan en aanbied in ’n sinvolle skryfstuk. ’n Geïntegreerde taaloefening voltooi waar die fokus geplaas sal word op die gebruik en funksie van die verskillende skryftekens.
In hierdie eenheid word die luisterproses hersien. Die kandidate moet hierdie vaardighede kan toepas wanneer ’n luisterbegrip voltooi word. Daar word gekyk na die verskillende soorte leestekste wat tot en met graad 11 tydens begripslees behandel is. Die eenheid bevat ook ’n taalhersieningsoefening wat al die vorige taalwerk integreer, maar ook weer klem plaas op die gebruik van die verskillende skryftekens.
Wenke
Die luisterproses is baie belangrik. ’n Dialoog is baie keer die makliker opsie om as langer transaksionele teks in vraestel 3 te kies. Maak seker die kandidaat ken die vereistes van hoe ’n dialoog lyk. Elke taaloefening in elke eenheid fokus op ’n spesifieke deel van taalleer. Maak seker die kandidaat doen elke deel, want dan is hy/sy in geheel voorbereid vir die eksamen.
Les 1: Informatiewe luister
Luister is sentraal in die leer van alle vakke. Deur doeltreffende informatiewe luisterstrategieë kan jy inligting insamel en dele wat pas, bymekaarsit.
Die onderrig van luistervaardighede word bepaal deur die soort mondelinge teks en die luisteraar se doel. Informatiewe luister is die vaardigheid om vir spesifieke inligting te luister.
Luister vir spesifieke inligting
Tydens dié les gaan jy doeltreffend luister, eerder as om net te hoor, want dit is die sleutel tot enige intelligente reaksie op die wêreld rondom ons. Volg die onderstaande stappe tydens die luisterproses.
Pre-luister
Lees deur die vrae en bepaal die konteks waarin die luisterteks afspeel. Kyk na die spesifieke woordkeuses en hoe dit by die onderwerp pas. Voorspel waaroor die inhoud gaan handel. Aktiveer bestaande kennis oor die onderwerp. Bestudeer die vrae in detail en maak seker jy verstaan wat by elke vraag gevra word, sodat jy weet waarna om te luister. Bepaal die luisterdoel: om inligting te versamel. Watter inligting wil die spesifieke luisterteks weergee?
Tydens luister
Luister aandagtig terwyl die leesstuk die eerste keer voorgelees word. Terwyl daar gelees word, ontleed die: o Boodskap- EN o Spreker o Spreker se bewyse, argumente en emosionele trant. Skryf notas in potlood neer by die verskillende vrae wat moontlik tot die antwoord kan lei. Maak afleidings en bevestig voorspellings. Besin oor die inligting in die leesstuk en evalueer jou moontlike antwoorde en moontlike probleme.
Post-luister
Beantwoord die vrae.
AKTIWITEIT 1
Lees 'n teks uit ’n tydskrif aan die kandidate voor. Die kandidate moet soveel inligting as moontlik herhaal nadat dit gelees is. Jy kan vrae aan die kandidaat vra om insig te toets.
Les 2: Begripslees
Hierdie les handel oor die leesproses en -strategieë wat gebruik word om literêre en nieliterêre tekste te verstaan en te waardeer.
Die leesproses
Die volgende drie leesaktiwiteite help jou om die struktuur en taalkenmerke van die teks in besonderhede te ontleed.
Pre-lees stel die teks bekend. Dit aktiveer assosiasies en vorige kennis. Volg die volgende stappe tydens pre-lees: Vluglees en soeklees tekskenmerke: titels, opskrifte, subopskrifte, onderskrifte, visuele elemente en grafiese inligting, byvoorbeeld lettertipe en nommers, uitleg, ikone, illustrasies, grafieke, tabelle, kaarte, diagramme, tuimelkieslyste, sleutelwoordsoektogte, ens. Maak voorspellings deur die inligting te gebruik wat jy uit vluglees en soeklees verkry het. Hanteer belangrike woordeskat wat onbekend mag wees.
Tydens lees moet jy: ’n Begrip van die teks kry. Die betekenis van onbekende woorde en beelde uitvind. Leesbegripstrategieë gebruik om: verbintenisse te skep, begrip te verstaan, inligting in die teks te kry om vrae te kan beantwoord, afleidings te maak, hoofgedagtes te identifiseer en taalstrukture te herken.
Post-lees stel jou in staat om die teks as geheel te beskou en daarop te reageer: Beantwoord die vrae oor die teks. Evalueer, kom tot gevolgtrekkings en verwoord jou eie opinie.
Kandidate moet tussen die volgende aspekte kan onderskei.
Feit en mening: Feite word op statistiek en bewyse gebaseer terwyl menings ’n opinie van ’n saak is. Direkte en geïmpliseerde betekenis: Direkte betekenis is die direkte woorde en hul betekenis, terwyl geïmpliseerde betekenis die onderliggende betekenis is, wat die persoon eintlik wou sê. Denotasie (denotatiewe betekenis): Letterlike betekenis van woorde. Konnotasie (konnotatiewe betekenis): Figuurlike betekenis van woorde. Die rede waarom sekere inligting weggelaat is: Om spanning te bou/om juis die teendeel te wys/om kontras uit te wys/om die leser self ’n opinie te laat vorm. Manipulerende taal: Woorde wat gebruik word om ’n persoon te manipuleer om die spreker se standpunt in te sien/te aanvaar. Emosiebelaaide taal: Taal wat vol emosie is, soos “Dit breek my!” i.p.v. “Dit maak my seer.” Partydigheid: Die spreker is duidelik ten gunste van ’n spesifieke persoon/groep mense. Stereotipering: ’n Spesifieke eienskap word aan ’n hele groep mense toegeken, of hul dit verdien of nie. Afleidings maak: Die leser moet self die eintlike opinie/betekenis kan aflei.
AKTIWITEIT 2
1.1 Mening, die gebruik van die woord “Sommiges”. 1.2 Mening, die strate “wemel” van bedelaars. 2. Sy impliseer dat dit elke persoon se verskoning is/dat dit darem snaaks is dat almal glo na Worcester op pad is/dat Worcester werklik ’n interessante dorp moet wees aangesien almal soontoe gaan (sarkasties). 3. (Ironie moet altyd verduidelik word, deur gebruik te maak van die woord “maar”.) Die bedelaar vra net ’n paar sent, maar wil daarmee ’n hele gesin voed wat onmoontlik is. 4. Die persoon noem ’n presiese bedrag van R9,50 wat glo twee kaartjies sal koop, terwyl dit werklik maar ’n klein bedrag is, wat moontlik eerder ander dinge, soos drank, sal kan koop. 5. Deur die alleenplasing van die paragraaf as ’n enkelwoordparagraaf. 6. Moedeloosheid 7. Konnotatief. Die mense bly nie letterlik aan die verkeerde kant van die land nie, dit verwys net na die misdadigers in die land. 8. Luiheid om werklik seker te maak of goedgelowigheid. 9. Sy aksent is té Amerikaans en die vuil broek wat nie by ’n miljoenêr se seun pas nie. 10. Mense is te na gekom, van hul geld beroof. 11. Hy beeld homself uit as ’n karakter wat skaam kry omdat hy bedel: “die skaamte”. 12. a) Aaneenskakelend (Albei paragrawe handel oor Vlokkie.) 13. “… van jou gesig hou ek net niks nie.” (Die dubbele ontkenning kort.) 14. Mense wat heeldag rondslenter/rondloop/rondhang in die strate./Langsaam en sonder doel rondloop, op jou gemak en lui. 15. Dit word bepaal deur hoe hulle voel. 16. Hy is eerlik oor wat hy met die geld wil doen. 17. Die dame is nie ’n belangrike vrou nie, maar die woorde “mevrou” word net gebruik om haar te oortuig om geld vir die bedelaar te gee. 18. Bedelaars kan nie kieskeurig wees nie. (Enige soortgelyke antwoord) 19. Sodra die vriendin ’n bedelaar sien wat haar nader, vra sy geld voor die bedelaar haar kan vra. 20. Die skip vaar op die oop see, maar die wind is uit sy seile geneem en hy dobber maar net rond. (Enige sin waar wind in die seile letterlik bedoel word.)
Les 3: Transaksionele skryfwerk: Dialoog
Prosesskryf
Die onderrig van skryf behels ’n proses. Gedurende prosesskryf moet jy die volgende kan doen: Beplan/pre-skryf Skryf ’n konsep Hersien Redigeer Proeflees Aanbied
Beplan/pre-skryf
Besluit op die doel van die teks en die gehoor waarvoor jy gaan skryf. Bepaal die formaat, styl en standpunt van die skryfwerk. Maak ’n breinkaart, spinnekopdiagramme, lys of vloeidiagramme van al jou idees.
Skryf ’n konsep
Skryf al jou hoof- en ondersteunende idees van jou beplanning neer. Skryf ’n eerste poging en hou jou doel, gehoor, onderwerp en genre in gedagte. Lees jou eerste poging krities deur en verander waar jy dink dit is nodig. Verander van jou beskrywende woorde, frases en uitdrukkings, sodat die regte stemming geskep kan word en jou skryfstuk lewendig en interessant is.
Hersiening, redigering, proeflees en aanbieding
Verfyn nou jou woordkeuse, sin- en paragraafstrukture. Skakel dubbelsinnigheid, woordoortolligheid, sleng en beledigende taal uit. Evalueer die inhoud, styl en register van jou skryfstuk. Kyk of jou leestekengebruik, spelling en taalgebruik korrek en gepas is. Berei jou finale weergawe voor. Bied die finale teks aan vir informele assessering.
Dialoog
Twee of meer mense voer ’n gesprek met mekaar. Spreekbeurte vind plaas in die orde waarin die gesprek gevoer word en vanuit die spreker se perspektief/oogpunt. Elke spreekbeurt word op ’n volgende reël geskryf. Gebruik ’n dubbelpunt na die naam van elke spreker, maar geen aanhalingstekens nie. Ekstra inligting word tussen hakies aangedui (voordat die spreker praat), bv.: Anna (met dringendheid): ... Skets ’n scenario/situasie voordat die dialoog geskryf word.
Dialoë is ’n goeie begin vir ’n skryfprogram omdat dit gesproke Afrikaans is. Dit hoef nie net ’n gesprek tussen mense te wees nie, jy kan selfs ’n dialoog tussen twee diere of twee voorwerpe neerpen. Trek ’n vertikale lyn langs die sprekers se name en skryf dan hul woorde só dat dit netjies in ’n blokvorm aangebied word. Dit is die formaat van die dialoog.
Byvoorbeeld
Slak: Oppas! Kyk mooi waar jy met jou groot pote trap! Rooijakkals: Wie se pieperige stemmetjie is dit? Slak: Gmff. Jou lummel! As jy nog een tree met jou linkerpoot gee, trap jy my skulp stukkend. Rooijakkals: Wie se skulp? Oooo, nou sien ek jou, ou Slakkie. Slak: Uiteindelik! Jy weet seker my skulp is my woning óók. Daarsonder kan ek nie leef nie. Rooijakkals: Nou hoe kan jy met jou woning op jou rug rondloop? Slak: Jy sien, my skulp is hard en beskerm my liggaam. Rooijakkals: Hoe so? Slak: Ek kan my spiervoet en my kop in my skulp intrek. Die res van my lyf bly altyd in my skulp. Jy kan maar sê ek het ’n permanente woning op my rug. Wat van jou? Waar skuil jy? Rooijakkals: …
AKTIWITEIT 3
Kandidate kies een van die onderwerpe en beplan, skryf ’n konsep, redigeer en skryf ’n finale dialoog van 180 – 200 woorde. Assesseer na aanleiding van die rubriek vir transaksionele tekste in die bylae.
NB: Alle aspekte van beplanning tot die finale produk MOET gedoen word. In die Eindeksamen in vraestel 3, kry hul vir elkeen van die aspekte punte. Hulle moet dit dus nie afskeep nie.
Les 4: Taalleer: Skryftekens
Skryftekens
Koppelteken (-)
Redes vir die gebruik van die koppelteken: 1. Om die opeenhoping van klinkers te voorkom, bv. na-aap. 2. Om dubbelsinnigheid te vermy, bv. ru-gare (teenoor “rugare”, wat na die are in jou rug verwys). 3. By aardrykskundige name waar ’n windrigting saam met ’n plek gevoeg word, bv.
Suid-Afrika/Wes-Kaap. 4. Samestellings met eiename, bv. Naudé-huis, oud-Springbok, voor-BTW-prys. 5. Koppelings van lang samestellings, bv. woonstelblok-parkeerterrein (die koppelteken word tussen die twee begrippe geskryf). 6. Samestellings met afkortings, simbole, syfers en getalle, bv. A-span, model C-skool. 7. Herhalingsamestellings, bv. sing-sing, speel-speel. 8. Gekoppelde bepalings, bv. sieps-en-braaiboud. 9. Verbindings met -hulle, bv. ma-hulle. 10. Koppelteken as weglating van ’n woord, bv. vark- en hoenderhok, i.p.v. varkhok en hoenderhok. 11. Koppeling met die woord “en”, bv. kaas-en-wynonthaal. 12. Telwoorde, bv. tweeduisend-en-tagtig. 13. Woorde van vreemde herkoms, bv. mise-en-scène, ad hoc-komitee.
Deelteken (ë, ö, ï)
Redes vir die gebruik van die deelteken: 1. Dui ’n nuwe lettergreep aan. 2. Nie by woorde wat eindig op “ieel”, “ieer” of “ieet” nie, bv. finansieel. 3. Indien die woord verbuig word, gebruik jy wel die deelteken, bv. finansiële.
Kappie (ê, ô)
Redes vir die gebruik van die deelteken. Dui ’n lang uitgerekte vokaal aan, bv. wêreld. Die kappie verleng die vokaal, bv. affêre, brûe, sekondêr, maar nie by ster en vlermuis nie. Ver word bo vêr verkies, wat ter wille van tradisie erken word.
Klemtekens/aksenttekens
Daar word twee tekens onderskei: 1. Gravis (ˋ) Die gravis word gebruik om verwarring uit te skakel, bv. appèl en appel. Dit word ook gebruik by woorde van vreemde herkoms, bv. crèche en enkellettergrepige woorde soos nè. 2. Akuut (´) Die akuut dui beklemtoning aan, bv. géén.
Afkappingsteken (’)
Redes vir die gebruik van die afkappingsteken: 1. Die meervoud en verkleining van letters, bv. a’s en a’tjie. 2. Die meervoud en verkleining van selfstandige naamwoorde wat eindig op beklemtoonde “a”, “i”, “o” en “u”, bv. pa’s, Israeli’tjie, skadu’s. 3. Die meervoud en verkleining van persoonsname en vanne, wat eindig op die onuitgesproke letters “e” en “s”, bv. Marais’s, Cilliers’tjie. 4. Om elisie (die wegval van ’n klank) aan te dui, bv. g’n (geen), daar’s (daar is). 5. Die meervoud en verkleining van letters, getalle en syfers, bv. a’s, 11’s, 9’tjie.
Kandidate moet navorsing doen en kyk watter uitsonderings daar op elke reël is. Die uitsonderings is baie keer juis die woorde waarmee ’n mens tydens skryfwerk en spelling sukkel! Indien moontlik, kry ’n Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) en/of Skryf Afrikaans van A tot Z (Dalene Müller) in die hande.
AKTIWITEIT 4
1. Aktrises (Moet in die meervoud wees) 2. Party 3. Dit word gebruik as weglatingsteken in die plek van die woord “parkeer”. 4. Die ekstra inligting as vraag waarom almal Worcester toe gaan word ingelas. 5. Dit is ’n samestelling met ’n eienaam. 6. beeld 7. Hy benodig presies R9,50 vir die treinkaartjies. 8. Dit is ’n eienaam (naam van ’n plek). 9. Dit is ’n koppeling van ’n Aardrykskundige naam en ’n windrigting. 10. Binnelanders/inwoners 11. Emigreer (Onthou dit so: emigreer = exit, immigreer = incoming) 12. pa’s (Woorde wat eindig op beklemtoonde vokale kry ’n afkappingsteken in die meervoudsvorm. Dus sal “oupa” nie ’n ’s kry nie, want die “a” is nie beklemtoon nie – beklemtoon beteken dit is ’n lang klank.)
13. kern = plaas, bepaler = wingerd 14. onoorredende/flou/oninspirerende (Die antoniem moet weer in die sin kan pas/konteks) 15.1 Daar is ’n klein belegginkie wat hy in Amerika het. 15.2 Hy het die klein sakie by die polisie gaan aanmeld. 16. Die akuutteken want dit is vir beklemtoning. (Onthou dit as volg: ’n Hoofletter “A” se eerste strepie is na regs, dus in die rigting waarin die akuut lê. Die “v” van gravis se eerste strepie is na links, dus in die rigting waarin die gravis lê.
Akuut: é Gravis: è
17. Aksent in paragraaf 8 beklemtoon die woord “die”. 18. Dit verleng die “e”-vokaal in die woord. 19. Te skree/te skreeu/bitsig sê. 20. Samestelling met ’n getal.