
8 minute read
EENHEID 2: Voorseisoen
LEERDOELWITTE
Nadat die kandidate hierdie eenheid voltooi het, moet hulle die volgende kan doen:
’n Informele bespreking hou oor die onnatuurlike seisoene, reënpatrone, hitte, ens., wat ons beleef. ’n Begripsleesoefening voltooi. ’n Beredenerende/argumenterende opstel skryf. ’n Geïntegreerde taaloefening voltooi wat op leestekens fokus.
Die doel van hierdie eenheid is om die kandidate bekend te stel aan informele besprekings sodat hulle leer om ’n mening op grond van feite te stel. Die kandidate gaan ’n begripsleesoefening doen, leer hoe om ’n beredenerende opstel te beplan en te skryf, sowel as ’n taaloefening voltooi waar die fokus op leestekens is.
Les 5: Informele bespreking
Praat
Kandidate gaan in hierdie eenheid leer hoe om gemaklik, geredelik en akkuraat te praat. Dit is een van die belangrikste vaardighede vir hul persoonlike en professionele lewe in die toekoms. In die vorige grade het hulle reeds die meeste van die basiese praattegnieke geleer, daarom word net dié tegnieke waarmee kandidate nog nie vertroud is nie, behandel.
Die praatproses
Tydens die praatproses moet jy die volgende praatproses- en kommunikasiestrategieë insluit: Beplanning, navorsing, organisering. Voorbereiding en aanbieding.
Beplanning, navorsing en organisering
Jy moet die vaardighede van beplanning, navorsing en organisering vir mondelinge aanbiedings deur die volgende demonstreer: Die gebruik van gepaste register, styl en toon (volgens gehoor, doel, konteks en tema). Die gebruik van toepaslike taal. Kritiese taalbewustheid demonstreer deur feite weer te gee, menings uit te spreek, denotatiewe en konnotatiewe betekenis te herken en geïmpliseerde betekenis te verduidelik. Uitdrukking gee aan waardes en houdings en bewustheid van partydigheid, stereotipering, gevoels-, oorredings- en manipulerende taal toon.
Bronne en verwysingsmateriaal soos woordeboeke en tesourusse gebruik om effektiewe en presiese woordeskat te kies en aanbiedings te lewer deur gebruik te maak van notas en rekwisiete, oudio- en/of visuele hulpmiddels en grafieke om die aanslag en akkuraatheid van aanbiedings te verhoog.
Voorbereiding en aanbieding
Jy moet mondelinge-aanbiedingsvaardighede inoefen en demonstreer deur die volgende te doen: Direk met die gehoor te praat. Na ’n wye verskeidenheid bronne verwys wat geraadpleeg is, insluitend ’n reeks feite en voorbeelde volgens die vereistes van die taak en erkenning aan die geraadpleegde bronne gee. ’n Doeltreffende inleiding gee en ’n gevolgtrekking maak, idees ontwikkel en argumente op ’n duidelike en logiese manier saamstel sodat die toespraak op die man af is en afwykings, onnodige herhaling en clichés vermy word. Organisatoriese strukture soos chronologie, onderwerp, oorsaak-gevolg, vergelykkontrasteer en probleemoplossing gebruik om in te lig en te oorreed. Korrekte intonasie en frasering gebruik. ’n Duidelike argument aanbied en dit volhou deur verskillende gepaste bewyse te kies (bv. statistiek, getuigskrifte, spesifieke gevalle) wat geloofwaardig, geldig en relevant is. Gepaste aanspreekvorme en herhalings (dames en here; ek wil beklemtoon dat ...) gebruik. Gepaste woordkeuse, taalstrukture en -konvensies gebruik. Verbale en nieverbale tegnieke (bv. toon, stemprojeksie en -modulasie, volume, tempo, frasering, oogkontak, gesigsuitdrukkings, gebare, liggaamstaal) in aanbiedings gebruik.
Informele bespreking/gesprek
Die volgende stappe moet gedoen word tydens die informele bespreking of gesprek: Inisieer en hou die gesprekke vol. Pas beurtnemingskonvensies toe. Gee vir elke persoon in die groep ’n kans om sy/haar mening te lug. Verdedig ’n standpunt met feite, sonder om aggressief of emosioneel te raak. Onderhandel altyd sodat ’n kompromie bereik kan word. Vul gapings in en moedig ander sprekers aan om ook hul opinie te gee. Deel idees en ervarings en toon begrip van konsepte.
Kandidate moet voor die tyd navorsing doen oor die klimaatveranderingspatrone en seisoenveranderings en onnatuurlike weerpatrone wat die wêreld tans ervaar. Die navorsing gaan nodig wees om ’n standpunt te kan regverdig en te verdedig.
AKTIWITEIT 5
Informele besprekingspunt: Die natuur gee vir ons die eerste tekens dat die wêreld besig is om te vergaan. Stem jy saam of nie? Die kandidate moet ’n besprekingsgroep hou en die stelling bespreek. Die bespreking kan in klasverband gedoen word.
Les 6: Begripslees
Die leesproses soos uiteengesit in les 2 is van toepassing.
AKTIWITEIT 6
1. Geen reën of ligte reën en geen vloede nie. 2. Wanneer iets geklassifiseer word as ’n “La Niña” is dit wanneer daar ernstige afwykings in die weer is. 3. Konnotatief – dit is nie letterlike bokke nie, maar verwys na iemand wat die skuld vir die weer kry. 4.1 Feit – “… nie minder nie as 12 siklone …” 4.2 Bewering – opinie van persoon. Normaal of abnormaliteit is nie deur navorsing gestaaf nie. 5. ’n Intense laagdrukstelsel waar vog in die sentra van die sikloon bymekaarkom. 6. Die gevolg is droë toestande. 7. Die watertemperature begin afkoel omdat die son verder noordwaarts beweeg. 8. As die warm effek sterk genoeg is, gaan die reënval vroeg ophou en kan die winter vinnig begin. 9. Vloede in Australië, droogte in Suid-Amerika en Rusland en baie reën in Namibië. 10. Oeste kry dus droogteskade, wat daartoe kan lei, dat daar vanjaar nie ’n oorskot grane gaan wees nie. 11. Die toestand waarin die grond/gras/weiding is. 12. Oorsaak: swak weiding – Gevolg: lae pryse vir lewende hawe. 13. Die koper gaan duurder vir die produk betaal. 14. Die skrywer is die bestuurder van Santam se afdeling wat met gespesialiseerde oesversekering werk. Hy is dus ’n kenner op die gebied.
Les 7: Beredenerende opstel
Die skryfproses soos uiteengesit in les 3 moet hersien word.
Argumenterende/beredenerende opstel
Argumenterende opstelle stel ’n argument vir óf teen iets (“Waarom vroue beter bestuurders as mans is”). Beredenerende opstelle gee argumente vir én teen iets weer en die skrywer se standpunt word gewoonlik in die slot gestel (“Is vrouens beter bestuurders as mans? Ja en nee, maar my standpunt is ja”). Argumenterende opstelle bevat subjektiewe redenering; die verdediging of aanval van ’n saak word enduit volgehou; dit is eensydig; die slot stel die skrywer se standpunt duidelik. Beredenerende opstelle is meer gebalanseerd; dit bevat beide kante van ’n argument; die struktuur word deeglik en versigtig beplan; dis hoofsaaklik objektief, maar die skrywer kan ook persoonlik raak; dit bevat goed gemotiveerde en ondersteunende stellings; die slot gee ’n sterk aanduiding van die skrywer se mening.
AKTIWITEIT 7
Merk kandidaat se opstel hoofsaaklik vir taalfoute (spelling, woordeskatfoute en sinskonstruksiefoute).
Kandidate moet die beplanning en die finale poging inhandig. Alle foute moet dan ter wille van inoefening vir die Eindeksamen oorgeskryf word.
Les 8: Taalleer: Leestekens
Maak seker kandidate raak nie deurmekaar met leestekens en skryftekens nie. Leestekens help om die leser te lei wanneer hy/sy lees: moet daar gestop word of moet daar net ’n pouse ingewerk word? Vraagtekens lei die leser om aan die einde van die sin met ’n hoër intonasie (stem) te praat en ’n uitroepteken wys dat daar emosie gebruik moet word.
Leestekens word gebruik om lees te vergemaklik.
Punt (.)
Die punt word gebruik: 1. Aan die einde van ’n sin/stelling. 2. By afkortings, bv. a.g.v.
Komma (,)
Die komma word gebruik: 1. In reekse en lyste, bv. Die motor is vinnig, rooi, nuut en lig op brandstof. 2. Voor en na parentese/ekstra inligting, bv. Mnr. Swart, die skoolhoof, is siek. 3. Na ’n aanspreekvorm, bv. Piet, sal jy asseblief …? 4. Tussen twee gesegdes/werkwoorde, bv. Wat sy sing, ken ek nie. 5. Voor voegwoorde want, maar, mits, al, gevolglik, bv. Ek hou hiervan, want … (Let wel: Geen komma voor “omdat” nie, tensy dit ’n lang sin is.) Geen komma voor “en” nie – daar is wel uitsonderings.)
Kommapunt (;)
1. Dit skei twee gedagtes binne ’n sin. 2. Dit word gebruik tussen ’n reeks neweskikkende hoofsinne of bysinne, bv. Daar is fout met die internet; die tegnikus sal dit kom herstel.
Dubbelpunt (:)
Die dubbelpunt word gebruik: 1. Voor ’n verduideliking, bv. Bespaar water: moenie die kraan laat loop terwyl jy tande borsel nie. 2. Voor ’n lys van artikels, bv. Hy bestel die volgende: wors, lamsvleis en kaas. 3. By die direkte rede, bv. Esra sê: “Ek is baie …”
Vraagteken (?)
Die vraagteken word aan die einde van ’n direkte vraag gebruik: Wat is jou naam? Daar is drie soorte vraagsinne: 1. Algemene vraagsin, waarop die antwoord altyd “ja” of “nee” is. 2. Spesifieke vraagsin, wat ’n spesifieke antwoord vereis, bv. “Wat eet die kat?” 3. Retoriese vrae kry ook vraagtekens, al word ’n antwoord nie verwag nie.
Uitroepteken (!)
Die uitroepteken word gebruik om ’n uitroep van ontsteltenis, dringendheid, versoeke, bevele, opgewondenheid, blydskap en waarskuwings aan te dui, bv. Eina!
Aandagstreep (–) (langer as ’n koppelteken)
Die aandagstreep word gebruik om: 1. Aandag te vestig op dit wat volg, bv. Ek het ure gestudeer en al wat ek kry is –mooi so! 2. Om parentese (inlassin) aan te dui, bv. Die man – mooi en jonk – dra swart skoene.
Asterisk (*)
Die sterretjie (*) verwys na ’n aantekening wat elders in die stuk is. Dit kan ook op ’n skeiding dui. Drie sterretjies aan die einde van ’n leesstuk kan aandui dat tyd verloop het of dat ’n gedagtesprong plaasgevind het.
Hakies en parentese ()
Die hakies rondom ’n frase/woord beteken dit is ekstra inligting, bv.: Piet sal Donderdag (oor twee dae) in Suid-Afrika land. Kommas of aandagstrepe kan ook gebruik word: Piet sal Donderdag, oor twee dae, in Suid-Afrika land. Piet sal Donderdag – oor twee dae – in Suid-Afrika land.
Kandidate moet navorsing doen en kyk watter uitsonderings daar op elke reël is. Die uitsonderings is baie keer juis die woorde waarmee ’n mens tydens skryfwerk en spelling sukkel! Indien moontlik, kry ’n Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) en/of Skryf Afrikaans van A tot Z (Dalene Müller) in die hande.
AKTIWITEIT 8
1. Dit is ’n samestelling met ’n getal 2. “... somerreënvalgebiede, terwyl die …” 3. re-ën-val 4. Dit is ’n naam van die oseaan. 5. Dit is ’n saamgestelde bepaling/een begrip. 6. Wat was een van die groot sondebokke vanjaar vir die warmer-as-normaal-wat in die Indiese Oseaan? 7. Australiërs en Afrikane (Afrikaners verwys na Afrikaanssprekendes) 8. nie (Moenie die hele betekenis van die woord gee nie, slegs wat die premorfeem beteken) 9. Is ’n hoëdrukstelsel ongunstig vir reën? 10. Die sikloonseisoen eindig darem gewoonlik teen Maart/April, wanneer die watertemperature begin afkoel, omdat die son verder noordwaarts begin beweeg met die winterseisoen. (Dui parantese aan.)