Fasiliteerdersgids G12 ~ Afrikaans Huistaal: Taalkunde
Eenheid
1
EENHEID 1: ’n Nuwe begin LEERDOELWITTE
Nadat die kandidate hierdie eenheid voltooi het, moet hulle die volgende kan doen: Die luisterproses hersien. Die verskillende kenmerke van leestekste raaksien en kan onderskei. Die dialoog/onderhoud as transaksionele teks beplan en aanbied in ’n sinvolle skryfstuk. ’n Geïntegreerde taaloefening voltooi waar die fokus geplaas sal word op die gebruik en funksie van die verskillende skryftekens.
In hierdie eenheid word die luisterproses hersien. Die kandidate moet hierdie vaardighede kan toepas wanneer ’n luisterbegrip voltooi word. Daar word gekyk na die verskillende soorte leestekste wat tot en met graad 11 tydens begripslees behandel is. Die eenheid bevat ook ’n taalhersieningsoefening wat al die vorige taalwerk integreer, maar ook weer klem plaas op die gebruik van die verskillende skryftekens.
Wenke Die luisterproses is baie belangrik. ’n Dialoog is baie keer die makliker opsie om as langer transaksionele teks in vraestel 3 te kies. Maak seker die kandidaat ken die vereistes van hoe ’n dialoog lyk. Elke taaloefening in elke eenheid fokus op ’n spesifieke deel van taalleer. Maak seker die kandidaat doen elke deel, want dan is hy/sy in geheel voorbereid vir die eksamen.
Les 1: Informatiewe luister Luister is sentraal in die leer van alle vakke. Deur doeltreffende informatiewe luisterstrategieë kan jy inligting insamel en dele wat pas, bymekaarsit. Die onderrig van luistervaardighede word bepaal deur die soort mondelinge teks en die luisteraar se doel. Informatiewe luister is die vaardigheid om vir spesifieke inligting te luister. Luister vir spesifieke inligting Tydens dié les gaan jy doeltreffend luister, eerder as om net te hoor, want dit is die sleutel tot enige intelligente reaksie op die wêreld rondom ons. Volg die onderstaande stappe tydens die luisterproses.
© Optimi
14