5 minute read

LES 1.1.2: Eiewaarde

Hoe om selfbewustheid te verbeter 1. Kyk objektief na jouself

Probeer om objektief na jouself te kyk, op ’n wyse wat nie deur persoonlike gevoelens of menings beïnvloed word nie, sodat jy kan leer hoe om jouself te aanvaar en wyses te vind om in die toekoms van jou eienskappe te verbeter.

2. Hou ’n joernaal

Neem tyd om oor jou gedagtes en gevoelens, jou suksesse en mislukkings van die dag te skryf. Hierdie selfrefleksie sal jou help om te groei en vooruit te beweeg om jou doelwitte te bereik. Terwyl jy nadink, probeer ook dink aan die moontlike invloed wat jou emosies en optrede op ander mense kan hê.

3. Skryf jou doelwitte en prioriteite neer

• Wat is jou doelwitte? • Hoe moet jy prioritiseer om hierdie doelwitte te bereik? • Wat doen jy wat nie werk nie en wat keer dat jy sukses behaal? • Wat moet verander sodat die suksessyfer van doelbereiking verbeter?

Sielkunde gebruik die begrip eiewaarde om ’n persoon se algehele gevoel van selfwaarde of persoonlike waarde te beskryf. Met ander woorde, hoeveel ’n persoon hulself waardeer en van hulself hou. Dit behels ’n verskeidenheid oortuigings oor jouself, soos die evaluering van jou eie voorkoms.

Ons weet almal dat eiewaarde saam met selfrespek ’n belangrike deel van sukses is. ’n Swak eiewaarde kan iemand verslaan of depressief laat voel. Dit kan ook daartoe lei dat jy slegte keuses maak, in destruktiewe verhoudings vasval of nie jou volle potensiaal bereik nie.

Daarteenoor, ’n opgeblase (dikwels bedrieglike) gevoel van selfbelangrikheid kan afsittend wees vir ander en kan selfs persoonlike verhoudings beskadig. Eiewaardevlakke aan die uiterste hoë of lae punte van die spektrum kan skadelik wees, dus word ’n realistiese tog positiewe sienswyse van jouself as die ideaal beskou. (Cherry, 2019)

Handleiding

G10 ~ Lewensoriëntering

Eenheid 1

Kenmerke van ’n gesonde eiewaarde Kenmerke van ’n swak eiewaarde

• ’n Realistiese siening van jou eie potensiaal en die van ander. • ’n Realistiese gevoel van selfvertroue. • Verwoord maklik behoeftes. • Bewus van sterk punte en swakhede, en aanvaar dit. • ’n Positiewe uitkyk op die lewe. • Aanvaar mislukking as deel van die lewe. • Oorkom negatiewe ervarings. • Aanvaar komplimente vriendelik. • Kan sonder moeite “nee” sê. • Die oortuiging dat ander beter as jy is. • Sukkel met selfvertroue. • Sukkel om behoeftes te verwoord. • Fokus net op swakhede. • ’n Algemeen negatiewe uitkyk op die lewe. • ’n Geweldige vrees vir mislukking. • Staan stil op vorige negatiewe ervarings. • Ervaar dikwels skaamte, depressie en angs. • Sukkel om komplimente te aanvaar. • Vind dit baie moeilik om “nee” te sê.

Sosiale media se invloed op eiewaarde

Baie faktore beïnvloed eiewaarde, byvoorbeeld jou eie denkprosesse, ouderdom, siektes, gestremdhede of sommige emosionele en liggaamlike beperkings. Daar is ook eksterne stimuli wat ’n invloed kan hê, byvoorbeeld kritiese of negatiewe terugvoer of reaksies van familie en vriende, en natuurlik, die media.

Sosiale media het dit geweldig maklik gemaak om met enigiemand in die wêreld kontak te maak. Sosiale media soos Twitter, Facebook, TikTok, Snapchat, Instagram en aanlynspeletjiegemeenskappe laat ons toe om kontak en interaksie te hê met wie ook al ons wil. Ons moet onsself vra of sosiale media meer skade as goed doen.

Hou in gedagte dat die media hoogs informatief kan wees oor wat in die wêreld gebeur en laat ook toe dat ons met vriende en belangegroepe kontak kan hê. Kom ons kyk na van die hoofbekommernisse betreffende sosiale media se invloed op eiewaarde:

Vergelyking met sosiale media

Baie leerders vergelyk hulself met wat hulle op Facebook lees en sien – hoe mense lyk, die klerestyl, liefdeslewe en sosiale kalender. Hoe meer jy jouself met hierdie virtuele leefstyl vergelyk, hoe meer sal jy voel dat jou lewe onvoldoende is en jy sal onnodiglik sleg van jouself begin dink omdat jy nie sulke ongelooflike vakansies ervaar, pragtige klere het of ’n vol sosiale kalender het nie. Jy sal wens jy leef iemand anders se lewe. “As my lewe maar net so opwindend soos George s’n was...”

Gevoel van samehorigheid

Dit is ’n basiese behoefte vir alle mense om iewers te behoort en om vriende te hê. Hierdie gevoel van samehorigheid mag toeneem of afneem na gelang van hoe gereeld jy sosiale media gebruik. Baie vriende en volgelinge op sosiale media sal dalk ’n groter gevoel van samehorigheid gee.

Iemand wat nie baie volgelinge op sosiale media het nie, kan begin dink dat daar iets met hulle verkeerd is. Die meeste tieners meet hul gevoel van samehorigheid aan die aantal likes of opmerkings wat hulle ontvang. Hulle mag soms ’n hele dag lank angstig wag vir ’n like op iets wat hulle gepos het. Die akronieme FOMO (Fear of Missing Out) en FOBLO (Fear of Being Left Out) word dikwels gebruik om hierdie situasie te beskryf. (Gallagher, 2017)

Ongelukkig kan reaksies op sosiale media ook ’n negatiewe reaksie hê as gevolg van ongewenste reaksies (op foto’s byvoorbeeld) en afkrakende opmerkings. Kuberafknouery sal eiewaarde en selfvertroue negatief beïnvloed. Tieners is veral in gevaar omdat hul selfbeeld afhanklik van hul ouderdomsgroep is en sterk deur groepsinvloed gekenmerk word. (Gallagher, 2017)

Kuberafknouery is uiters gevaarlik omdat dit maklik vir die boelie is om ’n opmerking te plaas. ’n Persoon kan honderde kilometer weg wees en steeds ’n soort afknouery bewerkstellig. Tieners kan nie kuberafknouery ontsnap deur by die huis te bly en hulself te isoleer nie.

VIR DIE NUUSKIERIGE Lees die artikel oor die gemiddelde tyd per dag wat wêreldwyd op sosiale media spandeer word by bit.ly/3s1lvla

Hoe om self my eiewaarde op te bou

’n Gesonde eiewaarde is noodsaaklik om ’n gelukkige en suksesvolle mens te wees. Daar is sekere dinge wat jy kan doen om jou eie eiewaarde op te bou en te verbeter.

• Hou op om jou eie grootste kritikus te wees. Begin luister hoe jy met jouself praat. Dit help niks om jouself af te breek nie. Maak ’n definitiewe besluit om op te hou om dit te doen. • Maak ’n lys van jou uitstekende kenmerke en alles wat jy alreeds reggekry het. • Aanvaar komplimente vriendelik. • Hou op om jouself met ander te vergelyk. Wees trots op wie jy is. • Moenie probeer om perfek te wees nie. Niemand is perfek nie. • Waardeer dit wat jou uniek maak en wat jou van ander onderskei. • Ontwikkel ’n positiewe ingesteldheid. Herhaal die volgende dikwels vir jouself: ○ Ek is lief vir en aanvaar myself ○ Ek glo in myself ○ Ek waardeer en respekteer myself (Ackerman, 2020)

This article is from: