3 minute read

1900: ‘n KLOMPIE GEDUGTE BOERE-OFFISIERE

SA LUGMAG: MY BEVOORREGTE LEWE

Lt kol At Spies

Advertisement

In die skemeraand van ‘n lugvaartloopbaan wat al oor vyf en ‘n half dekades strek, dink ek terug aan my uiters bevoorregte lewe. Ja mense, met hierdie skrywe, erken ek nou onomwonde dat ek een van die bevoorregtes was in die “ou” Suid-Afrika. Natuurlik is daardie ‘n ietwat omstrede stelling om te maak en daarom ek wil dit net baie vinnig duidelik stel dat daardie bevoorregdgeid van my, niks met enige politieke doktrines of idees van vroeër jare se heersers, of selfs die van die huidiges, te doen gehad het nie. Nee, my bevoorregdgeid het sy inslag gekry by die mense, die etos, die etiek en die kultuur wat deur die mense van daardie lank vervloë tye uitgelewe was. Laat my nou egter toe om so ‘n bietjie uit te brei op daardie staat van bevoorregdgeid wat ek glo ek gehad het. Ek, die derde kind van ‘n baie arm Afrikaans-sprekende familie, is gebore op 27 Maart 1947, te Lüderitzbaai in die destydse Suidwes-Afrika of te wel SWA (Namibië vandag). My ouers was nie boorlinge van daardie land nie maar het as ‘n jong getroude paartjie so ongeveer 1936 daar aangeland. Daardie was nog die “depressie” jare en werk was skaars, trouens my Pa het sy spoorwegloopbaan in Johannesburg begin as ‘n wasser van die treine se passasiers waens.

Ewenwel, my broer is gebore in 1937, net so ‘n katspoegie voor die aanvang van die tweede wêreldoorlog. Ek glo hy het nog swaarder as ons, die ander twee kinders, grootgeraak. Waarskynlik omdat geld so skaars was, het my ouers dit goed gedink om hulle volgende kind, my suster eers in 1944 die lig te laat sien, ook in Lüderitzbaai. Die oorlog in Europa het teen daardie tyd nog op sy ergste gewoed in Europa maar daar in verre SWA het my pa toe darem al die pos van ‘n gewone spoorweg en hawens poliesman beklee.

Teen die tyd wat ek uiteindelik my opwagting gemaak het, was die oorlog al verby maar almal was nou brandarm. Des-nie-teen-staande, het die mense ‘n wil gehad om te herbou en om deur hul eie harde werk, vooruit te beur. Nouja, daardie kultuur, gevestig in die wete van die min beskikbare geld, maar absoluut ook met ‘n waardering vir dit wat jy wel gehad asook die wil om deur eie werks-etiek te vorder, is een van die redes hoekom ek glo ek was so bevoorreg.

Ek sal later so ‘n bietjie meer vertel van my groot word jare maar wil hier net ‘n bietjie verder uitbrei oor my besef van bevoorregdgeid. Dalk juis omdat ons arm was, het ons nooit met dwelms deurmekaar geraak nie. Hel, my pa kon nie eers ‘n dop bekostig nie, wat nog te sê ‘n dagga zol of twee. Ons, as gesin, was ook gelukkig genoeg dat nie een van die familie ooit aan die verkeerde kant van die gereg beland het nie. Daardie “skoon” rekord, asook die feit dat ek geseënd was met ‘n gesonde liggaam, goeie oë en die nodige hand-voet-koördinasie en vaardighede, het my uiteindelik die geleedheid gebied om by die Suid Afrikaanse Lugmag (SALM) te kon aansluit as ‘n lugbemanningslid.

My lugmagloopbaan het egter ook ‘n paar snaakse draaie geloop en hieroor sal ek later nog uitbrei maar vir my was die grootste impak gedurende die tyd, daardie wonderlike, soms harde en knoetsige karakters wat ek gedurende daardie vroeë jare by die verskillende eskaders ontmoet het. Daardie lede was toegewyde manne wat gedurende die tweede wêreldoorlog, in Europa en Noord-Afrika, asook later, in Korea gevlieg het. In die skadu van hulle knoetsige en bonkige 137