
3 minute read
Huldeblyk
De Wildt Nuus HULDEBLYKE De Wildt-inwoners
JOHANNES VAN ZYL *21 Junie 1953 †4 Mei 2021
Advertisement
Johan van Zyl se dryfkrag was om De Wildt ‘n beter plek te maak. Dit was sy groot droom en ideaal. Sy kennis van die gebied se kraglyne was in baie gevalle beter as die tegnici self. Sy rol as direkteur van DWHM tot einde 2015, het baie eerstes daargestel. By die BBV het hy met ‘n handjievol helpers snags brand geslaan terwyl hulp min was. Daar is op hom geskiet as hy in die nag foute gesoek het op die kraglyne met kragonderbrekings. Die Deltas was sy breinkind en veiligheid en sekuriteit was baie belangrik en ‘n erns vir hom. Sy teenwoordigheid en stem is nou nie meer daar nie. Sy soms ongeërgdheid en stoets antwoorde is nou vir altyd stil. Vriende sal hom mis en sy teenstanders sal erken dat Johan wel ‘n verskil gemaak het in De Wildt. Miskien was hy nie ‘n held nie, maar wel ‘n mens met ‘n liefde vir sy omgewing, die natuur en ook sy mense. Ons sien jou spore deur De Wildt, my vriend, ons sien jou harde hartseer en pyn. Ons as gemeenskap sê vir jou dankie. Dankie vir jou onbaatsugtige hulp en harde werk. Dankie vir jou spore hier deur De Wildt. Dit was ‘n duidelike spoor van omgee, hulp en kennis. Rus in vrede, ou vriend. Ons mis jou reeds.
ROMMEL EN ROWERS, BOSSE EN BOEWE
Manie Lemmer
As ’n mens so deur ons De Wildt-gebied ry, val dit op dat sommige kleinhoewes en/of plase se voorheinings tesame met die padreserwes netjies skoongesny of skoongemaak is en dit laat jou dadelik dink dat die res van die betrokke eiendom ook sonder onnodige rommel en bosse is. Dit gebeur telkens dat rowers in die nag drade oopknip en toegang tot eiendomme verkry en jou dan besteel. Hierdie mense kan werklik in sommige eiendomme indring sonder dat iemand hulle sal sien. Dit is waar rommel van voor die heining saam met boskasies in die padreserwes dit so maklik maak, want hulle kan agter bosse en rommel wegkruip as hulle dalk gewaar word. As hulle ook nie goed waargeneem kan word vanaf jou woning nie, besteel hulle jou sonder enige probleem. Daarom is dit elkeen se plig om te sorg dat jou uitsig oor jou eiendom redelik skoon en onbelemmerd is, sodat jy van jou woning af op die voorheining en ook die ander heinings waar moontlik kan sien. By sommige plekke is die bosse so ruig dat die eiendom selfs oordag betree en besteel kan word. Dit verg heelwat moeite, maar dis die moeite werd om jou plek skoon en netjies te hou. Ons merk ook heelwat voorhekke wat dag in en dag uit oopstaan. Leer maar gerus die gewoonte aan om toe te maak en te sluit. So staan ons saam om ons teen rowers en boewe te beskerm.
Manie Lemmer verhuis, maar bly betrokke by De Wildt
Manie Lemmer
Ek het op 26 April verhuis. My nuwe woonplek is wooneenheid 181, Bougainvilla-aftreeoord, Montana. Die rede vir my verskuiwing was die ruimte. Waar ek tevore by Sandstone slegs ’n woonka- mer plus badkamer en stoep gehad het, beskik ek nou oor ’n tweeslaapkamer wooneenheid met ’n eet- en sitkamer, kombuis, badkamers en motorhuis asook braaigeriewe op die voorstoep. Ek kan steeds my woonplek by Sandstone aanbeveel, want die geriewe en behandeling was baie goed. Met al my kantoorbedrywighede kon ek nou by die nuwe woning een slaapkamer as studeerkamer/ kantoor inrig en hoef ek nie voortdurend na dokumente te soek nie. In ’n volgende uitgawe sal ek meer oor my ervaringe alhier skryf.