KUILSRIVIER
B u r g e r E-pos: tyger@dieburger.com
Woensdag 21 Maart 2012
Tel: 021 910 6500
Faks: 021 910 6501
Twee Wendyhuise het Maandag oggend in Kalkfontein afgebrand. Foto’s: Jessica Botes
) Vrou hoor hoe haar kind skreeu
Vlamme eis pa, seun JESSICA BOTES
Engela Fortuin (43) het haar vierjarige kind hoor skreeu terwyl hy en sy pa in hul Wendyhuis deur vlamme verswelg is. Omstreeks 02:00 verlede Maandagoggend het dié Wendyhuis in Magdastraat, Kalkfontein, aan die brand geslaan. “Ek het buitentoe gehardloop en gesien dat die huis waarin my gewese man en my seun was, aan die brand is,” sê Fortuin. Haar buurvrou, Tania Stephens (36), was die eerste een wat wakker geword het ná die brand ontstaan het. “Ek kon daardie aand nie baie lekker slaap nie en ek het op my rug gelê en na die dak gekyk toe ek ’n helder lig deur die venster sien
skyn,” sê sy. Stephens het na buite gehardloop en aan die geslote deur van haar buurman se brandende huis geklop. “Ek het iemand binne die huis hoor skreeu, maar ek kon nie die deur oopkry nie,” sê sy. Sy het toe ’n klip opgetel en die deur probeer oopbreek. “Ek was klaar te laat. Teen die tyd dat ek die deur probeer oopbreek het, was die hele huis al in vlamme,” sê sy. Stephens se huis is kort daarna ook deur die vlamme verswelg, maar sy kon gelukkig haar kinders vroegtydig uit die huis kry. Jeffrey Vyfers (42) en sy vierjarige seun, Aden, is albei in die brand oorlede. “Jou hardkoppigheid sal jy nog berou,” was die laaste woorde wat Fortuin se gewese man per SMS aan
haar gestuur het. Volgens Fortuin was dié SMS ’n waarskuwing. “Ons was al drie jaar geskei, maar hy wou hê ons moet weer saam wees. In die drie jaar wat ek alleen gewoon het, het ek goed sonder hom reggekom. Hy het my jare lank mishandel en ek het vir hom gesê dat ek niks meer met hom te doen wil hê nie,” sê sy. Fortuin woon in die baksteenhuis net voor die Wendyhuis. Sy wou nie ’n kamer met haar gewese man deel nie, maar sy het wel haar kind toegelaat om in die aande by sy pa te slaap. Kaptein Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die brand het binne die huis ontstaan en die oorsaak van die brand word nog ondersoek. Hy sê daar is nog net met ’n geregtelike doodsondersoek begin.
Engela Fortuin (regs) en haar buurvrou, Tania Stephens (links), kry onder steuning van raadslid Jacob Jacobs (middel) ná die voorval.