KUILSRIVIER
EERSTERIVER TEL: 021 902 0303 Trading Hours: Mon to Thurs: 8.30am to 6pm Fri: 8am to 6.30pm • Sat: 8am to 5pm • Sun: 8.30am to 1pm
Valid from 25th Feb to 1st March 2021 X1WJWA5A-AL240221
Woensdag, 24 Februarie 2021 | Tel: 021 910 6500 | e-pos: nuus@tygerburger.co.za
@TygerBurger
TygerBurger
JAN KRIELSKOOL: SONJA STYG UIT BO UITDAGINGS
Leerder nasionaal vereer CARINA ROUX
S
onja Jonkers van die Jan Krielskool het ’n spesiale ministeriële toekenning van die nasionale onderwysminister ontvang vir leerders wat ten spyte van leeruitdagings presteer het in matriek. Die toekenning is Maandag deur Debbie Schäfer, Wes-Kaapse onderwysminister, aan haar oorhandig. Sonja (20) van Eersterivier is liggaamlik gestremd weens ’n aangebore toestand wat spierswakheid veroorsaak. Sy moes haar eksamen met die hulp van ’n fasiliteerder aflê.
Ontwrigting Oor al die ontwrigting in haar matriekjaar sê Sonja dit was veral die aanlyn klasse wat haar frustreer het. Sy was baie gelukkig by Jan Krielskool, waar sy sedert graad 10 ’n leerder was. Sy het haar skoolloopbaan by Paarlskool begin en was in graad 9 die toppresteerder. Sonja gaan vanjaar ’n BCom-graad in bedryfsielkunde studeer aan die Universiteit van Kaapstad. “Ek hou daarvan om met mense te werk en wil graag ander help,” sê sy. Op die vraag “wie is Sonja?” lag sy en antwoord dan selfversekerd: “Ek is ’n sonstraal. Ek hou van lag en smile. En om ander te motiveer.” Haar ma, Lisa Jonker sê al benodig Sonja altyd hulp hou sy van haar dogter se vermoë om elke dag gelukkig te wees – ten spyte van al die uitdagings. “Sy sal wel sê as sy nie van iets hou nie – sy sal nie terughou nie.” Ook by die skool was sy gelukkig met die onderwysers en haar maats, sê Lisa. “Sy het nooit gekla nie.”
Sonja is ’n harde werker wat haar ma, Lisa en pa, Jakob, tevrede en trotse ouers maak. Maandag was die Jonkers reeds almal “in die wolke” en die afwagting groot om gister uiteindelik die uitslae by die skool te kon gaan haal. In die verslag oor die nasionale matriekuitslae is Sonja beskryf as hoogs gemotiveerd. Danksy toewyding en harde werk kon sy daarin slaag om meer onafhanklik te wees wat haar mobiliteit betref. Sy stuur haar rystoel met haar regtervoet en kon ook tegnologie (Tobii Eygaze) baasraak wat haar in staat stel om ’n rekenaar te kan gebruik deur oogbewegings.
Positiewe ingesteldheid Verlede jaar het Sonja tred gehou met haar skoolwerk al was sy vrygestel daarvan om fisies skool by te woon. Sy word geloof vir haar positiewe ingesteldheid en harde werk, wat ’n voorbeeld stel vir vanjaar se matrieks oor hoe om bo moeilike omstandighede uit te styg. Sonja het genoem sy bewonder “Mrs Simons” se onafhanklikheid en vasberadenheid. Engels was Sonja se gunstelingvak en Debmarie Simons was haar Engels-onderwyser. Simons het gesê sy bars van trots oor Sonja se uitslae – ook omdat Sonja ’n A in Engels behaal het. Simons het as mentor gedien, maar sê daar is ’n hele span by Jan Krielskool wat gehelp het deur die inperking laas jaar. “Ons het Zoom-lesse gehad en Sonja was elke dag aanlyn.” Simons sê Sonja het al hul verwagtinge oortref. “Omdat sy so vasberade is gaan sy nog ver kom. Die skool en haar ouers kan opreg trots wees.”
Debmarie Simons sit by Sonja Jonkers.
NETWERK24. ALLES OP EEN PLEK.
Teken in by www.netwerk24.com.