TygerBurger Durbanville - 12 February 2020

Page 1

DURBANVILLE

X1W1NJDW-AL120220

Woensdag, 12 Februarie 2020 | Tel: 021 910 6500 | e-pos: nuus@tygerburger.co.za

@TygerBurger

TygerBurger

Met die maan gepla Mary-Ann van Dyk (links) en Carien van der Bergh, albei van Brackenfell, beleef ’n uitbundige oomblik in die volmaan-staptog oor 10 km, wat die afgelope Sondagaand op die Meerendal-wynlandgoed plaasgevind het. Meer as 100 mense het opgedaag om deel te neem. Dit is hierdie keer aangebied deur Run For A Child ten bate van Ubuntu-huis in Goodwood. Run For A Child is in Oktober 2018 gestig deur twee vriende, Teresa Morris van Plattekloof Glen en Petro Miller van Kuilsrivier, om geld in te samel vir benadeelde skole en organisasies. Altesame R10 000 is met die staptog vir Ubuntu-huis ingesamel. Besoek Run For A Child op Facebook vir meer inligting. FOTO: NEELS KLEYNHANS

0NWETTIGE VISVANGERY: VOËLS VERSTRENGEL IN VISLYN

Kolgans uitgesit ESMÉ ERASMUS @erasmusesme

’n

Kolgansmannetjie moes verlede Saterdag uitgesit word, omdat albei sy pote geamputeer moes word nadat dit in die vislyn van onwettige hengelaars verstrengel geraak het. Van die inwoners rondom die dam in Manchesterstraat in Uitzicht, bekend as die Laer Uitzicht-dam, ontferm hulle al sedert begin Januarie oor die kolgans, waarvan eers die een poot in vislyn verstrengel geraak het en later ook die ander een – só dat hy uiteindelik glad nie meer kon loop of swem nie en besig as om te vrek. Volgens Neil Swarts, ’n plaaslike prokureur en inwoner rondom die dam, het dit in-

woners rondom die dam baie ontstel. Die kolgans, wat inwoners Donald Duck gedoop het, was die pa van ’n trop van sowat agt klein gansies wat nou alleen deur hul ma grootgemaak moet word. Die kolganspaar was al vir bykans sewe jare ’n bekende gesig by die dam. Volgens Swarts sukkel die inwoners al lankal met mense wat onwettig daar visvang en is dit al telkemale by die Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement aangemeld, sonder enige optrede. “Ek het dit nooit as ’n groot probleem gesien nie, totdat die kolgans nou beseer geraak het. As ’n mens om die dam stap, sien jy orals stukke vislyn en hoeke rondlê. Dit lyk of die hengelaars hul lyne langs die water afsny en net daar los,” het hy gesê.

Volgens hom het hy en sy vrou, Elthea, vir die eerste keer aan die begin van Januarie gesien die kolgans se een poot is in vislyn vasgedraai. ’n Hoek het in sy vleis ingesny en sy regterpoot was heeltemal opgetrek, het hy gesê. Hulle en nog mense uit die gemeenskap het sedertdien probeer om die kolgans te vang om hom van die vislyn te bevry, maar kon eers die afgelope Saterdagoggend daarin slaag. Swarts het gesê sy vrou het dit reggekry om haar een hand op die gans te sit en hy het soos ’n wafferse skrumskakel geduik om die gans in die hande te kry. Volgens Swarts het hulle die kolgans na die Cape Exotic Animal Hospital geneem vir behandeling. Die veearts het egter gevind dat die een poot reeds dood en uitgedroog

was en die ander poot ook geamputeer moet word, wat die kolgans sonder pote sou laat. Daar was geen ander uitkoms as om die kolgans uit sy ellende te verlos en uit te sit nie. “Dit was so onnodig. Dis nie net die onwettige hengel wat hiertoe gelei het, maar ook wetstoepassing wat ons gefaal het,” het Swarts gesê. Hy het van 18 Januarie tot 9 Februarie altesame 10 klagtes by die wetstoepassingsdepartement aanhangig gemaak. Volgens hom het hy al van die hengelaars gaan konfronteer oor hul onwettige visvangery, maar het hulle aan hom gesê die einste wetstoepassingsdepartement het vir hulle gesê “hulle mag daar visvang, solank hulle nie raas nie”. Daar is egter vyf kennisgewingborde wat visvang verbied, sê hy. V Na bladsy 2


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.