27 Oktober 2016

Page 11

27 Oktober 2016

Potchefstroom Herald

www.potchefstroomherald.co.za

11

Ontmoet die familie: Redelinghuys(hys)(hui(j)s) “Redelinghuys” (en al sy wisselvorme) se oorsprong is waarskynlik die gebiede Ennepe-Ruhr-Kreis, Hennen, Hagen en Reclinghausen in Duitsland waar die van “Redlinghaus”, redelik algemeen voorkom. “Redelinghuys” is volgens die boek “South African Names” deur Eric Rosenthal (1965. Howard Timmins, Cape Town, p 236) waarskynlik afgelei van ‘n oud-Germaanse woord wat “raadslid” (munisipale amptenaar) beteken. Die Redelinghuys-stamvader, Johannes Hermanus, is vermoedelik in 1721 in Brandenburg, Pruise, gebore en in 1774 te Kaapstad oorlede. Hy was van 1746 tot 1749 ‘n soldaat in diens van die Verenigde Oos Indiese Kompanjie (VOC). Hy het op 9 Januarie 1749 burgerskap verkry en uit die diens getree om ‘n “Vrijburger” in “Kaap de Goede Hoop” te word. Hy was later bode van die Weeskamer. Op 19 Oktober 1755 is hy getroud met Johan-

na Hermina de Vries. Tien kinders is uit hulle huwelik gebore. Hulle oudste seun was Johannes Hendricus, ’n onderwyser, boukontrakteur en bakker. Hy was een van die vroegste kampvegters vir die regte van die koloniste aan die Kaap. Hy het na homself verwys as ‘n “ Afrikaan” en na die Kaap as sy vaderland. Na die Britse anneksasie van die Kaap het hy op 20 Januarie 1795 in ‘n artikel in verskeie Nederlandse koerante ‘n beroep op die burgers in die Kaap gedoen om die Engelse bewind deur middel van ‘n rewolusie omver te werp. Hy het geen manlike nasate gehad nie en is in Nederland weens tuberkulose dood. Een van sy dogters is die stammoeder van die Marchand-familie in die RSA. Die Redelinghuys-nasate van die stamouers is reeds in die

tiende generasie bereik. Hulle stam af van drie seuns van die stamouers, Johannes Hermanus, Petrus Jacobus en Jacobus. Die nasate het (meestal onafhanklik) versprei na die Weskus, Noord-Kaap, Klein Karoo, Vrystaat en Transvaal (spesifiek Magaliesburg en Potchefstroom). Later het enkeles ook verhuis na Namibië, Zimbabwe, Europese en Noord-Amerikaanse state, Australië en Nieu-Seeland. Meeste nasate is Afrikaanssprekend maar sommiges het verEngels en/ of burgers geword van onder meer Nederland, Spanje, Finland, die VSA en Kanada. Onder die “voorheen benadeelde” bevolking is daar ook mense met dieselfde of soortgelyke van onder die inwoners van die Kaapse vlakte en die Moslem-gemeenskap. In September 1833

het ‘n kommando onder leiding van veldkommandant Jacobus Nicolaas Redelinghuys ’n bende wat vee geroof het in die Hantam verslaan en die geroofde vee teruggeneem. Etlike Redelinghuys’e het deelgeneem aan die Anglo Boere Oorlog (ABO) waaronder komm. Antonie Michiel van die Gatsrandkommando wat van Deelkraal afkomstig was. Slegs twee Redelinghuys’e het gesneuwel tydens dié oorlog, maar 15 is gevange geneem (waaronder vyf afkomstig uit Potchefstroomdistrik), toe genl. Piet Cronje oorgegee het by Paardeberg. Agt kinders is in konsentrasiekampe dood. ’n Paar het as Kaapse rebelle by die boeremagte aangesluit, maar daar was glo minstens een “hanskakie onder die Redelinghuys’e. *Meer inligting is beskikbaar op www.huystothuijs.co.za. Besoek ook die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf www.genza.org.za

Hebron Kersmark 2016 gaan beter en groter as ooit wees Marianke Saayman Hebron Huis skud weer hul litte reg vir hul jaarlikse Kersmark. Sarina en Christo Swanepoel van Hebron werk vanjaar saam met die PUK SJGD (Studente JOOL Gemeenskapsdiens) Hebron komitee om die jaar se Hebron Kersmark beter en groter as ooit te maak. Die Kersmark vind plaas op 5 November by Hebron van 08:30 maar registrasie vir die fietswedren wat op daardie dag gaan plaasvind, begin reeds om 07:00. Die bergfietswedren (20km en 40km) is net een van die baie aktiwiteite wat die dag sal plaasvind. Daar is ook ‘n pretloop van 5km en 10km asook

toutrek waar spanne van sewe kan inskryf. Die toutrek-kompetisie begin om 11:00. Die hele dag gaan daar musiekoptredes wees deur bekende sangers soos Christel Nolte en lede van die Duet Orkes, Bouwer Bosch, Aimee le Roux en Nadia. Daar gaan ook ‘n godsdienssessie wees met Christel. Dan is daar ook ’n besienswaardigheidstoer met vierwiel motorfietse en vir die wat meer die rustiger deel van die lewe geniet, is daar ‘n heerlike teetuin met ’n varsgebak tafel. Verskillende mense van die gemeenskap het ingespan om iets te bak vir die tafel. Kos wat verkoop gaan word sluit in soet- en sout pannekoek, kerrie en rys, boereworsrolle, biltong, vars wors, koeldrank, vark, bees en ge-

bakte produkte. Die wit olifanttafel is definitief iets om voor uit te kyk. Die meeste van die goedere is tweedehands wat dan deur Hebron inwoners herstel en skoongemaak word. Daar is ook ‘n tweedehandse klerewinkel. Vir die jongspan is daar ‘n springkasteel, glybaan en selfs plaasdiere wat die kinders kan vryf en voer. Die hoogtepunt is boeresport vir kinders. Van 10:00 af gaan Noot vir Noot aangebied word. Hierdie aktiwiteit word in samewerking met PUK SJGD gedoen. Bouwer Bosch is die gaskunstenaar, Liandi du Randt Bosch die aanbieder en daar gaan ook ‘n musiekgroep wees om dié hoogtepunt onvergeetlik te maak. Spanne kan inskryf teen R50 per span

en daar is vier mense in ‘n span. Daar gaan ‘n wasgoedlyn wees met klere wat aan SJGD geskenk is, waar deelnemers van Noot vir Noot snaaks kan aantrek en beoordeel gaan word. Om ‘n span in te skryf vir Noot vir Noot, skakel 076 412 7475. Fondse wat op die dag ingesamel word, gaan gebruik word om iets bruikbaars aan te koop vir die besighede wat op Hebron bedryf word. Onthou jou toegangsfooi is een blikkie kos per persoon. * Hebron versoek die gemeenskap dat as iemand met ‘n donasiebrief van Hebron donasies versoek, Christo en Sarina Swanepoel dadelik gekontak moet word. Hebron vra geen donasies deur donasiebriewe nie.


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.