8 minute read

Nat toestande ‘n uitdaging vir vroueboer

PLAASKUIER

NAT TOESTANDE ‘N UITDAGING VIR VROUEBOER

Advertisement

Barbara se lewenspad het haar ver van landbou geneem en sy het nadat sy in 1988 op Clocolan gematrikuleer het, BSocSc Verpleegkunde aan Kovsies gaan studeer. Sy gaan daarna voort met haar Honneurs en spesialiseer in Verloskunde. Na voltooiing van haar studies in 1996, vertrek sy na die onbekende om vir twee jaar in ‘n kraamhospitaal in Abu Dhabi te gaan werk.

“Ek het nie eers geweet waar die land is nie, maar ek en ‘n vriendin is toe daarheen. Dit was baie interessant dat vroue geen basiese regte in daardie lande het nie. Dit was hanteerbaar in die kraamhospitaal, aangesien die pasiënte en die meeste dokters en verpleegsters vroue was. Daar was net vier mans-ginekoloë en indien hulle ‘n vrou moes behandel of ondersoek, moes die pasiënt se man eers toestemming verleen. Die streng reël geld ook indien die kind wat gebore is, ‘n dogtertjie is.

“Ons het in ‘n woonstelblok nie ver die hospitaal gebly nie en ons was dankbaar dat die reëls teenoor vroue nie so streng is soos in Saoedi-Arabië nie. Ons was nie verplig om Abayas te dra nie, maar moes netjiese en ordentlike klere gedra het. Taal was ‘n uitdaging maar ons het gebare gebruik en die hospitaal het tolke verskaf. Ons het hier en daar ‘n paar Arabiese woorde geleer, wat ‘n bietjie gehelp het.”

Barbara Bender mag dalk ‘n baie suksesvolle veeboer wees, maar sy weet beslis hoe om die beste cappuccino in ‘n plaaskombuis te maak. Haar gemaklikheid is seker een van die redes hoekom ‘n kuier by haar so ontspanne is. Ons kon oor dinge van haar lewe, haar hartseer en haar bestuur van die skape en beeste op die plaas gesels, natuurlik met ‘n koeksister by die koffie!.

Sy het nadat die twee jaar verstreke was, teruggekeer na die familieplaas Lambertina in die Clocolan-omgewing, waar sy en haar tien ander broers en susters grootgeword het, onder wie Chris Bender, direksievoorsitter van die OVK Groep. Met haar terugkeer het haar broer Koot en haar pa Boet saam geboer. Die boerdery het uit ‘n melkery, gewasse en Merinovertakking bestaan. Koot sterf in 1998 in ‘n tragiese ongeluk op die plaas en skielik was die hele familie se lewens deurmekaar.

Barbara het besef haar pa het hulp nodig en haar broers was nie ‘n posisie om te kom help nie. Chris was nog op universiteit en sy besluit toe om haar beroep as verpleegkundige (waarvoor sy ses jaar gestudeer het) vaarwel toe te roep en die skape en beeste oor te neem. Chris sou in 2000 voltyds by haar aansluit en van sy droom van die korporatiewe wêreld vergeet.

Barbara het begin om die plaaslewe te geniet en haar pa kon sien sy pas goed aan. “Die lewenswyse op die plaas het my aangetrek en ek het nooit eintlik weer aan ‘n beroep in verpleegkunde gedink nie. Voordat Chris plaas toe gekom het, was ek by alles betrokke, maar kon later meer aandag aan die skape en beeste skenk, wat ook my belangstelling is. Ek en die trekkers en planters is nie baie lief vir mekaar nie!

“Die eerste skaapboeredag wat ek bygewoon het, net anderkant Marquard, was baie leersaam. Hulle het gewys hoe jy ‘n skaap vang, hoe jy na wol kyk, ensovoorts. Baie vroue wat op die plaas kom, erf die skape of hulle begin hul eie kudde, omdat skape fisies makliker is om mee te werk. Ek glo daar moet meer boeredae vir vroue aangebied word waar hulle wyer kennis kan opdoen.”

Sy het die kennis wat sy by die boeredag opgedoen het, op die plaas toegepas en meer strategies lek begin gee. Die skape se kondisie het vinnig verbeter. “Die skaapkudde het uit ‘n aansienlike getal bestaan en die feit dat hulle so goed op my aandag gereageer het, het my baie positief gemaak.

“Die skape het nooit spesiale voeding gekry nie en het hoofsaaklik op die lande geloop. Ek het aan die begin baie foute gemaak en die skape snags in ‘n kamp gejaag om hul teen roofdiere te beskerm. Dit het meege bring dat lammers hul ooie verloor het en gevrek het. Ek lam nou in klein kampies op ‘n semi-intensiewe basis. Die tweelingooie sit ek so 20 in ‘n kampie en haal hulle na so ‘n week uit om lande toe te gaan.”

Barbara eksperimenteer met elektriese drade, wat deur ‘n sonpaneel van krag voorsien word, om die ongediertes uit te hou en is besig om kleiner kampies op die lusernlande op te rig. Die skape slaap nou op die lande en die band tussen die ooi en haar lam of lammers is baie stewiger. Sy gebruik verskuifbare kampheinings wat met jakkalsdraad gepas is om kleiner lamkrale te skep. Dit benodig ook minder arbeid om hulle nader aan mekaar te hê en die skape is veiliger as daar buite in die veld.

Sy gebruik die natuurlike wyse van bevrugting. “Ek gebruik Afrino koggelramme voor ek die ramme by

die ooie sit en lam die ooie slegs een keer per jaar, met twee lamseisoene.” Sy sê dit werk goed vir haar en die druk is nie so groot op die ooie nie. “‘n Ooi wat ‘n tweeling gehad het, het so ‘n bietjie van ‘n breek nodig. Ek kon nog nie met hulle praat nie, maar ek dink hulle voel so,” lag Barbara.

Die groot hoeveelheid reën het vir haar en die skape vele uitdagings gebring. “Hierdie plaas het baie vleilande en dit werk nie vir skape as dit nat is nie. Kos is ‘n uitdaging want jy dink jy het baie kos, maar die skape hou nie van lang gras nie. Ek jaag nou eers die beeste in om die lang gras kort te vreet. Hierdie reënval was uitsonderlik hoog, so ek weet nie presies hoe om dit te bestuur nie. Die veldbeamptes, voedingkundiges en veeartse bly my beste vennote.

“Omdat die veld dig is, trap die beeste nie veel modder nie, maar hulle vreet die gras goed kort. Weens die baie reën groei dit dan weer vinnig en dit is die gras waarvan die skape hou. As ons hulle na hierdie kampe jaag, dan begin hulle sommer uit opwinding daarheen hardloop. Hoe voedsaam die gras is, sal die tyd leer.” Die reën het haar somtyds moedeloos gehad. “As ek sien die skape staan net so in die reën, dan wil ek vir hulle sê om net so ‘n bietjie te eet; dit sal hulle beter laat voel. Die lammers wat in Oktober/November aangekom het, was net groot genoeg toe die groot reën kom. Ek het toe besluit om hulle te speen en dit was dalk te gou, want vandaar het almal net so stil in die reën gestaan, asof hulle rou. Dit was eenvoudig net te nat.”

“Die gras is lank en die skape is maer,” beskryf Barbara die gevolg van die baie reën.

Barbara sê haar mentor in die skaapboerdery is haar oom Hendrik Smit van Rouxville. Hy het saam met haar veilings toe gegaan en baie praktiese raad gegee wat in nat toestande gehelp het. “Met die natheid was dit asof die parasietlading laer was, maar sodra die son uitkom en dit word ‘n bietjie warmer, dan skiet die parasietlading op. ‘n Nat skaap wat droog word, bring sy eie uitdagings.

“Uit my mediese agtergrond verstaan ek die belangrikheid van ‘n entprogram, veral soos met bloutong. Ek het ook my leerskool gehad. Die entstofprodukpamflet sê jy moet ses weke wag om in te ent na die lam gespeen is. Ek kon sien hier kom probleme want nou is ons al in die bloutongseisoen en ek ent hulle toe, slegs drie weke na speen, in. Bloutong is nou goed onder beheer en ek hou by my program.”

Vrotpootjie bly ‘n uitdaging. “Verlede jaar en vanjaar met die nattigheid is dit ‘n probleem. Ek spuit en sny die kloutjie en spuit weer. Ek het hierdie jaar ‘n voetbad gebou en al die skape wat die siekte het, moet vir ten minste 15 minute in die voetbad staan. Dit is ‘n lang tyd en het my amper moedeloos gehad. Ek laat die skape onder die bloekombome slaap, want dit is baie hard daar en hulle trap nie modder nie.”

Die laaste paar weke se sonskyn het Barbara die hoop gegee dat hulle oor die “nat” probleme is. “Vanoggend begin die 3-dae-stywesiekte by die melkbeeste, wat deur muggies veroorsaak word. Die beeste se spiere trek styf en hulle het ‘n hoë koors. Na drie dae begin hulle herstel maar het dan geen produksie gelewer nie.”

Sy en Chris bestuur die melkery tesame en sy is buiten die skape ook verantwoordelik vir die Friese en ‘n klompie Tuli’s. “Ons boer ekstensief met die Tuli’s en beheer hulle getalle soos die grond hulle kan dra. Die reën en nat toestande het die melkery ook geaffekteer, want ons melk van die veld af. Daar is oral modder, in die paadjies en in die bakke. Vrotpootjie en die 3-dae-stywesiekte bly ‘n uitdaging. Omdat ons van die veld af melk, gaan hulle terug veld toe of na die aangeplante weiding en staan nie in ‘n kraal vol modder nie.”

Barbara boer al meer as twintig jaar met haar Wolmerino’s en Friese en volgens haar was hierdie paar maande van oormatige reën van die moeilikste tye wat sy nog beleef het, ook seker omdat sy nog nie sulke vreemde nat omstandighede moes hanteer nie. Haar lag, entoesiasme en totale toewyding tot die welstand van die diere laat mens tog wonder hoe trots Koot en Boet op haar sou gewees het. Sy trap al diep spore op Lambertina.

This article is from: