Weslander 29 August 2025 - Food Lovers Market Supplement

Page 1


Prys: R4,00 | Tel: 022 713 1251 / Epos: weslander@novusmedia.co.za / Facebook: Weslander

Instagram: weslander_koerant / Whatsapp: 082 576 0453

Noodsaak of geldmors?

Muggievlakte, op die noordelike grens van Vredenburg, is lankal bekend vir sy muggies – vandaar die naam. Binnekort sal dié woonbuurt egter ook vir nóg ’n speelpark bekend staan.

Die bestaande Ponte Hoeft-park, op die hoek van Akkerdyk- en Kerkstraat, is reeds vir jare ’n groen asemhalingsruimte met speeltoerusting, ’n klimraam (jungle gym) en ruimte vir troeteldiere. Nou bou die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) aan ’n nuwe park in Dordrechtstraat, skaars ’n paar blokke verder.

Volgens die munisipaliteit sal die projek eers in Desember voltooi wees, teen ’n geraamde koste van sowat R500 000. Meer as R170 000 is reeds bestee – grootliks aan ’n twee meter hoë omheining wat die toerusting moet beskerm. Die bouwerk staan egter al maande lank stil weens die munisipaliteit se oorrolbegroting, wat nog nie goedgekeur is nie.

Tans is speel- en oefentoerusting, insluitend ’n klimraam, reeds opgerig. Die hekke is egter steeds oop en daar is geen vrywaring-kennisgewings nie. Kinders en inwoners gebruik die park dus reeds, al is dit nog nie voltooi nie.

Volgens Tereza Burger, ’n SBM-woordvoerder, dien die duur omheining om bates

Muggievlakte kry nuwe speelpark

na-ure te beskerm. “Ná voltooiing sal die park oop wees vir die publiek,” sê sy. Of die heining egter misdadigers en metaaldiewe gaan uithou, bly ’n ope vraag. Toerusting in die bestaande Ponte Hoeftpark is reeds beskadig en die skoppelmaai is ná vandalisering onbruikbaar gelaat. Inwoners het in reaksie op ’n aanlyn plasing oor die park gevra of dit regtig sinvol is om twee parke só naby aan mekaar in dieselfde woonbuurt te hê, veral terwyl omliggende strate vol slaggate is en wateronderbrekings gereeld voorkom.

Burger verduidelik dat die Dordrechtstraat-parkie deel is van die munisipale IDP-proses en ná openbare insette én die wykraadslid se versoek goedgekeur is. Die

projek word volgens haar deur ’n amptelike tenderproses bestuur, maar geen plaaslike kontrakteurs word betrek nie.

Die menings van inwoners op Weslander se Facebook-blad toon gemengde reaksies. Sommige verwelkom die nuwe speelpark as ’n veilige plek vir kinders. Ander meen dit is oorbodig, aangesien daar glo te min kinders in Muggievlakte is om ’n tweede park te regverdig. Verskeie sê hulle is nie oor die planne geraadpleeg of ingelig nie. • Muggievlakte val in wyk 8, wat Vredenburg-Noord, Green Village en die Langebaan-lugmagbasis insluit.

Die raadslid vir die wyk is Eventhia Vaughan (DA), wat ook in die munisipaliteit se burgemeesterskomitee dien.

Die omheinde parkie in Dordrechtstraat.
Die nuwe speelpark in Vredenburg veroorsaak tweespalt. Foto: Danie Hefers

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.