Koning, geestelikes, en edelliede was verplig om hulle te onder werp aan die wreedhede van ‘n opgewonde volk wat tot raserny gedryf is. Daar is besluit tot ‘n algemene slagting van almal wat verdink is dat hulle vyandiggesind was teen die Rewolusie. Die gevangenisse was propvol. Die stede van die ryk was vol afgryslike tonele. Frankryk het die groot strydperk geword van die strydende menigte, wat heen en weer geslinger is deur die woede van hulle hartstogte. “In Parys het die een volksoploop op die ander ge-volg, en die burgers is in partye verdeel wat, soos dit geskyn het, besiel was met ‘n gees tot wedersydse uitroeiing.” En om die algemene ellende nog verder te verhoog, was die volk in ‘n langdurige en verwoestende oorlog gewikkel met die groot Europese magte. “Die land was so goed as bankrot, die leërbendes het agterstallige gasie geëis, die Parysenaars het honger gely, die provinsies is deur struikrowers verwoes, en die beskawing het weens regeringloosheid en losbandigheid byna tenondergegaan.”