Gr 8-Lewensoriëntering-Handleiding

Page 1


Graad 8 • Handleiding Lewensoriëntering

Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za

© Optimi

Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.

Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.

Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.

Reg.nr.: 2011/011959/07

Lewensoriëntering

Aangepas vir KABV

INHOUDSOPGAWE

VOORWOORD

Inleiding

Lewensoriëntering is belangrik vir jou ontwikkeling as mens. Dit leer jou om jouself te leer ken, om te verstaan hoe die wêreld werk en waar jy daarin inpas. Jy sal ook leer om verantwoordelik te wees, hoe om probleme op te los, om goeie besluite te neem en om ’n gesonde lewe te leef.

Al die leermateriaal voldoen aan KABV-vereistes. Die praktiese deel van Lewensoriëntering word Liggaamsopvoeding genoem en word aan die begin van elke eenheid behandel. Jy moet ten minste een uur per week aan liggaamsopvoeding spandeer.

Elke les is verdeel in onderafdelings. Jy moet die aktiwiteite en oefeninge voltooi om vir eksamens en toetse voor te berei. Dit sal vir jou ’n aanduiding gee of jy die werk onder die knie het.

Assesseringsplan en -vereistes

Assessering is ’n deurlopende proses om jou vordering te moniteer. Lewensoriëntering vereis sekere vaardighede. Dit sluit besluitneming, kommunikasie, selfgelding, onderhandeling, doelwitstelling, probleemoplossing en kreatiewe denke in.

Jy word op twee wyses geassesseer:

1. Informele assessering

• Dit vind tydens die onderrig- en leerproses plaas.

• Dit is gewoonlik die aktiwiteit wat aan die einde van elke les voltooi moet word.

• Die uitslae van informele assessering word nie opgeteken nie.

2. Formele assessering

• Alle assesseringstake wat deel vorm van die formele assesseringsprogram vir die jaar word as formele assessering beskou.

• Geen aktiwiteit in die handleiding is vir formele assessering nie. Verwys na die portefeuljeboek vir alle formele assesserings.

Studiewenke en -metodes

’n Mens moet nooit wag tot die aand voor ’n toets of vraestel om te begin leer nie. Dit is nooit te vroeg om goeie studiegewoontes te ontwikkel nie. Almal verskil en die motivering om te leer kom meer natuurlik vir sommige leerders. Net soos atlete moet oefen en hul vaardighede ontwikkel, moet doeltreffende studievaardighede geoefen word om goed te presteer. Hoe vinniger jy goeie studiegewoontes verstaan en toepas, hoe makliker sal die toetse en vraestelle wees, en hoe groter jou kans om goeie punte te behaal.

Wenke om jou te help om die meeste van jou Lewensoriënteringstudies te maak:

SAMPLE

• Jy kan orals leer, maar die plek moenie enige afleidings hê nie.

• Tyd is die waardevolste hulpbron. As jy sukkel om tyd te kry om te leer, moet jy prioritiseer en ’n rooster optrek.

• Wanneer jy vir toetse of eksamens voorberei, moet jy tyd neem om die werk te hersien. Begin hierdie proses deur die werk te hersien terwyl dit nog vars in jou geheue is. As jy te lank wag sal die inhoud dalk nie meer sin maak nie.

• Maak seker jy verstaan al die leermateriaal in jou handleiding. Dit is nutteloos om feite te memoriseer as jy dit nie verstaan nie.

• Toets jouself deur die selfassesseringvrae en aktiwiteite te doen. Gebruik die uitslae as ’n riglyn om te bepaal aan watter areas jy ekstra aandag moet skenk.

• Dit is belangrik om gereeld te rus – as jy te hard werk kan dit jou prestasie beïnvloed.

• Bly gemotiveerd. Jy kan jou studieruimte versier met inspirerende aanhalings of foto’s van mense wat jy trots wil maak deur goeie punte te kry.

• Beloon jouself.

Leselemente

Leerdoelwitte

Wat leerders volgens KABV-vereistes aan die einde van die les moet weet.

Definisies

Definisies van begrippe om die inhoud te verstaan.

Vir die nuuskieriges

Aanmoediging om grondige navorsing oor die inhoud te doen. Brei die aktiwiteit en oefening tot so ’n mate uit dat leerders aangemoedig word om te verken.

Vir Leerders met Spesiale Onderrigbehoeftes (LSO): verduidelik dat hulle die basiese vrae moet voltooi om ’n slaagpunt te behaal.

Aktiwiteit

Vrae wat leerders moet voltooi om hul kennis van die afgehandelde les te toets.

Kerninhoud

Beklemtoon die kern van die inhoud; ’n grondige verduideliking van ’n spesifieke afdeling van die les; leerders moet hierdie inhoud verstaan.

Oefening

Ter afsluiting van die spesifieke eenheid. Formatiewe assessering.

Jaarplan

rol van werk in verhouding tot SA se sosiale en ekonomiese behoeftes

KWARTAAL 1

LIGGAAMSOPVOEDING, SELFONTWIKKELING IN DIE SAMELEWING EN WÊRELD VAN WERK

Hierdie eenheid se Liggaamsopvoeding fokus op algemene fiksheid. Die doel is om vir jou die geleentheid te gee om aan fisiese aktiwiteite deel te neem en die waarde daarvan te besef.

Jy moet ten minste 10 uur per kwartaal aan fisiese aktiwiteite spandeer. Dit is 40 ure in totaal vir die jaar. Spandeer ten minste een uur per week aan fisiese aktiwiteite. Dra altyd gemaklike klere en goeie oefenskoene, en oefen in ’n veilige, oop ruimte soos ’n parkie of ’n rugbyveld. Ons liggaamlike gesondheid beïnvloed ons emosionele gesondheid. Daarom is Liggaamsopvoeding as deel van Lewensoriëntering só belangrik.

Die eenheid fokus ook op selfbeeldvorming en selfmotivering. Tydens adolessensie ondergaan jy emosionele en liggaamlike veranderinge. Dit is belangrik dat jy ’n positiewe selfbeeld ophou en voel dat jy deur jou portuurgroep aanvaar word. Hierdie eenheid help jou om bykomende lewensvaardighede en emosionele intelligensie te ontwikkel wat jou sal help om uitdagings te hanteer. Pas jou nuwe lewensvaardighede toe om jou potensiaal verder te ontwikkel en te gebruik. Dit sal jou help om die lewe se uitdagings suksesvol aan te pak. Seksualiteit, asook verhoudings en vriendskappe word ook behandel. Ons kyk ook na die wêreld van werk. Ons hersien kortliks die verskillende soorte leerstyle en studiemetodes wat ons in graad 7 bespreek het en dan gaan jy jou eie leerstyl identifiseer sodat jy dit op jou eie studies kan toepas.

Elke les is só saamgestel dat jy rustig daardeur kan werk. Die les word dan met ’n aktiwiteit afgesluit om jou begrip van die les te toets. Sommige van die vrae in die aktiwiteite toets jou insig terwyl ander van jou vereis om dít wat jy geleer het, toe te pas.

Leerdoelwitte

Aan die einde van hierdie eenheid moet jy:

• veiligheidskwessies met betrekking tot fiksheidsaktiwiteite ken en verstaan

• ’n fiksheidsprogram kan uitwerk en daaraan deelneem

• faktore kan identifiseer wat selfbeeldvorming en selfmotivering beïnvloed

• positief oor jouself kan praat

• strategieë en vaardighede kan toepas om jou potensiaal te bevorder

• jou eie seksualiteit verstaan

SAMPLE

• jou vriende en portuurgroep se seksualiteit verstaan

• gepaste maniere kan identifiseer om vriendskappe en verhoudings te begin en te bou

• probleemoplossingsvaardighede kan ontwikkel

• kommunikasievaardighede kan ontwikkel

• verskillende leerstyle kan identifiseer.

LES 1: ALGEMENE FIKSHEID

Definisies

• Aërobiese oefening: Aërobiese of “met-suurstof”-oefening bied kardiovaskulêre kondisionering. Dit beteken dat asemhaling die hoeveelheid suurstof wat in die bloed sirkuleer beheer om aan die energievereistes van die spiere te voldoen, sodat hulle kan aanhou beweeg.

• Balansoefening: ’n Soort oefening wat al die spiere versterk wat nodig is om die liggaam regop te hou.

• Soepelheidsoefeninge: Oefeninge wat spiere uitstrek en die liggaam se beweeglikheid by jou gewrigte verbeter.

• Weerstandsoefening: Oefeninge waar die ledemate beweeg teen die weerstand van jou eie liggaamsgewig, swaartekrag, elastiese bande, gewigte of handgewigte, om sodoende spierkrag en uithouvermoë te verbeter.

Oefening en algemene fiksheid is uitstekend vir ’n mens se liggaam en geestesgesondheid, omdat dit endorfiene vrystel. Endorfiene is chemikalieë in ’n mens se brein wat jou goed laat voel. Dit help onder meer om spanning, angs en depressie te hanteer. Mense wat gereeld oefen, is oor die algemeen gesonder en voel ook meer ontspanne.

Veiligheidskwessies met betrekking tot fiksheidsaktiwiteite

Fiksheid bestaan uit verskillende komponente en jou fiksheidsprogram moet al die komponente bevat. Die fiksheidskomponente is:

1. Kardiovaskulêre fiksheid (hart en bloedvate)

2. Spierkrag

3. Spieruithouvermoë

4. Soepelheid (opwarming en afkoeling)

5. Spoeduithouvermoë

Baseer jou fiksheidsprogram op die FITT-beginsel. Dit is ’n uitstekende manier om jou vordering te monitor:

• Frekwensie: hoeveel keer per week oefen jy?

• Intensiteit: hoe hard jy oefen en hoeveel herhalings jy van elke oefening doen.

• Tipe: watter komponent van fiksheid word aangespreek, bv. uithouvermoë.

• Tyd: hoe lank spandeer jy aan die oefening?

Neem altyd jou veiligheid in ag neem as jy oefeninge doen. Dit beteken dat jy bewus moet wees van:

SAMPLE

• saam met wie jy oefen – oefen saam met gesinslede, vriende, bure of mense wat dieselfde fiksheidsdoelwitte as jy het

• waar jy oefen – kies ’n veilige en mooi omgewing om in te oefen, en vermy verlate gebiede en strate.

• wanneer jy oefen – oefen vroeg in die oggend voor skool of laat in die middag

• waarom jy oefen – oefen jy om fiks en gesond te bly, of oefen jy om gewig te verloor?

• jou kleredrag – dra klere en skoene wat by die oefening/aktiwiteit pas

• die apparaat wat jy gebruik – die apparate wat jy gebruik moet geskik wees vir die oefening wat jy wil doen en dit moet ook in ’n goeie toestand wees.

Dit is ook belangrik om gehidreer te bly deur genoeg water te drink. Moet ook nie oefen terwyl jy siek is nie, omdat dit tot meer ernstige komplikasies kan lei. Luister na jou liggaam – as jy enige pyn of ongemak ervaar terwyl jy oefen, moet jy stop of rus.

Opwarming

Warm deeglik op voordat jy met oefeninge begin. Dit sal jou liggaam voorberei vir die oefening wat jy gaan doen. Warm vir 5 tot 10 minute op deur stadig te draf. Dit sal jou spiere gereed kry, en jou hartklop en liggaamstemperatuur verhoog. Dit verbeter ook suurstofverbruik, verhoog jou metabolisme, en verhoog bloedtoevoer na die spiere en organe. Doen dan 10 tot 15 minute se dinamiese strekoefeninge om spierstyfheid te verminder.

Daar is twee soorte strekoefeninge wat ’n mens kan doen: statiese strekoefeninge en dinamiese strekoefeninge. Statiese strekoefeninge is wanneer jy ’n spier strek en vir ’n paar sekondes lank gestrek hou sonder om enige bewegings te doen, bv. dyspierstrek (hamstring stretch), kwadrisepstrek (quad stretch), ens. Dinamiese strekoefeninge is wanneer jy jou gewrigte en spiere op dieselfde tyd strek en beweeg, bv. sterspronge (jumping jacks), afsakke (lunges), ens.

Raadpleeg eers ’n fisioterapeut voordat jy dinamiese strekoefeninge doen, veral as jy sukkel met beserings of wil seker maak dat jy dit reg doen.

Opwarmingsoefeninge

1. Begin jou opwarmsessie deur vir 5 tot 10 minute stadig te draf of vinnig te stap. As jy onfiks is, kan jy draf afwissel met stap.

2. Beweeg dan aan na dinamiese strekoefeninge vir 10–15 minute. Herhaal elke oefening 10 keer aan elke kant. Jy moet net ligte spanning op jou spiere plaas terwyl jy strek, jy moenie enige pyn ervaar nie. Nek

• Buig jou kop stadig vorentoe en dan stadig agtertoe. Herhaal 10 keer.

• Hou jou kop regop. Kyk links en kyk weer vorentoe. Kyk regs en weer vorentoe. Herhaal 10 keer na elke kant.

• Hou jou kop regop en buig jou nek na links sodat jou oor amper aan jou linkerskouer raak. Buig jou nek nou na regs sodat jou oor amper aan jou regterskouer raak. Herhaal 10 keer na elke kant.

Skouers en arms

• Strek jou linkerarm voor jou uit en gryp dit vas met jou regterarm.

• Druk jou linkerarm terug teen jou bors met jou regterarm.

• Hou die posisie vir 10 sekondes.

• Herhaal 10 keer met elke arm.

• Staan regop en hou jou arms horisontaal aan weerskante.

• Roteer jou arms in klein sirkelbewegings.

• Herhaal 10 keer vorentoe en 10 keer agtertoe.

• Strek jou arm oor jou kop en buig jou elmboog sodat jy aan jou rug raak.

• Gebruik jou ander hand om jou elmboog vas te hou en dit na die kant te trek totdat jy ’n strekking in jou arm voel.

• Doen dit met albei arms. Hou 10 sekondes vir elke arm.

• Staan regop met jou skouers ontspanne.

• Trek jou skouers op na jou ore. Hou vir 5 sekondes.

• Herhaal 10 keer.

Middellyf, bolyf en sye

• Staan regop met jou voete skouerwydte uitmekaar.

• Buig nou af en raak jou regtervoet met jou linkerhand terwyl jy jou regterhand na agter strek. Kom dadelik weer op.

• Ruil dadelik na jou regterarm en raak met jou hand aan jou linkervoet terwyl jy hierdie keer jou linkerarm na agter strek. Kom dadelik weer op.

• Herhaal 10 keer aan elke kant.

• Lê op jou arms en knieë asof jy wil opstote maak. Buig jou elmboë en jou knieë.

• Lig nou jou regterarm na bo en strek dit uit so ver as moontlik.

• Herhaal met jou linkerarm.

• Herhaal 10 keer na elke kant.

Bene

• Staan regop. Gryp nou jou regterbeen vas en trek dit op na jou boude.

• Hou die posisie vir 10 sekondes.

• Herhaal met jou ander been en hou die strekking ook vir 10 sekondes.

• Staan regop.

• Plaas jou linkervoet voor jou uit en buig jou knie teen ’n 90°-hoek, terwyl jy jou regterbeen agter jou laat sak sodat jou knie die grond raak.

• Hou die strekking vir 10 sekondes.

• Plaas nou jou regtervoet voor jou uit en herhaal die vorige stappe aan die ander kant.

• Herhaal 10 keer.

• Staan regop. Strek jou linkerarm vorentoe. Skop nou met jou regterbeen sodat jy jou linkerhand raak.

• Herhaal met jou ander been en arm.

• Herhaal 10 keer met elke been.

• Sit plat met jou bene voor jou uitgestrek.

SAMPLE

• Buig jou een been sodat jou voet teen die ander been se knie raak.

• Leun nou vorentoe en gryp die uitgestrekte voet met jou hand vas.

• Trek jou voet na jou lyf toe, sodat jy ’n strekking in jou been voel.

• Hou die strekking vir 10 sekondes.

• Herhaal met jou ander been.

Enkels

• Buig jou voet na bo en dan na onder.

• Herhaal 10 keer na bo en 10 keer na onder vir elke voet.

Afkoeling

Afkoelingsoefeninge ná ’n oefensessie is ook belangrik, omdat dit jou liggaam na sy normale toestand laat terugkeer deur jou hartklop te verlaag en jou asemhaling weer normaal te kry. Dit help die spiere om ontslae te raak van melksuur, verbeter die bloedsomloop en verminder die adrenalien in die liggaam. Sluit jou oefensessies af met 5 tot 10 minute stap of draf, en 5 tot 10 minute ligte strekoefeninge om seer of stywe spiere die volgende dag te verhoed.

Afkoelingsoefeninge

1. Begin jou afkoelsessie deur vir 5 tot 10 minute stadig te draf of te stap.

2. Staan vir ’n oomblik stil, vou jou vingers in mekaar, strek jou hande bo jou kop uit en haal diep asem. Hou jou asem vir omtrent 5 sekondes op, asem uit en laat sak jou arms. Herhaal 10 keer.

3. Beweeg dan aan na statiese strekoefeninge vir 5 tot 10 minute. Jy moet net ligte spanning op jou spiere plaas terwyl jy strek en jy moenie enige pyn ervaar nie.

Bene

• Strek jou regterbeen na vore en hou jou linkerbeen agter in ’n effens gebuigde posisie.

• Druk nou af op die gebuigde been en strek na vore.

• Jy moet ’n strekking voel in jou uitgestrekte been.

• Hou die strekking vir 10 sekondes.

• Herhaal met die ander been.

• Staan regop. Gryp nou jou regterbeen vas en trek dit op na jou boude.

• Hou die posisie vir 10 sekondes.

• Herhaal met jou ander been en hou die strekking ook vir 10 sekondes.

• Staan regop.

• Plaas jou linkervoet voor jou uit en buig jou knie teen ’n 90°-hoek, terwyl jy jou regterbeen agter jou laat sak sodat jou knie die grond raak.

• Hou die strekking vir 10 sekondes.

• Plaas nou jou regtervoet voor jou uit en herhaal die vorige stappe aan die ander kant.

• Herhaal 10 keer.

Vollyf

SAMPLE

• Staan regop met jou voete gemaklik uitmekaar en hak jou hande bymekaar in.

• Strek jou arms sover as moontlik bo jou kop uit.

• Hou die strekking so lank as moontlik.

Jou eie fiksheidsprogram

Ons gaan in hierdie kwartaal na ’n fiksheidsprogram kyk en jou help om vir jouself een saam te stel. Jy gaan aan die einde van die kwartaal deur jou fasiliteerder geassesseer word op jou deelname aan en uitvoering van aktiwiteite. Om optimale resultate te bereik met ’n fiksheidsprogram, moet jy dit ten minste vier weke lank volg. Ná vier weke kan jy die oefeninge meer herhaal en ook jou oefensessies verleng. Jy sal opmerk dat jy baie fikser en sterker is na afloop van die vier weke.

Handleiding

G08 – Lewensoriëntering

Les 1: Algemene fiksheid

Verdeel jou werk só dat jy ten minste 1 uur per dag aan die fisiese aktiwiteite spandeer. Jy sal ongeveer 20 minute van hierdie uur aan opwarmingsoefeninge (wat afkoelingsoefeninge insluit) spandeer.

Opsomming van die vier hoofgroepe van oefeninge

Jou program moet die volgende oefeninge insluit:

Oefening

Uithou/aërobies

Voordeel

• Verhoog jou asemhalings- en hartkloptempo.

• Hou jou sirkulasiestelsel gesond.

Weerstands-/ kragoefening

• Bou sterk spiere.

• Bevorder beendigtheid.

Balans

Soepelheid

• Verbeter liggaamsbewustheid.

• Help met koördinasie en om valle te verhoed.

• Verbeter jou sportprestasie.

• Verminder die risiko van beserings.

• Verbeter jou vermoë om daaglikse take te verrig.

• Jou spiere werk oor die algemeen meer doeltreffend.

• Stap

• Draf

• Fietsry

• Swem

Voorbeelde

• Rotsklim

SAMPLE

Riglyne vir ’n fiksheidsprogram

• Aërobiese oefeninge

• Hindernisbaan-oefeninge

• Gevegskuns (karate, boks, judo, ens.)

• Skaatsplankry

• Touspring

• Gewigoptel

• Reeksoefeninge (circuit training)

• Weerstandsbande

• Trappeklim

• Tuinwerk

• Staan op een been

• Handstand

• Dans

• Joga

• Gimnastiek

• Strekoefeninge

• Joga

1. Kies aktiwiteite waarin jy belangstel, wat jy graag sal wil leer doen of wat strook met jou fiksheidsdoelwitte.

2. Besluit hoeveel dae per week jy aan die aktiwiteite gaan deelneem. Jy kan enige aktiwiteite kies wat jou fiksheid gaan verbeter, soos draf, stap, rugby, netbal, swem, ens.

3. Besluit waarop jy elke dag gaan fokus, bv. Maandae = aërobiese oefeninge, Woensdae = balansoefeninge en Vrydae = soepelheidsoefeninge.

4. Probeer om elke dag ten minste vir 1 uur aan ’n fisiese aktiwiteit deel te neem.

5. Sluit altyd ’n opwarmingsroetine in.

6. Sluit altyd ’n afkoelingsroetine in.

Les 2: Selfbeeldvorming en selfmotivering

Hierdie voorbeeld gee slegs vir jou voorstelle vir hoe jy jou fiksheidsprogram moet saamstel. Dit bly egter jou keuse aan watter aktiwiteite jy hierdie kwartaal deelneem.

Voorbeeld van ’n fiksheidsprogram

Maandag Dinsdag Woensdag Donderdag Vrydag

Aktiwiteit

Draf

Opwarming

Draf vir 5 minute.

Oefening

• Draf vir 10 minute teen ’n medium pas.

• Draf vir 5 minute teen ’n vinnige pas.

• Draf vir 1 minuut voluit.

Afkoeling

Draf vir 5 minute.

Aktiwiteit Swem

Opwarming Swem 10 lengtes teen ’n rustige pas.

Oefening

• Swem 10 lengtes vryslag.

• Swem 10 lengtes rugslag.

Afkoeling

Swem 5 lengtes teen ’n rustige pas.

Aktiwiteit Tennis

Opwarming

Doen strekoefeninge vir 10 minute.

Oefening

Weeklikse wedstryd teen ’n maat.

Opwarming

Doen strekoefeninge vir 5 minute.

Aktiwiteit Dans Rus

Oefening

Weeklikse dansles van een uur lank.

Afkoeling

Doen strekoefeninge vir 10 minute.

Afkoeling

Stap rond vir 5 minute.

LES 2: SELFBEELDVORMING EN SELFMOTIVERING

Definisies

• Doelwit: Iets wat ons probeer bereik, gewoonlik binne ’n sekere tydperk.

• Individualiteit: Die eienskappe wat jou ’n individu maak. Dit onderskei jou van ander persone.

• Selfbeeld: Die beeld wat ’n mens van jouself het.

SAMPLE

• Selfmotivering: Wanneer jy die entoesiasme en dryfkrag het om te doen wat nodig is om jou doelwitte te bereik.

• Uniek: Iets waarvan daar nie twee is nie.

Hoe word jou selfbeeld gevorm?

Jou selfbeeld is die prentjie wat jy van jouself het. Party mense dink hulle is oulik, mooi, slim, sportief of cool. Ander sien hulself weer in ’n baie negatiewe lig en dit kan hul hele lewe beïnvloed. Die beeld wat jy van jouself het, is egter nie altyd hoe ander mense jou sien nie.

G08 – Lewensoriëntering

Les 2: Selfbeeldvorming en selfmotivering

Daar is baie faktore wat bydra tot jou selfbeeldvorming en selfmotivering:

• Jou gesin/familie. As jou geliefdes jou prys en goed behandel, sal dit jou goed laat voel. Maar as jy gedurig gekritiseer word, sal jy begin dink dat jy nie goed genoeg is nie. Dit kan jou ’n negatiewe idee oor jouself gee.

• Jou vriende. Hulle is die mense met wie jy die meeste tyd spandeer en in jou tienerjare is hulle opinie vir jou belangrik. Jy wil graag hê hulle moet van jou hou en jou aanvaar. Hoe hulle jou behandel beïnvloed jou selfbeeld positief of negatief.

• Die media. Sosiale media, advertensies en tydskrifte skep dikwels ’n vals beeld van wat dit beteken om suksesvol of gewild te wees.

• Selfkritiek. As jy jou met ander vergelyk kan dit jou baie negatief oor jouself maak. Sien jy net jou groot neus raak of sien jy jou mooi oë ook raak?

• Jou ervarings. Alles wat in die verlede met jou gebeur het, het ’n positiewe of negatiewe invloed op jou. Dit bepaal grootliks hoe jy vandag oor jouself dink.

• Jou verbeelding. As jy oortuig is dat jy iets nie kan doen nie, gaan jy dit moontlik nie eers probeer doen nie. Maar hoe sal jy dan ooit weet of jy dit kan doen?

• Onrealistiese verwagtinge. Jy sukkel dalk met ’n vak of twee, en nou voel jy sommer dom. Is dit egter ’n realistiese siening van jouself?

Verbeter jou selfbeeld

Een manier om jou selfbeeld te verbeter, is om vir jouself doelwitte te stel. Die volgende scenario is ’n voorbeeld van hoe iemand vir homself ’n doelwit gestel het. Jy kan dit ook op jou eie lewe toepas.

Siya is ’n baie goeie rugbyspeler. Hy blink uit in rugby en wil baie graag vir die A-span speel, daarom werk hy hard om sy doelwit te bereik. Hy staan in die oggende vroeg op en gaan draf 5 km. Hy oefen ook elke middag by die skool saam met sy huidige span. Verder eet hy gesond en drink baie water. Siya weet dat hy baie gefokus en gedissiplineerd moet wees om sy doelwit te bereik. Hy weet dat hy nie vir ewig rugby sal kan speel nie, daarom wil hy graag sportbestuur gaan studeer sodat hy eendag ’n beroep in sport kan beoefen.

Kom ons bespreek die stappe wat Siya geneem het om sy doelwit te bereik en sodoende ’n gesonde selfbeeld te bou.

1. Siya identifiseer sy talent:

• Hy speel goed rugby.

2. Hoe kan Siya hierdie talent ontwikkel?

• hy oefen hard

• hy eet gesond

• hy kry professionele afrigting.

3. Siya stel ’n doelwit en ’n tyd wanneer hy dit wil bereik:

• Hy wil met die volgende proewe die A-span haal.

4. Siya identifiseer sy sterk punte wat hom sal help om sy doelwit binne die gegewe tyd te bereik:

• hy is fiks en sterk

• hy het talent

• hy oefen hard

• hy is gefokus

Les 2: Selfbeeldvorming en selfmotivering

Jy kan hierdie stappe ook op jou eie lewe ook toepas. Jy moet selfgemotiveerd wees om jou doelwitte te bereik. Bepaal jou selfmotivering deur hierdie vrae te beantwoord:

1. Beplan jy jou dag vooruit?

2. Hou jy gewoonlik by jou plan vir die dag?

3. Stel jy vir jouself akademiese doelwitte?

4. Word jou aandag maklik van jou doelwit afgelei?

5. Stel jy gereeld dinge uit?

6. Is dit vir jou moeilik om dinge te doen wat nie vir jou lekker is nie?

As jy JA op vraag 1–3 en NEE op vraag 4–6 geantwoord het, is jy baie selfgemotiveerd. As jy egter anders geantwoord het, sal dit goed wees om aan jou selfmotivering te werk.

Kweek positiwiteit

Positiwiteit is ’n keuse. Jy bepaal self hoe jy voel en dink. Dit voel dalk moeilik om positief te bly as jou omstandighede nie positief is nie, maar jy kan besluit hóé jy dit gaan hanteer.

Positiwiteit hou voordele in:

• Dit is wetenskaplik bewys dat positiewe mense gesonder is en langer lewe.

• Positiewe mense presteer beter op skool en het beter persoonlike verhoudings.

• Positiewe mense kan vinniger oplossings vir probleme vind.

Wanneer jy jou lewe saam met jou gesin en vriende geniet, en dit gaan goed met jou by die skool en jy is vir ander ook goed, dra dit by tot ’n positiewe uitkyk op die lewe. Positiewe mense neem dinge nie te ernstig op nie en voel dat hulle ’n doel in hul lewe het.

Let ’n bietjie op na jou emosies en hoe jy oor jouself voel: Help hierdie emosies jou om jou drome te verwesenlik of demp dit jou? Jy kan self kies om meer positief te wees.

Identifiseer jou unieke eienskappe

Elke mens het ’n unieke persoonlikheid met unieke eienskappe. Dit maak van jou ’n individu. Dit is belangrik dat jy jou unieke eienskappe raaksien en dit ten volle ontwikkel. Dit sal jou prestasie beïnvloed. Beantwoord die volgende vrae oor jouself:

• Wie is ek?

• Waarvan hou ek en waarvan hou ek nie?

SAMPLE

• Wat is my sterk eienskappe?

• Watter eienskappe sal ek graag wil verander?

• Omring ek my met positiewe of negatiewe mense?

• Watter eienskappe onderskei my van ander mense?

Gaan dink nou mooi na oor jou antwoorde op die bogenoemde vrae. Probeer jou unieke eienskappe identifiseer en skryf dit neer.

Ontgin jou potensiaal

Jou persoonlike potensiaal is jou vermoë om ’n doelwit te bereik. Jy is daarmee gebore en dit is binne-in jou. Almal se potensiaal verskil – een kind in ’n gesin het dalk die potensiaal om ’n provinsiale atleet te word terwyl die ander kind die musikale potensiaal het om ’n beroemde sanger te word.

Les 2: Selfbeeldvorming en selfmotivering

As jy jou gawes en aanleg identifiseer, sal jy ’n goeie idee hê wat jou potensiaal is. Maar hoe identifiseer jy dit? Dit is nie so moeilik as wat jy dink nie. Goeie selfkennis en ’n goeie selfbeeld sal jou help om jou potensiaal te identifiseer en te ontwikkel.

Die eerste stap is om jouself af te vra: Waarmee is ek goed? Jy swem dalk baie goed. Jy swem vir ’n klub en wen al jou items. Jou afrigter voorspel dat jy eendag vir die nasionale span kan swem. Hy meen dus dat jy die potensiaal het om dit te bereik. Of jy is dalk baie goed met jou hande. Jy kan enigiets ontwerp en bou – selfs masjiene. Akademies vaar jy goed in wiskunde en wetenskap. Jy het dus die potensiaal om ’n ingenieur te word. Tweedens moet jy jouself afvra: Hoe kan ek my potensiaal ontwikkel?

Jy ontwikkel jou potensiaal deur vir jouself haalbare doelwitte te stel. As jy die swemmer is, sal jy fokus op jou oefenprogram en dieet. Jy kan dalk professionele afrigting ontvang. As jy die ingenieur wil word, sal jy fokus op jou akademiese prestasie. Jy sal jou wiskunde- en wetenskappunte probeer verbeter, en nalees oor jou belangstelling.

Kerninhoud

Elke mens het ’n selfbeeld. Jou selfbeeld bepaal jou hele lewe en ook jou gedrag. Jou kans om prestasies en sukses te bereik hang daarvan af.

Mense met ’n goeie, gesonde selfbeeld het eieliefde en aanvaar hul foute. Sulke mense is positief en fokus op hul goeie eienskappe. Hulle erken dat hulle nie van al hul eienskappe hou nie, maar kies om dit te probeer verbeter in plaas daarvan om negatief te wees.

Mense sukkel soms om hulself te aanvaar. Hulle het ’n swak selfbeeld en daarom kan hulle nie hul volle potensiaal bereik nie.

Dit is belangrik dat jy positief oor jouself voel en ook positief oor jouself praat. Dit sal jou help om persoonlike prestasies te behaal en om jou doelwitte bereik.

Vir die nuuskieriges

Doen navorsing oor enige bekende persoon wat persoonlike terugslae oorkom het om vandag suksesvol te wees. Hoe het hierdie persoon hulle potensiaal ontwikkel?

Aktiwiteit 1

Maak ’n collage van vier dinge wat jou selfbeeld beïnvloed. Jy moet in die collage op materiële (aardse) dinge fokus en nie op mense nie. Dit kan dinge wees wat jou positief óf negatief beïnvloed, soos selfone, klere, motors, ens. Jou collage moet ’n halwe A4-bladsy wees. Nadat jy die collage voltooi het, moet jy die vrae beantwoord.

1. Wat is jou opinie oor die items wat jy in jou collage geplak het? Dink jy dat jy as tiener jou selfbeeld deur die dinge moet laat beïnvloed? Verskaf vyf goeie stellings wat jou opinie hieroor duidelik maak. (5)

2. Wat dink jy sal gebeur as iemand hulle geluk en selfbeeld op materiële besittings baseer? Noem twee gevolge. (2)

3. Verduidelik kortliks jou collage. Waarom het jy die spesifieke vier dinge gekies en op watter manier beïnvloed elkeen jou selfbeeld? (8) [15]

LES 3: KONSEP: SEKSUALITEIT

Definisies

• Groepsdruk: Die invloed wat ander mense van jou ouderdom en sosiale groep op jou het om deur hulle gerespekteer en aanvaar te word.

• Seksualiteit: Die gesamentlike kenmerke wat ’n individu manlik of vroulik maak. Dit behels ’n persoon se seksuele lewe, gevoelens, behoeftes en aktiwiteite.

• Waardes: Gedragsbeginsels of -standaarde; jou oordeel van wat belangrik en waardevol in die lewe is.

Wat is seksualiteit?

Die gesamentlike kenmerke wat jou manlik of vroulik maak, word jou seksualiteit genoem. Dit behels jou seksuele lewe, gevoelens, behoeftes en aktiwiteite. Jou seksualiteit en geslagsbewustheid ontwikkel nog op hierdie stadium. Jou liggaam én emosies gaan verander, en jy mag dalk nie altyd jou eie gevoelens en optrede verstaan nie.

Daarom moet jy geduld hê met jouself. Dit is ook belangrik om ’n goeie ondersteuningstelsel op te bou sodat jy altyd met iemand kan gesels en jou gevoelens kan deel.

Jou opinie en gevoelens oor seks sal bepaal hoe jy jou seksualiteit benader en dit hanteer. Geslagsvoorligting sal jou die nodige kennis gee om ingeligte besluite oor jou eie seksualiteit te kan neem.

Faktore wat seksualiteit beïnvloed

• Vriende en groepsdruk

Jou vriende het elkeen hul eie siening oor seksualiteit. Hulle siening word deur hul ouers, familie, kultuur, godsdiens en gemeenskap gevorm. Julle norme en waardes is moontlik dieselfde, of dit verskil dalk heeltemal. Vriende kan soms verkeerde inligting met jou deel wat jou ’n vals idee oor seksualiteit gee en jou dan swak besluite laat neem.

Groepsdruk beïnvloed ook jou seksualiteit in ’n groot mate. Jy kan dalk in ’n vriendekring beland wat druk op jou plaas om aan sekere seksuele aktiwiteite deel te neem waarmee jy nie gemaklik voel nie. Jy doen dit dan net omdat jy nie uitgesluit wil word nie.

SAMPLE

• Gesin en die gemeenskap

Jy leer gewoonlik in jou gesin oor die rolle van mans en vroue. Dit is ook hier waar jou waardes gevorm word. Faktore soos egskeiding, mishandeling en jou ouers se verhouding met mekaar, kan jou siening van seksualiteit beïnvloed. Jy kan seksualiteit dalk ervaar as ’n magstryd tussen jou ouers of die idee kry dat die een geslag minderwaardig behandel mag word. Studies toon dat tieners uit gemeenskappe met ’n laer sosio-ekonomiese status geneig is om seksueel meer losbandig wees omdat daar gewoonlik nie volwasse toesig is nie aangesien ouers lang ure moet werk.

• Kultuur en godsdiens

Seksuele norme het met tyd verander. Dit verskil ook tussen kulture en godsdienste. Party kulture beskou die onderwerp as taboe en ouers bespreek dit glad nie met hul kinders nie. Sekere gelowe verbied voorhuwelikse seks en beskou dit as ’n ernstige oortreding wat strafbaar is. In party kulture is dit egter weer ’n vereiste dat die vrou reeds voor die huwelik kan bewys dat sy vrugbaar is deur ’n kind te hê.

• Sosiale druk en die media

Die internet, sosiale media, tydskrifte, TV en die radio is vorme van media waarmee tieners elke dag in aanraking kom. Al hierdie mediavorme beïnvloed jou as tiener. Die media gebruik dikwels mense se seksualiteit om boodskappe oor te dra en produkte begeerlik te maak. Rolmodelle het ’n groot aandeel aan hoe tieners hul selfbeeld vorm. Die manier waarop ’n rolmodel hulle seksualiteit uitbeeld, kan dus ook jou gedrag beïnvloed.

Bestudeer die volgende foto’s waarin bekendes parfuum bemark:

As jy na die foto’s kyk, wat sien jy eerste raak? Die produk of die persoon wat die produk bemark? Produkte word dikwels geadverteer op so ’n manier dat jy die produk met die persoon sal assosieer. Dit is omdat die bemarker by jou die begeerte wil skep om soos daardie persoon te wees of te lyk, hetsy sexy, sportief of suksesvol. Hulle gee jou dan die indruk dat jy soos hierdie persoon kan wees indien jy die produk gebruik. Die beeld wat van die bekende se vroulikheid of manlikheid geskep word, word dus gebruik om jou te beïnvloed. Wat baie tieners egter nie besef nie, is dat dit net ’n illusie is en dat dit baie ver van die waarheid is. Daarom is baie mense teleurgesteld as hulle die produk koop en dan nie voel soos die advertensie voorgehou het hulle sal voel nie.

Probleemoplossingsvaardighede

SAMPLE

Dit is belangrik om goeie probleemoplossingsvaardighede te hê. Dit help met die vorming van jou identiteit en ontwikkeling as ’n persoon. Ons kry daagliks met probleme te doen. Hoe ons hierdie probleme oplos, dra by tot ons persoonlike ontwikkeling. As jy nou al jou probleme op ’n volwasse wyse kan hanteer, sal jy dit later in jou lewe nog beter kan doen.

Volg hierdie stappe om ’n probleem op te los:

• Indien die probleem vir jou te groot lyk, kan jy dit in kleiner gedeeltes verdeel. Dit is makliker om een gedeelte op ’n slag aan te pak.

• Vra raad by iemand wat jy vertrou.

• Stel vir jouself langtermyndoelwitte om jou probleem op te los.

• Besluit hoe jy die probleem gaan oplos – dit is jou aksieplan.

• Stel jou plan in werking en kyk of dit die gewenste resultate lewer.

Kerninhoud

Dit is belangrik om te leer van seksualiteit en die faktore wat jou seksualiteit beïnvloed. Jy moet begrip vir jouself hê en weet dat die veranderinge waardeur jy nou gaan jou voorberei om ’n volwassene te word.

Jy moet die faktore wat jou konsep van seksualiteit beïnvloed kan identifiseer en vir jouself kan onderskei tussen reg en verkeerd. Jy moet ontwikkel tot ’n persoon wat jou eie waardes en norme vorm.

Die media stel jou ook bloot aan allerhande idees oor seks en die verskil tussen die geslagte. As jy ’n goeie, positiewe idee oor jou eie seksualiteit het, sal jy al die inligting kan gebruik om ingeligte besluite te neem.

Vir die nuuskieriges

Doen die volgende navorsing net vir interessantheid: Gebruik die internet om navorsing te doen oor hoeveel glanspersoonlikhede (celebrities) al in advertensieveldtogte verskyn het en hoeveel geld hulle daarvoor verdien. Dink jy nie dat hulle tog in ’n mate uitgebuit (misbruik) word nie, al verdien hulle so baie geld daarvoor?

Aktiwiteit 2

Kies enige plaaslike of internasionale TV-reeks waarmee jy bekend is, bv. Stranger Things, Binnelanders of Skeem Saam. Plak of teken ’n prentjie van die TV-reeks se logo in jou werkboek. Skryf ’n kort opstel van 100–150 woorde en beskryf die invloed wat hierdie TV-program veral op tieners het. Dink jy die situasies wat in die reeks plaasvind is lewensgetrou? Kan jy en jou maats julle daarmee vereenselwig? Jou eie interpretasie en opinie is belangrik. Jy moet duidelik kan weergee hoe die media tieners beïnvloed. (10)

1. Jy gaan punte vir die volgende verdien:

2. Inleiding (2)

3. Inhoud (6)

4. Slot (2) [10]

LES 4: VERHOUDINGS EN VRIENDSKAPPE Definisies

SAMPLE

• Verhouding: Die interaksie tussen twee persone.

• Empatie: Om begrip te hê vir ander se gevoelens.

Gesonde verhoudings

In jou tienerjare speel jou verhoudings ’n baie groot rol in jou sosiale lewe. Party van jou maats gaan dalk in romantiese verhoudings begin betrokke raak. Jy kan wag tot die tyd vir jou reg voel om daardie soort verhoudings aan te knoop – jy is dalk heeltemal gelukkig om net ’n groep vriende te hê.

Handleiding G08 – Lewensoriëntering

Les 4: Verhoudings en vriendskappe

Eerlikheid, respek en vertroue vorm die basis van ’n goeie verhouding. Dit is die eienskappe waarna jy moet soek in ’n vriendskap. Dit maak nie saak hoe jou vriende lyk of watter klere hulle dra nie. Niemand is perfek nie en jy sal nooit die perfekte vriend/in vind nie. Jy kan nie iemand anders verander nie, so jy moet hulle aanvaar net soos hul is. Jy moet self besluit of jou vriend/in meer goeie as slegte eienskappe het.

Jy moet ook besef dat jou vriendskappe nie altyd net lekker sal wees en goed sal gaan nie. Elke verhouding het uitdagings. Jy gaan soms twyfel oor die verhouding of vriendskap, en jy sal soms seergemaak voel. Dit is egter heeltemal normaal. ’n Verhouding moet jou nooit negatief affekteer nie, dit moet jou positief beïnvloed.

Kommunikasie is baie belangrik in ’n verhouding. Vriende moet hul gevoelens met mekaar kan deel en jy moet nie skaam voel om met jou maat te gesels nie.

Dit is gewoonlik makliker om ’n vriendskap aan te knoop as ’n romantiese verhouding. As jy van iemand hou, voel jy dalk senuweeagtig as jy by hulle is en jy weet dalk nie altyd wat om te sê nie. Dit is belangrik dat jy net jouself sal wees. As jy genoeg moed bymekaar geskraap het om iemand uit vra, volg die eerste afspraak. Probeer aandagtig luister en belangstelling toon tydens die afspraak. Moenie net oor jouself praat nie.

Hoe om ’n gesonde verhouding te hê

Goeie en sterk verhoudings is gebaseer op eerlikheid, vertroue en respek. Dit is nie altyd maklik om ’n gesonde verhouding te handhaaf en te versterk nie. Dit verg baie opoffering. Die belangrikste aspekte van ’n verhouding, hetsy ’n vriendskap of ’n liefdesverhouding:

• Wees ten alle tye eerlik. Leuens kan verhoudings vernietig.

• Vertrou jou maat. Jy moet nie aan jou maat se lojaliteit en integriteit twyfel nie.

• Kommunikasie is baie belangrik. Dit help om mekaar te verstaan en met probleemoplossing. Deel al jul gevoelens en drome met mekaar.

• Wees versigtig hoe jy iemand kritiseer. Jy kan iemand se gevoelens baie seer maak en die persoon se selfbeeld afbreek.

• Moenie jou maat in die steek laat nie. As jy sê dat jy iets gaan doen, doen dit. Jy moet jou beloftes nakom.

• Luister na jou maat. Dit sal hulle die vrymoedigheid gee om met jou oor enigiets te kan praat.

• Bly selfstandig. Moenie so afhanklik van jou maat word dat jy niks meer sonder hulle wil doen nie.

Probleemoplossingsvaardighede in ’n verhouding

Alle verhoudings het op ’n stadium uitdagings. ’n Mens het goeie probleemoplossingsvaardighede nodig om ’n verhouding te handhaaf.

Hoe weet jy dat daar ’n probleem in die verhouding is?

• Jou maat tree skielik anders teenoor jou op.

• Jou maat antwoord nie jou oproepe en boodskappe nie.

• Jou maat gaan saam met ander mense uit.

• Jou maat is nie sensitief vir jou gevoelens nie.

Jy moet ’n eerlike gesprek met jou maat hê as jy voel dat daar ’n probleem is. Wees sensitief vir jou maat se gevoelens en luister wat hulle vir jou sê. Vind saam ’n oplossing. Neem saam die besluit om met die verhouding voort te gaan of om dit te beëindig.

Hoe om ’n verhouding gepas te beëindig

Dit gebeur selde dat al twee persone in ’n verhouding op dieselfde tydstip die verhouding wil beëindig. Iemand voel gewoonlik seergemaak. Dit is nooit ’n aangename situasie nie. Indien jy ’n verhouding wil beëindig, probeer om dit op ’n gepaste en sensitiewe manier te doen:

• Wees eerlik oor waarom jy die verhouding wil beëindig en oor jou gevoelens. Moenie jou maat laat voel dat jy hulle blameer nie.

• Neem jou maat se gevoelens in ag. Gaan hulle dalk deur ’n moeilike situasie? Wees sensitief vir hul omstandighede.

• Kommunikeer die boodskap op ’n positiewe wyse. Moenie aanvallend wees nie.

• Bly by jou besluit. As jy die verhouding beëindig het, sluit dit af.

Kerninhoud

Jou vriendskappe en verhoudinge in jou tienerjare is van die belangrikste wat jy ooit sal hê. Sienings van verhoudings word in hierdie tyd gevorm. Jy sal jou ondervindinge saam met jou dra tot met volwassenheid. Dit sal ’n invloed hê op hoe jy verhoudings begin, behou en beëindig.

Die manier hoe jy probleme leer oplos bepaal hoe jy dit in die toekoms sal benader. Dit is voordelig as jy nou al leer om dit reg te hanteer sodat jy nie later in jou lewe met verhoudingsprobleme sukkel nie.

Jou kommunikasievaardighede word ook nou vasgelê. Dit bepaal jou sosiale lewe. Mense hou meer van iemand wat maklik kommunikeer. Mense wat hulself eenkant hou en swak kommunikeer word dikwels uitgeskuif. Dit is ook ’n vaardigheid wat jou eendag in jou werksplek sal bevoordeel of benadeel.

Aktiwiteit 3

SAMPLE

Lees die onderstaande en beantwoord die vrae wat volg. Meliha en Remzi het mekaar op ’n uitstappie ontmoet. Meliha het gedink Remzi het die mooiste bruin oë. Sy het dadelik baie van hom gehou. Remzi was weer mal oor Meliha se vriendelike en aangename geaardheid. Remzi en Meliha het dadelik vas begin uitgaan. Hulle het alles saam gedoen. Remzi het egter later sy vriende begin mis en het al hoe meer saam met hulle begin kuier. Dit het Meliha baie vies gemaak en hulle het daaroor begin baklei. Meliha het toe vir Ali ontmoet. Sy het besef dat sy eerder met Ali wil uitgaan.

1. Noem die eienskappe wat Meliha en Remzi in die begin van die verhouding na mekaar aangetrek het. (2)

2. Dink jy dat dit genoegsame rede was om ’n langtermynverhouding te bou? Motiveer jou antwoord. (2)

3. Watter twee soorte gedrag was onvanpas in die verhouding? (2)

4. Waarom dink jy het hierdie verhouding nie geslaag nie? Noem twee foute wat uitstaan. (2)

5. Hoe, dink jy, moet Meliha te werk gaan om hierdie verhouding te beëindig? Noem twee strategieë. (2) [10]

LES

5: VERSKILLENDE LEERSTYLE

Definisies

• Kinesteties: Die gewaarwording van jou liggaamsbeweging wanneer jou spiere en liggaamsdele beweeg.

• Studiemetodes: Die metode wat jy gebruik om feite te memoriseer sodat jy dit korrek kan weergee.

Die vyf verskillende leerstyle

Elke persoon het sy eie manier van leer. Ons behandel vyf verskillende leerstyle:

1. Kinesteties

• Leer deur beweging en deur aktiwiteite te doen soos byvoorbeeld om iets te bou, toneelspel, rolspel of dans.

• Sukkel om dinge te leer deur net te kyk en luister.

• Praat nie baie nie en gebruik veral liggaamstaal.

• Wil aktief die wêreld verken en sit nie lank op een plek stil nie.

• Verkies om buite te speel. Hardloop en klim graag, en het baie goeie koördinasie

• Geniet groepsaktiwiteite.

• Hou van aanraking en is baie liefdevol.

• Is fyngevoelig en kan maklik seergemaak voel as iemand jou nie goed behandel nie.

• Kry soms woede-uitbarstings.

2. Visueel

• Leer deur iets te sien.

• Onthou in prente en beelde.

• Geniet dit om te teken en te ontwerp.

• Geniet kunsaktiwiteite en visuele speletjies, soos speletjies met flitskaarte.

• Het nie so ’n groot woordeskat nie en gebruik kort sinne as jy praat.

• Ruil soms jou woordorde om wanneer jy praat.

• Kan meer as een ding op ’n slag doen.

• Hou nie van aanraking nie en is nie baie emosioneel nie.

• Verstaan glad nie ander mense se woede-uitbarstings nie.

SAMPLE

• Onthou aktiwiteite beter as jy dit gesien het.

3. Ouditief

• Leer deur te luister. Verkies om inligting te hoor eerder as om dit te lees.

• Kan aandagtig luister vir ’n geruime tyd.

• Hou daarvan om met mense te kommunikeer en na hulle opinies te luister.

• Heg nie veel waarde aan geskrewe inligting nie.

4. Linguisties

• Leer deur te lees en skryf.

• Leer ook deur te praat en te luister.

• Hou daarvan om te debatteer.

• Vertel en skryf graag stories.

• Lees baie boeke en soek nuwe inligting.

5. Logies/wiskundig

• Leer deur feite self uit te redeneer.

• Werk graag met probleme en syfers.

• Leer deur kritiese denke te gebruik.

• Leer deur berekeninge, eksperimente en deur feite te bevraagteken.

Kerninhoud

Die les verduidelik kortliks wat elke leerstyl behels. Dit gee jou ’n aanduiding van jou spesifieke leerstyl. Jy kan dit toepas wanneer jy jou studiemetodes herevalueer.

Vir die nuuskieriges

Identifiseer jou spesifieke leerstyl en gaan kyk op die internet of jy nog inligting daaroor kan kry.

Aktiwiteit 4

Voltooi die volgende tabel.

Leerstyl Jy leer deur Aktiwiteite wat jy geniet Jou leermetodes

Kinesteties

Visueel

Ouditief

Linguisties

Logies/ wiskundig

Oefening 1: Oopboektoets

Die oopboektoets tel nie vir assessering nie.

1. Gebruik prente, foto’s en woorde om ’n A4-plakkaat te ontwerp wat die verskillende soorte verhoudings uitbeeld (gebruik hierdie riglyne):

• Vriendskappe met jou portuurgroep

• Verhouding met jou ouers

• Verhouding met jou broers of susters

• Verhouding met jou onderwysers of fasiliteerders

• Verhouding met jou kêrel of meisie

• Verhouding met jou beste vriend of vriendin (7)

2. Beskryf elke verhouding kortliks. (7)

3. Beskryf hoe elke verhouding jou selfbeeld beïnvloed. (7)

4. Beskryf hoe elke verhouding jou persoonlike besluite beïnvloed. (7)

5. Noem twee redes waarom jy dink dit is belangrik om verhoudings met ander mense te hê. (2) [30]

[15]

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.