13 minute read

EENHEID 2: Die toekoms wag

Next Article
VOORWOORD

VOORWOORD

LEERDOELWITTE

Nadat jy hierdie eenheid voltooi het, moet jy die volgende kan doen:

 Geïntegreerde taaloefeninge voltooi.  ’n Opsomming van ’n leesstuk maak.  ’n Begripsleesaktiwiteit voltooi.

Les 5: Taal in konteks

LEERDOELWITTE

Aan die einde van hierdie les behoort jy:  Woordsoorte te kan identifiseer.  Sinne te kan omskakel van direkte na indirekte rede en andersom.

Verwys na bylae A agter in die handleiding, waarin al die taalaspekte verduidelik word.

’n Kort opsomming van woordsoorte

(Verwys na bylae A vir ’n meer omvattende verduideliking.)

 Selfstandige naamwoord (noun) – Dit is die naam wat ons aan voorwerpe en dinge gee, bv. tafel, stoel, boom, ens. Selfstandige naamwoorde het ook verkleinwoorde, meervoude en kan ’n lidwoord vooraan kry. Ons kry konkrete selfstandige naamwoorde (kan dit sien en voel) of abstrakte selfstandige naamwoorde (begrippe soos liefde, vriendskap, ens.).  Hoofwerkwoorde (verb) – Dit is “aksiewoorde”, bv. sit, loop, aanbid, ens.  Byvoeglike naamwoorde (adjective) – Beskrywende woorde voor ’n selfstandige naamwoord.  Bywoorde (adverb) – Beskrywende woorde voor ’n werkwoord.  Lidwoorde (article) – ’n of die  Voornaamwoorde (pronoun) – Dit word gebruik in die plek van ’n selfstandige naamwoord.  Telwoorde (tel = count) – Getalle en woorde wat op getalle dui (bv. hope, paar).

AKTIWITEIT 18

Lees deur die onderstaande uittreksel uit die kortverhaal “Kaptein Duiwel” en beantwoord dan die vrae.

Kaptein Duiwel Dana Snyman

Vyftig myl voor Pofadder ruk die Hillman Vogue ’n paar keer, proes ’n slag en vrek.

Pa haal hom uit rat uit en draai en draai die sleutel, maar hy is dood.

“Wat nou, my hartjie?” vra Ouma. “Is dit die fênbelt?”

Pa byt net op sy tande en swaai die Vogue tot op die gruis langs die teer, regoor die bordjie wat sê: Pofadder 50. Toe klim hy in die warm son uit en maak die enjinkap oop.

Dit is Nuwejaarsdag en ons is vieruur vanoggend al op Daniëlskuil weg, op pad Pofadder toe vir oom Gertjie Niemoller se Nuwejaarsbraai.

Ons ander klim ook uit: eers Ma wat voor sit, dan ek, Oupa en Ouma met haar kierietjie.

Ons gaan staan langs Pa by die enjin.

Ouma wys met haar kierietjie na die battery. “Is dit nie die fênbelt nie, hê?”

“Nee, Mammie, dis nie die fênbelt nie.”

Oupa stap tot in die middel van die pad. Sy hemp natgesweet tussen sy blaaie.

“As die son jou vandag hier alleen kry, brand hy jou dood” sê hy en kyk met skrefiesoë oor die kaal vlakte rondom ons uit. Daar is nie ’n kar in sig nie, net stilte en klippe en telefoonpale en tolbosse wat in die warm wind rol.

Pa skud sy kop en sê: “Ons sal maar moet wag vir hulp. Ek dink sy het bearings geslaat.” ’n Halfuur tik verby op die dashboard se horlosie. ’n Uur.

Later begin Pa en Oupa bereken hoe lank sal ons kan oorleef op die water in die Hillman se radiator terwyl ek begin huil en Ma vertel van die storie wat sy in ’n tydskrif gelees het van ’n vliegtuig wat in die Andesgebergte geval het met ’n klomp rugbyspelers in en hoe hulle later die dooies begin eet het.

“Wag, wag, hier kom nou iets.” Oupa beduie na ’n beweging in die verte.

Eers lyk dit na ’n trein, maar dit word ’n tamaaie lorrie wat oor die vlakte aangebewe kom.

En hy gewaar ons, want hy toet. Toe grom hy in ’n laer rat in en kom bewend en blasend langs ons tot stilstand. Die deur swaai oop. ’n Leë bottel val uit en breek op die teerpad. ’n Man in ’n wit stofjas kom agterna, wiegend op sy voete.

“Jis, jis, howzit, dit smaak my julle het troubles! But don't fear when Kleingiel Stols is near – hulle noem my nie verniet die Kaptein Duiwel van De Aar nie."

Hy gaan peuter onder die enjinkap, stap om en draai die Hillman se sleutel. Maar niks gebeur nie.

Ouma loer saam met hom oor die enjin. “Is dit nie die fênbelt nie, Meneer?”

“Klink vir my na die coil, my antie.” Hy kyk op sy horlosie. “En dis Nuwejaar. Jy sal nie nou ’n nugter mechanic kry nie. Ek sal julle moet insleep.”

Pa kyk na Kaptein Duiwel, toe na die gebreekte bottel in die pad en toe die verte in. Hy knik.

“Dit sal gaaf wees. Jy verongeluk ons net nie.”

Kaptein Duiwel bring ’n dik tou en bind dit eers aan die lorrie se agterkant, toe aan die Hillman se stamper. Nie lank nie, toe pluk daai tou styf. En daar gaat ons, al agter die lorrie aan.

“Stadig!” roep Pa en gryp die stuurwiel met albei hande vas. “Ho!”

Maar die lorrie gee net ’n brul en spoeg ’n donker rookwolk onder sy maag uit.

“Is die man van sy trollie af!” bulder Oupa. “Toet vir hom!”

Pa lig sy hand om te toet, maar Kaptein Duiwel ruk die lorrie so vinnig oor die witstreep terug dat dit voel asof ons op die Big Dipper by die Randse Paasskou is.

Ma kyk nie eens op nie, sy lees een van haar Mills & Boon-boekies.

“Ek sê, toet vir die fool!” beveel Oupa weer.

Pa toet, maar bokant die lorrie se gebrul kan niemand iets hoor nie. En die Hillman se speedometer staan klaar op 60 myl per uur.

Toe opeens, kom iets van voor af deur die lug gevlieg. Dit val op die klippe langs die pad en spat in stukkies.

“Dis ’n wynbottel!” roep Pa en gryp weer na die stuurwiel, want Kaptein Duiwel is al weer met ons aan die verkeerde kant van die pad.

Identifiseer die volgende woordsoorte uit die uittreksel. 1. 10 selfstandige naamwoorde (Gee ook hulle verkleining, meervoude en Engelse vertaling.) 2. 10 werkwoorde 3. Vyf byvoeglike naamwoorde 4. Twee lidwoorde 5. Twee bywoorde 6. Vyf voornaamwoorde 7. Een telwoord

AKTIWITEIT 19

1. Kyk na die onderstaande strokiesprent en skryf die ontbrekende woorde in die paragraaf, wat in die indirekte rede is, neer.

Die seun het 1.1 ______ (emosie) gevra 1.2 _______die meisie 1.3 _________ saam met 1.4_______ sou gaan fliek. Die meisie het 1.5 _______ (emosie) geantwoord dat 1.6 ______ al so lank wag dat 1.7__________ moet vra.

UM…UM...UM...SAL JY MÔREAAND SAAM MET MY GAAN FLIEK?

2. Herskryf die sinne met die nodige leestekens. 2.1 Die student vra Moet ons al hierdie werk leer mevrou Kotze 2.2 Ja Peter julle skryf mos môre ’n toets antwoord mevrou Kotze

3. Herskryf die sinne oor in die direkte rede. 3.1 Die seun het ontsteld uitgeroep dat hy sy beursie verloor het. 3.2 Sy vriend het gevra of hy nie dalk sy beursie daardie oggend by die huis gelos het nie.

4. Herskryf die sinne deur met die woorde tussen hakies te begin. 4.1 “Het jy gisteraand gewerk, Thabo?” het Ben gevra. (Ben het vir Thabo gevra ...) 4.2 Die vrou sê: “Maak gou, kinders, anders gaan ons laat wees!” (Die vrou beveel ...) 4.3 Die matrikulant het gesê: “Ons werk is vanjaar baie moeiliker as verlede jaar.” (Die matrikulant het gesê dat ...)

AKTIWITEIT 20

Gebruik die onderstreepte woord(e) in ’n sin sodat die ander betekenis (antonieme) na vore kom.

1. Kaptein Duiwel vier Kersfees. 2. Hulle ry deur die dorp. 3. Dit het geen sin om te jaag nie. 4. Die motorwerktuigkundige werk dat dit klap. 5. Hy sak langs die kar neer.

Les 6: Leesbegrip, taal, opsomming en visuele geletterdheid

LEERDOELWITTE

Aan die einde van hierdie les behoort jy:  Leesbegrip te oefen.  Taaloefeninge te voltooi.  Oefen om ’n opsomming te maak.  Vrae oor visuele geletterdheid te beantwoord.

AKTIWITEIT 21

Lees die teks en beantwoord die vrae wat volg.

Interessante beroepe vir die volgende generasie

1. Baie van ons geniet flieks met diere as hoofkarakters. The Life of Pi, Lassie come home,

Operation Dumbo Drop en selfs Tarzan of the Apes het heelwaarskynlik die reuse-sukses by die loket te danke aan die dierekarakters wat hoofrolle vertolk het in dié legendariese films. 2. Suid-Afrika is besig om te ontluik in die filmwêreld. Al wat ons nou nodig het, is ’n fliek met ’n viervoetige of ’n geveerde hoofkarakter wat die ganse wêreld sal laat skater of beangs aan mekaar laat vasklou. Is jy dalk die nuwe Cesar Millan wat dieregedrag kan beheer en verander? Indien wel, dan het die SA filmbedryf jou nodig. 3. Diere het hulle eie geaardhede, hulle gedra hulle soos hulle wil totdat hulle met ’n diere-afrigter te doen kry. ’n Diere-afrigter is iemand wat baie lief is vir alle diere en ook baie geduldig is, iemand wat bereid is om baie tyd saam met diere deur te bring en wat die potensiaal in hulle raaksien sonder om die diere se natuurlike geaardhede te verander. 4. Om diere af te rig, moet jy definitief eers ’n matrieksertifikaat hê. Jy sal dieregedrag moet bestudeer. Die gedrag moet onder gunstige en minder gunstige omstandighede bestudeer word. Hierdie kennis kan slegs deur navorsing opgedoen word. Dit mag beteken dat jy as vrywilliger in dieretuine, skuilings vir hawelose diere of by marine sentrums moet gaan werk oor naweke en vakansies. Dieregedrag kan ook nie net in die daglig bestudeer word nie, so weet maar dat jy nie meer elke nag jou gewone agt zzzz gaan inkry nie. Jy sal ook self baie fiks moet bly. 5. Diere word soms beseer wanneer hulle op die stel van ’n rolprent is of hulle word siek. Dit sal tot jou voordeel wees om ook kennis te hê van die behandeling van siek of beseerde diere.

1. Weet jy watter diere in die films gebruik is wat in par. 1 genoem word? Indien nie, doen navorsing en noem hierdie diere. 2. Kies die regte antwoord. “geveerde” (par. 2) verwys na _____. A. seediere B. roofdiere C. plaasdiere D. voëls

3. Watter soort films sal jou “beangs aan mekaar laat vasklou” (par. 2)? 4. Gee ’n sinoniem vir die woord “potensiaal” in paragraaf 3. Kies uit die volgende moontlikhede: A. moontlikheid B. geleentheid C. talent D. almal hierbo 5. “Abnormaal” (par. 4) is die teenoorgestelde van “normaal” (par. 4). Wat is die teenoorgestelde van “fiks” (par. 4)? 6. Wat beteken dit as ’n dier “haweloos” is? 7. Watter soort diere sal in ’n marine sentrum aangetref word (par. 4)? 8. Voltooi die sin: “zzzz” (par. 4) beteken ... 9. Waarheen vat ’n mens siek diere gewoonlik? 10. Skryf die afkorting SA (par. 2) volledig uit.

AKTIWITEIT 22

Lees die teks en beantwoord die vrae wat volg.

Digitale argitek

1. As ons aan tegnologie dink, dink ons net aan selfone, rekenaars, tablette en al die ander katoeters (gadgets) wat ons kan gebruik. Ons vergeet egter van al die nuwe werksgeleenthede wat dit kan meebring. ’n Baie belangrike gebruik van nuwe tegnologie is om bestaande tegnologie te verbeter, m.a.w. om die manier waarop dinge tans gedoen word te verander. Een voorbeeld van ’n nuwe beroep is ’n digitale argitek. 2. Shane De Faoite is ’n argitektoniese kenner. Hy sê: “Oor die afgelope dekade is baie van die tradisionele rolle van argitekte oorgeneem deur spesialiste soos landskapsargitekte, binnenshuise ontwerpers en akoestiese ingenieurs. Sommige argitekte sê deur hierdie spesialiste te gebruik, word hulle ook blootgestel aan nuwe vorme van digitale ontwerpe en kan hulle terugkeer na hulle oorspronklike werk, nl. om meesterontwerpers te wees.” 3. Argitekte moet meer vertroud raak met die nuwe digitale tegnologie wat hulle moet gebruik, want dit bevoordeel ook maatskappye. Tans moet maatskappye twee mense betaal om een mens se werk te doen. 4. Baie firmas maak digitale modelle van hulle ontwerpe; dit is nie meer net tekeninge op papier nie. Argitekfirmas het nou amper meer IT-spesialiste wat vir hulle werk as argitekte. Dis is egter nie ekonomies nie. 5. Digitale argitektuur is een van die beroepe wat in die toekoms ’n gesogte beroep gaan wees. Dus: twee vlieë met een klap as jy kennis van programmering ook het. 6. Wat het jy nodig om as digitale argitek te werk? ’n Graad en ondervinding in argitektuur. Dit is baie belangrik dat jy ook ’n passie moet hê vir nuwe tegnologie en dat jy op hoogte sal bly met al die nuwe neigings in die bedryf. Jy sal ook baie tyd moet opoffer aan akademiese navorsing oor die gebruike van nuwe tegnologie deur argitekte.

1. Waarom is dit belangrik om nuwe tegnologie te gebruik? Gee twee redes. 2. Wat beteken dit om ’n kenner te wees? 3. Landskapargitekte (par. 2) is mense wat … A. lande van die wêreld bestudeer. B. al baie rondgereis het. C. dorpe en stede beplan. D. vir boere werk. 4. Waarvoor staan die afkorting IT (par. 4)? 5. Wat beteken die gesegde “twee vlieë met een klap” (par. 5)? 6. Watter uitdrukking in paragraaf 3 beteken dieselfde as “op hoogte bly” in paragraaf 6? 7. Wat is die teenoorgestelde van “ekonomies” (par. 4)? 8. Watter woord in paragraaf 6 beteken dat jy baie lief vir iets is?

AKTIWITEIT 23

Instruksies:

1. Lees die volgende stuk noukeurig deur. 2. Som die stuk in 70 woorde op. 3. Nommer jou sinne van 1 tot 7. 4. Onthou om in volsinne te skryf. 5. Dui die getal woorde wat jy gebruik het tussen hakies aan die einde van die opsomming aan.

Die rol van boere in die toekoms

1. Die toekomstige boer se hoofdoel is nie om voedsel aan te plant en te verbou nie, maar eerder om die omgewingskade wat deur mense in die vorige dekades aan die omgewing gedoen is te herstel. 2. Van die hooftake wat bewaringsboere/hervestigers sal moet aanpak, is die afbreek van heinings om vlugstrome van voëls te herstel, om paaie op te kap en te verwyder en dit met woude te vervang, en om inheemse plant- en dierspesies te hervestig. 3. Sulke projekte sal deur die regering van die land gedryf moet word, want die befondsing daarvan sal deur belasting wat gehef word, betaal moet word. 4. Dit is baie duur om grond aan te skaf. Nuwe tegnologie, soos waterlose en vertikale boerderymetodes gaan al hoe noodsaakliker raak. 5. Hou jy daarvan om met jou hande te werk? Is jy geïnteresseerd in tuinmaak, die omgewing, of om diere te beskerm? Indien wel, mag jy moontlik belangstel om ’n hervestiger/bewaringsboer te word. Jy sal al die tradisionele eienskappe van ’n boer moet hê soos om lande en gewasse te beheer en te bestuur, maar jy sal ook moet leer hoe om wilde diere te bestuur en te beheer. 6. Hervestigers sal nie noodwendig betaal word vir die volhoubare gewasse wat hulle plant nie, maar eerder vir die diversiteit en gesondheid van hulle grond en lande. Omdat die gesondheid van die ekosisteem hulle hooftaak is, sal bewaringsboere/hervestigers die grond in beide woestyne en in woude moet rehabiliteer.

AKTIWITEIT 24

Lees die advertensie en beantwoord die vrae wat volg.

Telebemarker Is jy mal oor mense? Hou jy van ’n telefoon? Ons het die werk vir jou! Ons betaal ’n mededingende salaris en jy werk in ’n pragtige omgewing. Faks jou CV aan 0863984104 gedurende kantoorure.

1. Wat is ’n telebemarker? 2. Hoe word die opskrif beklemtoon? 3. Wat is die funksie van die uitroepteken in die tweede reël? 4. Hoe kan ’n voornemende werknemer die maatskappy kontak? 5. Gee twee redes waarom die telebemarkers dit sal geniet om vir die maatskappy te werk. 6. Waarom hou mense van dié soort werk? 7. Haal een feit en een mening uit die advertensie aan.

Les 7: Taal in konteks

LEERDOELWITTE

Aan die einde van hierdie les behoort jy: Al die taalkundige aspekte, bv. woordvorming en sinstrukture, te verstaan.

This article is from: