
1 minute read
Faktore wat verhoudinge in spanne beïnvloed
from Besigheidstudies graad 10
by Impaq
5.Faktore wat verhoudings in spanne beïnvloed
Besighede bestaan vir ’n rede. In die meeste gevalle is die doel om wins te maak. Daar is egter ook besighede wat liefdadigheidswerk doen, gemeenskapswerk verrig (bv. skole en kerke) of wat ander noodsaaklike dienste lewer soos die DBV. Baie min mense beskik oor al die talente wat nodig is om ’n besigheid op hul eie te kan bestuur, byvoorbeeld om produkte te vervaardig (dienste te voorsien), en om die verkope, boekhouding, administratiewe take en finansies te hanteer. Spanwerk word dus noodsaaklik om ’n suksesvolle besigheid te bestuur, ongeag wat die doelwitte mag wees.
Wanneer mense in ’n span saamwerk, sal die volgende faktore bepaal of hulle sinergie sal bereik:
Vooroordeel
Vooroordeel: ’n Voorafgevormde opinie (gewoonlik ongunstig) gebaseer op onakkurate stereotipering, irrasionele gevoelens en onvoldoende inligting. Encarta Online Dictionary
Mense wat bevooroordelend is, is geneig om te veralgemeen en sal bloot aanneem dat mense met spesifieke eienskappe almal dieselfde is, byvoorbeeld alle blondines is minder intelligent, alle Amerikaners is ekstroverte en alle Japannese is stil mense. Dit is natuurlik glad nie waar nie! Mense van dieselfde nasie of geloof sal nog altyd verskillende persoonlikhede, standpunte en oortuigings hê.
Deur bevooroordeeld te wees, verhoed jy jouself om ander mense te aanvaar en kan jy in die proses jouself van belangrike vriendskappe en kontakte ontneem. Byvoorbeeld, deur te weier om in ’n spesifieke span te werk, kan jy die voordeel van iets belangrik soos uitmuntende rekenaarvaardighede, ’n goeie algemene kennis of ’n netwerk van kontakte verloor.
Oortuigings
Mense se menings en oortuigings is geanker in hul opvoeding, nasionaliteit en godsdienstige standpunte. Dit is byvoorbeeld onaanvaarbaar in sekere gemeenskappe om die vleis van huisdiere te eet terwyl dit in ander heeltemal aanvaarbaar is. Oortuigings oor byvoorbeeld aborsie, kloning, slawe-en dwelmhandel het alles ’n invloed op die manier waarop mense in ’n besigheidsomgewing werk.
Waardes
Eerlikheid en integriteit is baie belangrike waardes wanneer ’n besigheid se “visie” en “missie” verklarings opgestel word. In sommige gevalle sal besighede hulle verklarings met sterk morele waardes opstel en sal hulle baie moeite doen om hulle integriteit te behou, deur eerlik met hulle klante en die publiek te wees.
Daar is natuurlik ook besighede wie se waardes heeltemal teenstrydig met die samelewing se norme is. Voorbeelde soos onwettige handel, smokkelhandel, slawehandel en handel in swartmarkprodukte kan hier genoem word.