Graad 2 • Fasiliteerdersgids Afrikaans Huistaal

Page 1


Afrikaans Huistaal

Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za

© Optimi

Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.

Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.

Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.

Reg.nr.: 2011/011959/07

Afrikaans Huistaal

Fasiliteerdersgids

Graad 2

Aangepas vir KABV
H Erasmus

Inleiding vir die fasiliteerder

Impaq se benadering tot taalonderrig in graad 2

Taal is ’n instrument vir denke en kommunikasie. Die doeltreffende gebruik van taal stel die leerders in staat om te dink en kennis te verwerf, hulle kreatiewe vermoëns en identiteit, asook gevoelens en idees uit te druk en in interaksie te tree met ander om hul leefwêrelde te bestuur. Leerders se huistaal vorm dus die grondslag van, en is die instrument waarin, hulle kommunikeer en leer.

Doeltreffende taalonderrig en -leer in graad 2 vereis die ontwerp van leergeleenthede en interaksies wat fokus op leerders se ontwikkeling om te luister en praat, dink en redeneer en lees en skryf. Die leerprogram is gebaseer op 20 leereenhede wat oor die 40 weke van die akademiese jaar strek. Elke leereenheid strek oor twee weke en bestaan uit 10 dae of twee weke:

• Kwartaal 1 – Week 1-10

• Kwartaal 2 – Week 11-20

• Kwartaal 3 – Week 21-30

• Kwartaal 4 – Week 31-40

Elke dag het drie of vier breedvoerige taalsessies binne een van die volgende fokusareas:

• Luister en praat

• Lees en klanke

• Skryf en handskrif

Luister en praat

Luister en praat is integraal deel van enige ander leerarea. Dit is ’n belangrike vaardigheid wat die grondslag vorm vir verdere leer, dus word daar in graad 2 spesifiek tyd afgestaan aan gefokusde aktiwiteite wat luister-en-praatvaardighede ontwikkel. Tydens die luister-en-praataktiwiteite word leerders gemotiveer om woordeskat en taalstruktuur te verbeter. Die fasiliteerder moet genoeg geleenthede skep vir die leerders om spontaan oor ’n onderwerp te gesels. Indien die leerders nie daarin slaag om ’n sinvolle gesprek te voer nie, kan die fasiliteerder vrae vra om die gesprek aan die gang te sit.

SAMPLE

Die luister-en-praataktiwiteite behels mondelinge gesprekke rondom spesifieke onderwerpe, prentbesprekings, besprekings om nuwe stories aan die leerders bekend te stel en besprekings ná elke storie. Die graad 2-huistaalprogram bied gefokusde luister-en-praatsessies, maar soms word luister en praat met lees- of skryfsessies geïntegreer.

Luister en praat vorm ’n integrale deel van alle leeraktiwiteite in die graad 2-klas. Daar word dus spesifieke sessies in elke leereenheid afgestaan aan luister-en-praataktiwiteite. Dit is egter belangrik dat die fasiliteerder self luister-en-praatvaardighede met ander leerareas integreer. Die leerders leer in ander leerareas om krities te dink, te luister en te praat wanneer hulle met interaksie en aktiwiteite binne elke leerarea besig is.

Lees

Leesvaardigheid is ’n belangrike komponent van die graad 2-huistaalprogram. Die jaarplan is gebaseer op die leesreeks Die avonture van Ben, Lebo en Hanna. Die leesreeks bestaan uit vier fases, naamlik fase 5 tot 8. Elke fase bestaan uit ses stories. Namate die leerders deur die jaar vorder, word die stories en sinne stelselmatig langer.

Die program is saamgestel om woordherkenning en sinskonstruksie te bevorder. Die leerders lees gereeld hoëfrekwensiewoorde (woorde wat gereeld in enige leestekste voorkom) om leesvaardigheid te bevorder. Soos wat die leerders se vaardighede verbeter, word daar minder tyd aan hoëfrekwensiewoorde vir leesvoorbereiding bestee. Die fasiliteerder gebruik sigwoorde en stel die leerders aan nuwe woorde bekend om hulle vir elke leesles voor te berei. Die fasiliteerder maak gebruik van flitskaarte in die fasiliteerderhulpmiddel vir die bekendstelling van sigwoorde. Die flitskaarte bevorder woordherkenning en verbeter die leesvaardigheid van die leerders.

Die leesprogram maak voorsiening vir selfstandige, gedeelde en groepbegeleide lees, waar die leerders saam met die fasiliteerder of ’n ander leerder lees, asook individuele leessessies. Die leerders word voortdurend aan nuwe woorde in die leesreeks bekendgestel terwyl hulle vir die leessessies voorberei. Daar is egter sessies waar daar van die leerders verwag word om onvoorbereide tekste te lees.

Klanke

Elke leereenheid bevat verskeie klankaktiwiteite. Hierdie aktiwiteite behels die bekendstelling van nuwe klanke, vaslegging en woordbou.

Die klankreeks is oor die 20 leereenhede versprei. Die leerders hersien al die enkelklanke (vokale en konsonante), asook dubbelklanke wat hulle in graad 1 aangeleer het. Hulle word dan aan meer komplekse klankkombinasies aan die begin en einde van woorde bekendgestel. Hulle leer voortdurend nuwe klanke, maar daar is meer as genoeg geleentheid vir hersiening, vaslegging en woordbou. Dit vereis ook dat die leerders elke week ’n skryfaktiwiteit voltooi waar hulle die bekende woorde van die week in hul klaswerkboeke skryf.

Handskrif

Die program maak voorsiening vir die stelselmatige aanleer van handskrifvaardighede. Die leerders hersien verskeie patrone wat handskrif bevorder, asook al die letters in drukskrif soos in graad 1 aangeleer. Vanaf die tweede helfte van die akademiese jaar word die leerders vir lopende skrif voorberei. Hulle voltooi patrone en begin die letters in lopende skrif skryf. Teen die einde van die jaar skryf hulle enkele woorde in lopende skrif.

Skryf

SAMPLE

Skryfaktiwiteite fokus op die leerders se vermoë om self sinvol te skryf, waar handskrif op handskrifvaardighede fokus. Skryfaktiwiteite is aanvanklik eenvoudig en vereis dat die leerders woorde invul om sinne te voltooi en selfs sinne bou. Namate die program vorder, word die leerders uitgedaag om self sinne te skryf, stories te beplan en te skryf en om met begrip te lees en antwoorde in te vul.

Die graad 2-huistaalprogram stel die leerders bekend aan woordsoorte, spesifiek naamwoorde en werkwoorde, en maak ook voorsiening vir eenvoudige oefeninge om die leerders van teenwoordige, verlede en toekomende tyd in gesproke en geskrewe taal bewus te maak.

Materiaal en hulpbronne

Graad 2-leerders skryf met ’n potlood. Alle geskrewe aktiwiteite word in die twee werkboeke uiteengesit. Die leerders benodig twee blanko boeke (’n A5-boek om speltoetse in te plak of in te skryf en ’n A4-spogboek vir kreatiewe skryfoefening). Gebruik boeke met dun Ierse lyne en kantlyne (Irish & Margin).

Hoe om die materiaal en hulpbronne te gebruik

Die graad 2-pakket bestaan uit die volgende produkte:

1. Fasiliteerdersgids

2. Werkboek 1: Lees en Klanke, kwartaal 1

3. Werkboek 1: Lees en Klanke, kwartaal 2

4. Werkboek 1: Lees en Klanke, kwartaal 3

5. Werkboek 1: Lees en Klanke, kwartaal 4

6. Werkboek 2: Skryf en Handskrif, kwartaal 1

7. Werkboek 2: Skryf en Handskrif, kwartaal 2

8. Werkboek 2: Skryf en Handskrif, kwartaal 3

9. Werkboek 2: Skryf en Handskrif, kwartaal 4

10. Fase 5 tot 8 van die leesreeks Die avonture van Ben, Lebo en Hanna

11. Fasiliteerderhulpmiddel

12. Leerderhulpmiddel

13. Assessering (portefeuljeboek)

14. Assesseringsriglyne en memorandums

Hulpbronne wat aangeskaf moet word:

• ’n Potlood vir die skryfaktiwiteite

• Twee blanko boeke (’n A5-boek vir speltoetse en ’n A4 spogboek vir kreatiewe skryfoefening). Gebruik boeke met Ierse lyne en kantlyne. Alle ander geskrewe aktiwiteite word in die twee werkboeke uiteengesit.

Die fasiliteerdersgids

Die fasiliteerdersgids bestaan uit 20 leereenhede. Elke leereenheid strek oor twee weke en bestaan uit 10 dae. Elke dag is ingedeel in vier taalsessies wat luister en praat, lees, klanke, handskrif en skryf dek. Verwys na die voorgestelde dagprogram vir die tydindeling van die sessies.

Elke sessie word afgesluit met twee inligtingsblokkies – “Konseptualisering” en “Hulpbronne”. Die “Konseptualisering”-blokkie bevat ’n kort opsomming van die konsepte wat vasgelê word, en die “Hulpbronne”-blokkie bevat ’n lysie items wat vir die sessie verskaf word (i) of benodig word ().

By elke sessie word daar twee simbole gebruik:

SAMPLE

Die uiltjie dui aan wat die fasiliteerder moet doen.

Die potlood dui aan wat die leerders moet doen.

Werkboek 1: Lees en Klanke

Daar is een werkboek per kwartaal en 164 aktiwiteite wat leesvaardighede, nuwe klanke, taalkonsepte en spelreëls bevorder.

Werkboek 2: Skryf en Handskrif

Daar is een werkboek per kwartaal met 143 aktiwiteite wat leerders se vaardighede in kreatiewe skryfwerk en handskrifvaardighede ontwikkel.

Die leesreeks: Die avonture van Ben, Lebo en Hanna

Die leesreeks is spesifiek vir die graad 2- Afrikaans Huistaalprogram ontwikkel. Dit bestaan uit fase 5 tot 8 en bou voort op graad 1 se leesboeke (fase 1 tot 4).

Die fasiliteerderhulpmiddel

Die fasiliteerderhulpmiddel bevat spelwoorde, groot lopendeskrifletters, klanke, woorde vir klanklesse, hoëfrekwensiewoorde en sigwoorde.

Die leerderhulpmiddel

Die leerderhulpmiddel bevat spelwoorde, speltoetse, klanke, woorde vir klanklesse, hoëfrekwensiewoorde en patroonkaarte.

Tekste

Die tekste, gedigte en stories wat in die boeke gebruik word, het die nodige toestemming of is kopieregvry. Waar daar geen erkening gegee word nie, het die outeur(s) van die boeke die gedig/ storie geskryf.

SAMPLE

Per week: 23 uur

Huistaal: 7/8 uur

Voorgestelde rooster vir Graad 2

Eerste Addisionele Taal (EAT): 2/3 uur

Wiskunde: 7 uur

Lewensvaardighede (LV): 6 uur

HUISTAAL:

07:50 – 08:05

Luister en praat 15 min

WISKUNDE: Hoofrekene 25 min

08:05 – 09:30

09:30 – 10:00

10:00 – 10:20

10:20 – 10:50

10:50 – 11:20

11:20 – 11:45

11:45 – 12:00

HUISTAAL:

Luister en praat 15 min HUISTAAL:

Luister en praat 15 min

Luister en praat 15 min HUISTAAL:

Luister en praat 15 min

WISKUNDE: Hoofrekene 25 min WISKUNDE: Hoofrekene 25 min WISKUNDE: Hoofrekene 25 min WISKUNDE: Hoofrekene 25 min WISKUNDE: 30 min WISKUNDE: 30 min WISKUNDE: 30 min WISKUNDE: 30 min WISKUNDE: 30 min WISKUNDE: 30 min WISKUNDE: 30 min WISKUNDE: 30 min WISKUNDE: 30 min WISKUNDE: 30 min

HUISTAAL: Klanke 30 min HUISTAAL: Handskrif 30 min HUISTAAL: Klanke 30 min HUISTAAL: Skryf 30 min HUISTAAL: Klanke 30 min

LV: Persoonlike en Sosiale

Welstand & Aanvangskennis 30 min

HUISTAAL: Groepbegeleide lees 30 min

SAMPLE

HUISTAAL: Handskrif 25 min

EAT: Luister en praat 15 min

LV: Persoonlike en Sosiale

Welstand & Aanvangskennis 30 min

HUISTAAL: Groepbegeleide lees 30 min

HUISTAAL: Groepbegeleide lees 25 min

EAT: Luister en praat 15 min

LV: Persoonlike en Sosiale

Welstand & Aanvangskennis 30 min

HUISTAAL: Gedeelde lees 30 min

HUISTAAL: Gedeelde lees 25 min

EAT: Luister en praat 15 min

12:00 – 12:15 P O U S E

LV: Persoonlike en Sosiale

Welstand & Aanvangskennis 30 min

HUISTAAL: Groepbegeleide lees 30 min

HUISTAAL: Groepbegeleide lees 25 min

EAT: Luister en praat 15 min

LV: Persoonlike en Sosiale

Welstand & Aanvangskennis 30 min

HUISTAAL: Skryf 30 min

HUISTAAL: Handskrif 25 min

EAT: Luister en praat 15 min

12:15 – 13:15

LV: Liggaamsopvoeding 60 min

LV: Skeppende Kunste 40 min

EAT: Lees, skryf en klanke 20 min

LV: Liggaamsopvoeding 60 min

LV: Skeppende Kunste 40 min

EAT: Lees, skryf en klanke 20 min

LV: Skeppende Kunste 40 min

EAT: Lees, skryf en klanke 20 min

Leereenheid 1

Dag 1

Sessie 1: Luister en praat: “Waar is my bril?”

Week 1

Fasiliteer ’n gesprek oor die prent op die eerste bladsy van die storie “Waar is my bril?” Die fokus van die sessie is op die leerders se vermoë om aan ’n gesprek deel te neem, hulle mening te lug, asook visuele waarneming. Gebruik die onderstaande vrae, maar ander vrae kan gevra word na aanleiding van die prent en die leerders se waarnemings. Die storie moenie in hierdie sessie gelees word nie, slegs die prent word gebruik.

Bespreek die titel en voorblad van die storie “Waar is my bril?”

• Lees die titel van die storie hardop. Lees dit ’n tweede keer saam met die leerders.

• Bespreek die gebruik van die vraagteken aan die einde van die titel: Kyk na die leesteken aan die einde van die titel. Watter leesteken is dit? ’n Vraagteken Hoekom is daar ’n vraagteken? Iemand wil iets weet, en die vraagteken wys dat iemand ’n vraag vra.

• Wanneer gebruik ons vraagtekens? Vra enige vraag om vir die leerders te wys hoe klink ’n vraag. Vergelyk die vraag met ’n gewone sin. By ’n gewone sin bly die intonasie van al die woorde dieselfde, maar by ’n vraagsin styg die intonasie van die laaste woord. Verduidelik dit soos volg aan die leerders: Die laaste woord van ’n vraagsin sê ons met ’n hoër stemmetjie as die ander woorde.

• Gee geleentheid vir die leerders om vrae te formuleer.

• Kom ons gesels oor die prent op die voorblad van die storie.

• Waar is Ben en Karin? In ’n slaapkamer

• Hoekom sê jy hulle is in ’n slaapkamer? Die leerders identifiseer die meubels en assosieer dit met ’n slaapkamer.

• Wat doen Ben? Hy probeer onder die bedkassie kyk.

SAMPLE

• Wat doen Karin? Sy kyk bo-op die bed.

• Waarna soek die maats? Hoekom dink jy so? Die maats soek ’n bril, want die titel van die storie is “Waar is my bril?”

• Hoekom dra iemand ’n bril? Sodat hulle beter kan sien.

• Ken jy iemand wat ’n bril dra? Die leerders se eie antwoorde

• Die leerders knip week 1 se hoëfrekwensiewoorde uit die leerderhulpmiddel en oefen die volgende woorde daagliks: en, by, is, vir, dit, die, op, in.

• Flits week 1 se sigwoorde in die fasiliteerderhulpmiddel vir die leerders. Die woorde kan dalk vir hulle moeilik wees, maar gee hulle eers die geleentheid om dit self te klank en lees voordat jy help. Lees die woorde hardop saam met die leerders: Ben, Karin, Oupa, Ouma, gesien, koerant, miskien, badkamer, wasgoed, lekkergoed, kombuis, broeksak

Sessie 2: Klanke: Hersien die klanke b, a en m

In graad 1 het die leerders die storie van Bennie geleer om al die klanke aan te leer. Ons gaan in die eerste paar weke van die kwartaal weer al die enkelklanke hersien.Gee vir elke leerder ’n A3-papier. Die leerders gaan ’n prent teken van die storie en die klanke terwyl jy die storie lees. Die papier moet met elke klanksessie gebruik word om verder te teken. Maak seker dat alle klanke goed vasgelê is.

Hersien die klanke b, a, en m met die leerders.

• Lees die volgende stories vir die leerders:

Bennie woon in ’n klein huisie tussen die berge saam met sy pa en sy ma. Op ’n dag besluit Bennie dat hy die wye wêreld wil ingaan. Hy is oud genoeg, en dit is lankal tyd om sy eie paadjie te stap. Hy pak sy rugsak en loop langs die klein paadjie wat tussen die berge deur kronkel. Bennie is baie vrolik en fluit so ver as wat hy gaan.

Ná hy ’n paar uur geloop het, sit hy eers ’n bietjie om te rus en eet. Terwyl hy sit, sien hy ’n donkergroen kol in die verte. Bennie is baie nuuskierig en loop in die rigting van die kol. Die kol word al hoe groter, en soos hy nader loop, verander die donkergroen kol in ’n yslike groot bos.

Bennie het in sy lewe nog nooit so baie bome bymekaar gesien nie. Hy loop versigtig tussen die bome deur. Dit is klam en grillerig, en oral groei mos teen die bome. Bennie loop dapper al hoe dieper in die bos in. Skielik hoor hy ’n harde doef! Bennie se hart gaan staan amper soos hy skrik. Hy word yskoud en sy broekie begin bewe.

“Ek is b-b-b-b-bang,” sê hy, “my b-b-b-b-broekie b-b-b-b-bewe!”

***

Vir ’n rukkie staan Bennie tjoepstil, maar niks gebeur nie. Hy kyk om hom rond en besluit om te gaan kyk wat hierdie vreeslike geluid veroorsaak het ...

Bennie loop versigtig ’n bietjie dieper in die bos in. Hy hoor weer ’n doef. Sy broekie begin dadelik weer bewe, maar hy loop braaf nader. Skielik hoor hy die geluid reg langs hom. Hy spring so hoog dat hy amper in die boom spring. Bennie kyk mooi na die ding wat op die grond lê, en hy kan sy oë nie glo nie. Daar voor hom lê die lekkerste, sappigste rooi appel. Hy kyk op in die boom en sien nog baie lekker appels wat hoog in die boom hang. Nou het hy lekker kos om te eet.

***

SAMPLE

Bennie besluit dit is tyd om vir hom ’n huisie te bou. Hy loop dieper in die bos in om hout te soek. Terwyl hy loop, hoor Bennie ’n snaakse geluid uit een van die bossies kom.

“Mmmm (snik, snik), mmmmm (snik, snik),” hoor hy. Hy loop nader, maar hy kan nie sien waar die geluid vandaan kom nie.

Hy sê saggies: “Hallo, wie is daar?”

Skielik kom daar ’n hartseer stemmetjie uit die bossie: “Dit is ek hier op die blaar.”

Bennie kyk af en sien ’n mot op die blaar. Lang trane rol oor sy wangetjies.

“Wat is fout?” vra Bennie.

“Ek het nie ’n maatjie nie,” antwoord die mot.

“Ek sal jou maatjie wees!” sê Bennie.

Mot en Bennie het later beste maatjies geword.

Volgende keer sal ons hoor wat verder gebeur.

Voltooi aktiwiteit 1 in werkboek 1. Teken ’n prentjie wat met elkeen van die gegewe letters begin. Vul dan die letters of woorde wat ontbreek in.

Antwoorde

asblik, mielie, beer mes, agt, bal

Spelling: Nuwe woorde vir toets

Die leerders gaan een keer per week ’n speltoets skryf. Verwys na die leerderhulpmiddel vir die speltoetse. Gee vandag vir die leerders die woorde van speltoets 1. Hulle sal die toets op dag 5 van hierdie week skryf. Onthou, die leerders skryf die woorde met kleinletters.

Spelwoorde 1 vis, sak, hik, vol, weg, min, ses, vet, wit, was

Sessie 3: Groepbegeleide lees: “Waar is my bril?”

Lees in pare: “Waar is my bril?”

• Verwys na vanoggend se luister-en-praatsessie. Die leerders is reeds bekend met die titel en tema van die storie.

SAMPLE

• Stel die leerders bekend aan moeilike woorde wat in die teks voorkom. Bepaal self wat die leerders se leesvlak is. Die meeste graad 2-leerders sal selfstandig kan lees, terwyl ander beter onder leiding van ’n fasiliteerder lees. Indien nodig, gebruik die sigwoorde vir week 1 in die fasiliteerderhulpmiddel om onbekende woorde bekend te stel, of laat leerders toe om self die woorde te ontsyfer.

• Die leerders werk in pare en lees bl. 7-9 van die storie saam met ’n maat.

Sessie 4: Handskrif: Hoofletter en kleinletter B en A

Alle handskrifsessies in verband met kleinletters en hoofletters is in graad 1 gedoen. Tydens die eerste gedeelte van die jaar hersien ons alle kleinletters en hoofletters in drukskrif. Later die jaar sal ons begin om lopende skrif te leer. Maak seker dat alle drukskrif letters goed vasgelê word. Die skryfwyse is baie belangrik omdat dit verband hou met lopende skrif. Elke aktiwiteit het ook ’n patroon wat die leerders moet voltooi; dit is ook voorbereiding vir lopende skrif. Moedig die leerders aan om dit te voltooi sonder om hulle potlode op te tel.

Demonstreer die skryfwyse van die hoofletters B en A en kleinletters b en a

Voltooi aktiwiteit 1 in werkboek 2:

• Voltooi die letters tot aan die einde van die reël.

• Trek die letters van die sin oor.

• Voltooi die patroon.

Dag 2

Bb Aa

Sessie 1: Luister en praat: Vakansie

SAMPLE

Die leerders het pas met ’n nuwe skooljaar begin. Gee vir die leerders ’n geleentheid om van hulle vakansie te vertel. Gebruik vrae om die sessie te fasiliteer indien die leerders nie spontaan gesels nie.

• Jy is nou in graad 2 en het begin met ’n nuwe skooljaar. Almal het nou lekker vakansie gehou voordat ons weer met skoolwerk begin. Was julle hierdie vakansie by die huis, of het julle êrens gaan kuier?

• Gebruik die leerders se verwysingsraamwerk, en formuleer vrae na aanleiding van hulle bespreking, bv.:

◦ Waar het julle die vakansie gekuier? Wie was saam met julle?

◦ Was dit vir jou lekker? Hoekom was dit vir jou lekker?

◦ Wat het jy alles die vakansie gedoen?

◦ Sien jy uit na die nuwe jaar? Wat beteken dit om na iets uit te sien?

◦ Hoekom sien jy uit of is jy opgewonde oor die nuwe jaar?

• Fasiliteer ’n gesprek van ongeveer tien minute waar die leerders gesels oor hulle vakansie. Let op die leerders se woordeskat en gebruik van volsinne.

Sessie 2: Handskrif: Hoofletter en kleinletter M en S

Demonstreer die skryfwyse van die hoofletters M en S en kleinletters m en s.

Voltooi aktiwiteit 2 in werkboek 2.

• Voltooi die letters tot aan die einde van die reël.

• Trek die letters van die sin oor.

• Voltooi die patroon.

Ss

Sessie 3 en 4: Groepbegeleide lees: “Waar is my bril?”

Groepbegeleide lees: “Waar is my bril?”

• Verdeel die klas in groepe op grond van die leerders se leesvaardighede. Die leerders wat baie swak lees, moet saam met sterker leerders gesit word sodat daar nie ’n groep leerders is wat almal sukkel nie. Indien daar net een leerder is, maak beurte om te lees.

• Werk saam met een groep terwyl die res van die leerders in groepsverband lees. Bestuur die sessie sodat elke groep voldoende aandag kry.

• Stel die leerders bekend aan onbekende woorde in die teks. Gebruik die sigwoorde vir week 1.

• Die leerders in die groep maak beurte en lees gedeeltes van die teks op bl. 10-13 van die storie.

• Bespreek die verloop van die storie, en beantwoord enige vrae oor die teks.

Dag 3

Sessie 1: Luister en praat: Oupas en oumas

Die leerders het in die storie gelees dat Ben en Karin by Oupa en Ouma op die plaas kuier. Gebruik die gebeure in die storie as vertrekpunt, en fasiliteer ’n gesprek.

• Ben en Karin kuier by Oupa en Ouma. Waar woon Oupa en Ouma? Op ’n plaas.

• Ken jy iemand wat op ’n plaas woon? Was jy al ooit op ’n plaas?

• Wat doen mense wat op ’n plaas woon? Hulle boer met vee of plant sekere gewasse. Die leerders kan dit in hulle eie woorde vertel.

• Waar woon jou oupa en ouma? Indien ’n leerder nie ’n oupa of ouma het nie, kan jy verwys na enige ander persoon wat na aan die leerder is.

• Kuier jy graag by jou oupa en ouma?

• Wat doen julle graag wanneer jy daar kuier?

• Is dit vir jou lekker om by oupa en ouma te kuier? Hoekom is dit vir jou lekker? Gesels oor die emosie wat die leerders ervaar wanneer hulle by hul oupa en ouma kuier. Hoe voel dit as iets vir jou lekker is?

Sessie 2: Klanke: Hersien die klanke s, h en e

Die leerders haal weer hulle papier uit en teken die storie verder. Maak seker dat alle klanke goed vasgelê is.

Hersien die klanke s, h, en e met die leerders.

SAMPLE

• Lees die volgende storie vir die leerders:

Bennie en Mot soek hout en klippe om Bennie se huisie mee te bou. Dit is baie maklik vir Bennie omdat Mot baie hoog kan vlieg om te kyk waar groot klippe en takke rondlê. Terwyl Bennie soek, hoor hy iemand uit die boom praat.

“Hallo, Bennie,” sê die stem. Bennie skrik hom boeglam. In die boom sit ’n groot geel en groen slang.

“Wat sssssoek jy?” vra die slang.

Bennie se broekie begin weer bewe. “E-e-eek soek hout en k-k-k-klippe om my huisie mee te bou,” antwoord Bennie.

“Ek sssssal jou help,” sê die slang.

Bennie lyk baie benoud. Die slang sê: “Toemaar ek isssss nie ’n ssssslegte ssssslang nie, almal isssss bang vir my, maar eintlik sssssoek ek net ’n maatjie. My naam is Sssssara Ssssslang.”

Bennie is steeds effens bang, maar stem in dat Sara Slang maar kan saamkom. Daardie aand gaan slaap die drie. Bennie en Mot sal maar die volgende dag moet sien of Sara ’n goeie of ’n slegte slang is.

Die volgende oggend toe Bennie en Mot wakker word, slaap Sara Slang nog al te lekker. Bennie en Mot kom agter dat sy regtig net ’n maatjie nodig gehad het, en hulle besluit om haar te vertrou.

Bennie begin al vroeg soek na nog klippe en hout om sy huisie te bou. Eindelik is daar genoeg boumateriaal, en hy begin bou. Sara Slang en Mot help hom waar hulle kan. Hulle bou ’n lang skoorsteen sodat hulle ’n lekker vuur binne kan maak. Bennie maak ’n mooi deur en vensterrame uit die hout. Toe alles klaar is, lyk dit baie mooi. ***

Nadat Bennie sy huisie gebou het, besluit hy om die bos te verken. Hy loop dieper en dieper in die bos in. Ná ’n rukkie hoor hy ’n vreeslike gedruis wat soos water klink. Die geluid word al hoe harder soos hy nader loop. Toe sien hy die pragtigste waterval! Hy loop nader en druk sy hand in die water – dit is heerlik koel.

Daar is eienaardige plante langs die water. Bennie kyk nuuskierig daarna. Lang peule hang aan die plante. Hy herken dit dadelik – dit is ertjies. Bennie is baie opgewonde, want nou het hy appels én ertjies om te eet. Bennie pluk ’n hele hand vol ertjies en vat dit huis toe om vir die ander te wys.

Volgende keer sal ons hoor wat verder gebeur.

Voltooi aktiwiteit 2 in werkboek 1. Teken ’n prentjie wat met elkeen van die gegewe letters begin. Vul daarna die letters of woorde wat ontbreek in.

Antwoorde

hond, emmer, slang elf, hok, son

SAMPLE

Sessie 3 en 4: Gedeelde lees: Begripstoets

Doen die begripstoets in werkboek 1, aktiwiteit 3 saam met die leerders. Volg die stappe:

• Die leerders lees self die eerste paragraaf saggies.

• Na aanleiding van die eerste paragraaf behoort die leerders te kan voorspel wat gaan gebeur.

• Lees die hele leesstuk voor terwyl die leerders in hul boeke volg.

• Lees die vrae deur.

• Lees weer die leesstuk terwyl die leerders die kerngedeeltes wat betrekking op die vrae het, omkring.

• Doen die eerste vraag saam met die leerders.

• Die leerders beantwoord die res van die vrae self, maar verleen hulp indien hulle sukkel.

Beantwoord die vrae van die begripstoets in werkboek 1, aktiwiteit 3.

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.