Die Huddle: Uitgawe 1

Page 1

Afrikaanse uitgawe

JOU GRATIS
UITGAWE 1 Herfs 2023
KOPIE

Tippie

doen Wiskunde

Vlak 1

Leer speel-speel saam met Tippie die olifant en ontdek basiese wiskunde-beginsels in elke boek.

Die Vlak 1 Wiskunde-reeks fokus op die voorkennis van Vlak R en bou verder op die boustene van wiskundige geletterdheid.

Leer patrone, funksies en algebra asook ruimte, vorm, meting en datahantering!

Meer as 1 miljoen kopieë van die Tippie-reeks het al verkoop!

Alsoavailable inEnglish!

Brief van die redakteur

Liewe leser

As jy hier lees is jy waarskynlik nés ek, en gaan ons baie goed oor die weg kom. Jy is beslis ’n woordemens. Dalk ook vrek nuuskierig, leergierig en sonder enige twyfel lief vir boeke. Welkom, dus, by die eerste Afrikaanse uitgawe van Die Huddle

My grootste taak as bemarkingsbestuurder van plaaslike kinder- en jeugboeke, maar een waaroor ek gelukkig baie passievol is, is om JOU te help om die regte boek te kies –dalk vir jouself of dalk vir jou kind. Want, glo dit of nie, almal het ’n boek wat perfek by hulle pas. Elke pot het ’n spreekwoordelike (boek)deksel. Of jy nou hou van avonture, romanse, komedie, sport, spoke, stoomtreine of ’n boek met meer prentjies in as woorde, daar is iets op ons boekrak vir jou. Tussen die blaaie van hierdie tydskrif is daar ’n magdom van voorstelle, maar dis net al ons nuutste boeke. Vir nog ’n klómp leesidees kan jy ons webwerf besoek of op ons sosialemediabladsye gaan rondspeel. Jy sal iets vind wat jou of jou kind opgewonde gaan maak.

Inhoudsopgawe

02 03

Iets waaroor ek persoonlik baie opgewonde is, is die heruitgawes van die Babalela Verskeie generasies het met dié boekies grootgeword en dis vir ons ’n voorreg om ’n hele nuwe generasie kinders aan die vreugdes van die klein pers gedroggie en sy maats voor te stel. Ons dra die heruitgawes van dié boeke op aan die wonderlike skrywer en skepper van die reeks, Martie Preller, wat oorlede is in die week wat die boeke weer verskyn het.

Ek beskou myself as een van die heel gelukkigste mense wat ek ken. Vir ’n bibliofiel soos ek is daar niks op aarde lekkerder as om heeldag met boeke te werk nie. Ek hoop van harte dat my (en my fantastiese kollegas!) se liefde vir die geskrewe woord aan almal wat die tydskrif vashou, sal afsmeer!

Lekker lees!

Voorleesboeke

Iets vir die heel kleintjies! Aktiwiteite

Dis winter, ons bly binne!

Eiland-avontuur

Riaan Manser se nuutste boek, My eerste wilde eiland-avontuur, is in Juniemaand op die rakke

06 Onderhoud

Ons gesels met Bianca Flanders

08 Uittreksel

Jan Vermeulen se Veergewig

9 Jan Vermeulen se Veergewig

04

Nadine Petrick

Praat met ons!

Ons webwerf: www.lapa.co.za of www.klaskameraad.co.za

LAPAKinderslapa_kinder_en_jeugboeke

10 Iets vir die klaskamer

12 Wendy Maartens oor volksverhale

14 Wat lees ons uitgewers? Nandi, Shawna-Leze en An-Mari

15 Lesersresensies

Die lewe se vuil houe en Die ware avonture van Adelie en Riley

16 Klasgids

Jou beste vriend in die klaskamer

17Tippie!

18 10vraevir…

René van Zyl

Inkleurprentjie

20

Johannesburg

• Growthpoint Business Park, Unit 12A (ii), 162 Tonetti Street, Halfway House Ext 7, Midrand, 1685

21 Kyk uit vir hierdie boeke!

Agterblad

Kompetisie

Wen 10 boeke van jou keuse

7441 •
5400
The Huddle is published by
South Africa. All rights reserved. Reproduction without the written permission of the editor is strictly forbidden.
• 011 327-3550 Kaapstad • Estuaries No 4, Oxbow Crescent, Century Avenue, Century City,
021 460
© Copyright Penguin Random House South Africa (Pty) Ltd.
Penguin Random House

Om lief te wees vir boeke en vir lees gee alle kinders ’n ongelooflike voorsprong in die lewe. Maar hoe kry ons dit reg? Dit begin by jou! Gee jou kinders daagliks die geskenk van kosbare tyd saam met jou, en lees vir hulle hul gunstelingstories voor. Voor jy jou oë uitvee is hulle groot en wil hulle sélf lees. En dis is presies wat ons wil hê.

Ook in Engels beskikbaar as Pumpkin finds her beat

Kom ons bly eerder binne!

Met die koudste seisoen op ons en vakansietyd om die draai, is dit altyd ’n blink gedagte om boeke byderhand te hou vir die ysige dae wanneer jou span eerder binne moet bly! Ons het verskeie boeke met heerlike stories, oulike aktiwiteite, interessante brokkies en lekker grappies om jou kinders én die res van die gesin mee te vermaak. Hier is ’n paar winter-idees!

Herfs Uitgawe 3

Riaan roei om ’n eiland!

Riaan Manser se nuutste boek, My eerste wilde eiland-avontuur, is in Juniemaand op die rakke. In dié boek vertel hy van sy alleenreis om Madagaskar – met ’n kajak! Hierdie kolossale reis van 5000 km, wat hom elf maande geneem het, was volgens hom aansienlik meer veeleisend, beide fisies en geestelik, as sy fietstoer om Afrika. Hy moes uiterste eensaamheid oorwin. Daarmee saam moes hy verraderlike toestande verduur; soos massiewe golwe, siklone en ’n skroeiende son wat, gekombineer met die soutwater, hom amper gepekel het! Tydens sy omseiling het hy baie onvergeetlike noue ontmoetings met Madagaskar se seelewe gehad –boggelrugwalvisse wat meters van sy kajak af deur die oppervlak gebreek het, reuse-leerskilpaaie wat langs hom geswem het, en sy boot wat deur ’n haai gestamp is. Hier is ’n paar interessante feite van die eiland – en as jy meer wil weet, kyk uit vir die boek!

1Madagaskar is deur ’n kontinentale skeiding gevorm, eers met ’n skeiding van die Afrika-kontinent, daarna het dit weer van die Indiese subkontinent afgebreek om ’n eiland te word. Dit is glo die oudste eiland in die wêreld!

4 Daar is 150 spesies verkleurmannetjies in die wêreld, en meer as die helfte van hulle word in Madagaskar aangetref!

Madagaskar is die tuiste van byna 25 000 verskillende spesies wild. Ongeveer 90% van hulle is uniek aan die eiland en kan nêrens anders in die wêreld gevind word nie.

2

Dit word die “Groot Rooi Eiland” genoem vanweë die helder kleur van die rooi grond regoor die eiland. Dit staan bekend as lateritiese grond, en sy rooi kleur is te danke aan sy hoë ysteroksiedinhoud.

3

5Madagaskar was die tuiste van die nou uitgestorwe reusagtige olifantvoël. Hulle het tot drie meter hoog geword en het sowat 650 kilogram geweeg. Hulle kon nie vlieg nie. Een olifantvoëleier bevat ’n volume van ongeveer 150 hoendereiers!

4
Uitgawe
Herfs

6

Een van Madagaskar se bekendste bome is die kremetartboom (“reniala” in Malgassies), wat “koningin van die woud” beteken. Hierdie reusebome staan ook bekend as onderstebo bome omdat hul takke soos wortels lyk. Hulle word ook die “boom van die lewe” genoem omdat 80 persent van hul stamme uit water bestaan. In droë tye is hulle ’n fantastiese waterbron vir baie spesies.

9

Die nasionale dier van Madagaskar is die ringstertlemur (lemur catta). Die naam “lemur” is Latyn vir “geeste van die nag.” Dit is ’n bedreigde spesie.

Riaan se eerste boek, My eerste Afrika-avontuur / My first African adventure, was ons topverkoper van 2022!

11

Madagaskar is die grootste produsent van vanielje ter wêreld. In 1841 het ’n 12-jarige slaweseun, Edmond Albius, ontdek hoe om vanieljeplante met die kruisingsmetode te bestuif, en sy ontdekking het die grondslag van vanieljeproduksie in Madagaskar geword.

12

Madagaskar was die tuiste van die nou uitgestorwe Madagaskarse dwergseekoei. Fossiele wys dat dié seekoei vermoedelik die enigste groot Afrika-soogdier is wat na Madagaskar kon trek. Dit het waarskynlik gebeur deur van eiland-na-eiland, oor die kanaal wat plek-plek vlak was, te beweeg. Soos hulle ontwikkel het, het hulle al hoe kleiner geword.

7

10“Moraingy” is ’n gevegskuns wat hand-tot-hand-gevegte sonder wapens of liggaamsbeskerming behels. Die reëls verskil in verskillende gebiede, maar die rondtes is net sowat 30 sekondes lank vir elke geveg. My eerste wilde eiland-avontuur is ook in Engels beskikbaar as My first wild island adventure

8“Hainteny” beteken “kennis van woorde”, en dit is die tradisionele poësie van Madagaskar. Die gedigte kan as spreekwoorde en raaisels gebruik word, en elke “haiteny” kan baie betekenisse hê.

Musiek is heilig in Madagaskar. Dit word beskou as ’n manier om met die voorvaders en gode te praat. Die “valiha”, ’n siter van bamboes, word as die land se nasionale instrument beskou. Dit word tydens seremonies gebruik om die geeste van antieke koninklikes in tye van krisis op te roep.

5 Herfs Uitgawe

Jy is ’n vrou van vele talente. Jy is ’n onderwyser, skrywer, akteur en regisseur. As jy voor die “ultimate” keuse te staan kom en jy mag slegs een van jou beroepe vir die res van jou lewe doen, watter een sal jy kies en hoekom?

Oe, dis moeilik, want ek is mal oor hulle almal! As ek moes kies, dink ek ek sou ’n akteur wou wees. Ek is mal daaroor dat soveel verskillende elemente gebruik word om ’n storie te skep: woorde, die liggaam, die stem, emosie, empatie, begrip, ritme. En dit is soveel pret! Dit is beslis my eerste liefde.

Was die kunste altyd die plan of het jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg? Indien wel, wat sou dit wees?

Toe ek op hoërskool was, het ek myself so eenkeer probeer oortuig dat ek ’n prokureur wil word. Die idee om ’n kunstenaar te wees het ’n bietjie wild en onverantwoordelik en glad nie volwasse genoeg gevoel nie.

Ek is so bly ek het van plan verander! As ek enigiets anders moes doen, sou ek graag ’n klein straatkafeetjie met wonderlike kos en wyn wou besit en bestuur. Ek is mal oor kook. En kos is

eintlik net nog ’n manier om ’n storie te vertel of ’n boodskap oor te dra.

Waar kom die idee vir Pampoenpit/ Pumkin Pie vandaan? En spesifiek haar naam, want dis só lieflik! Ek glo verteenwoordiging is belangrik. Toe ek grootgeword het, was daar geen karakters op televisie of in boeke wat soos ek gelyk het nie. Ek wou dit verander. Ek wou die boek skryf wat ek nooit as kind gehad het nie. Ek het die naam Pumpkin (Pampoenpit) gekies omdat ek wou hê dit moet ’n bynaam wees. En enige kind kan ’n Pumpkin wees!

Jaco Jacobs is ’n befaamde skrywer en het baie titels en toekennings op sy kerfstok.

Hy het jou Pumpkin Pie se vertalings behartig. Hoe het die vertaalproses gewerk en het jy enige insae daarin gehad?

Om eerlik te wees, ek het nie veel met die vertalings te doen gehad nie. Jaco is briljant in wat hy doen en ek vertrou hom om die beste te doen wat hy kan. En hy stel net nooit teleur nie! Ek probeer om eerder nie in te meng met ’n ding wat werk nie!

Pampoenpit is ’n baie belangrike, identifiseerbare karaktertjie wat belangrike kwessies in haar boeke aanspreek. Hoekom is dit vir jou nodig om hierdie tipe bewusmaking te doen?

Ek dink kinders vorm hul idees oor die wêreld deur wat rondom hulle gebeur – wat hulle op TV sien, wat hulle hoor mense sê of wat hulle in ’n boek lees. Ek wou Pampoenpit gebruik om kinders op ’n positiewe manier te beïnvloed. Ek wou hê die karakter moet kinders goed laat voel oor hulself, om hul selfvertroue en empatie te gee, terwyl hulle pret het.

Jou boeke is beslis verteenwoordigend en jy speel ook gewoonlik sterk vroue wat die hele spektrum dek, byvoorbeeld die lieflike Abi in Troukoors (sy is letterlik lief vir almal). Is vroulike verteenwoordiging vir jou belangrik en hoekom?

Dit is! Ons het nog ’n ver pad om te stap in die manier waarop ons vir vroue skryf. Ek dink dit begin stadigaan verander en ek wil graag ’n bydrae lewer. Ek wil deel wees van ’n wêreld wat vroue uitbeeld as sterk, komplekse mense met vreugdes en gebreke en snaakse karaktereienskappe en groot harte. Ek glo dat wanneer ons mense in hulle totaliteit aanskou, wanneer ons hulle op hierdie manier erken, is wanneer ons empatie vir ander kry.

Wat het jou veilig laat voel toe jy klein was? Was daar ’n spesifieke boek/TV-reeks/karakter wat jou laat voel het jy behoort? Of was dit eerder ’n regte mens?

Oe, my ouma! Sy het altyd vir my gelees! My gunstelinge was Bambi

Herfs Uitgawe 6 Ons gesels met
Ons het by Bianca Flanders ingeloer en oor werk, haar liefdes en natuurlik, oor Pampoenpit gesels.

en The Jungle Book – dit het my laat veilig voel. Om eerlik te wees, ek dink wel nie daar was enige boeke of TV-karakters wat my laat voel het ek behoort nie. Ten minste nie toe ek klein was nie. Miskien was India Arie die eerste kunstenaar wat my laat voel het ek word raakgesien en dat ek goedkeuring verdien. En ek het haar eers ontdek toe ek veertien jaar oud was. Sjoe. Dit is eintlik nogal wild as mens so daaraan dink.

Jou man Dean Balie is ook

’n ontsaglike talentvolle akteur en sanger en het al verskeie toekennings vir sy werk ontvang. Is dit moeilik om twee sulke kreatiewe mense in een huis te wees of juis nie?

Dit werk regtig goed vir ons. Ons help mekaar en inspireer mekaar wanneer dit by werk kom. Natuurlik is dit ’n bietjie moeilik wanneer ons albei se skedules ’n bietjie vol raak, daarom is ons huiwerig om ’n hond te kry. Maar, ons vind altyd ’n manier om dinge te maak werk!

Kom daar nog ’n Pampoenpit of gaan jy dalk jou hand aan ander skryfwerk waag? Mag ek vra wat?

Daar sal absoluut nog ’n Pampoenpit wees! En ek wil graag een of ander tyd probeer om ’n roman te skryf. Ek skryf ook vir die skerm, wat ek vreeslik baie geniet.

Wat is jou stoute plesiertjies?

“Trash TV” soos The Real Housewives of Beverly Hills, en tweedehandsewinkels. Ek kan eenvoudig nie ’n goeie tweedehandsewinkel weerstaan nie!

presies ses maande gelede

Wie de hel dink jy is jy?

"Lig daai knieë, Bekker. Ek sê lig daai knieë!”

Sy reageer nie op haar afrigter se bevel nie, want as sy haar knieë nog ’n sentimeter hoër moet lig, gaan haar heupbene uit hulle potjies spring. Sy hou wel aan om, saam met al die ander boksers in die kring, op die maat van die musiek op een plek te draf.

Dis middel somer en sy stoom. Die saal se vensters is oop vir ventilasie, maar die hitte staan vandag stil.

“Bekker!”

“Coach?”

Hy kom plant hom voor haar. By die skool is hy meneer Spies, maar hier is hy coach. Sy sonbruin Vin Diesel-kaalkop blink van die sweet.

“Jy ignoreer my. Wie de hel dink jy is jy?” Sy nekare swel. Sy sespak trek saam in stywe rimpels, soos sy dit dikwels sien wanneer hy die slaansak takel, of vir hulle tegnieke demonstreer.

“Dis die groot vraag van my lewe daai, coach. Wie de hel is ek?”

8 Herfs Uitgawe
Uittreksel

Talia is ’n bokser. Sy is deel van die veergewigkategorie in die skoolspan. Maar haar afrigter het nie baie genade vir haar nie. Dit maak nie saak hoe hard sy boks nie, sy kan net nie sy goedkeuring wen nie.

Jan Vermeulen wen in 2015 die LAPA Jeugromankompetisie met sy boek

Asem en in 2018 wen hy LAPA se jeugromankompetisie die tweede keer in ’n ry met Oopmond

9
Uitgawe
Herfs

Ons is jou kameraad in die klaskamer!

Een van ons belangrikste doelstellings is om die lewe vir ons ouers, leerders en onderwysers so maklik as moontlik te maak! Ons het ’n span spesialiste wat hard werk om boeke te skep en uit te gee wat jou gaan help. Of dit in die klaskamer of by die huis is.

Lees- en studiegidse

Ons het ’n uitstekende katalogus van leesboeke wat landwyd in duisende klaskamers as klasleesboeke of voorgeskrewe boeke gebruik word. Ons het van die heel gewildste boeke gekies, onderwysers en kenners genader en ’n hele rak vol gidse laat skryf wat jou sal help om dié boeke beter te verstaan. Hier is ’n paar van hulle:

Vir nog gidse, besoek asseblief ons webwerf: https://klaskameraad.co.za/collections/studiegidse

Vrae en antwoorde vir die klaskamer

Beide hierdie twee boeke, een geskik vir graad 4-7 en die ander een spesiaal vir graad 7-9, bevat meer as 50 tekste in ’n verskeidenheid afdelings, soos begripstoetse, visuele tekste, luistertoetse en opsommings. Ouers kan ook die boeke vir hulle kinders aankoop – dit is uitstekend vir addisionele materiaal en vir gebruik in tuisskool.

Siembamba: Ek lees sing-sing self

Hierdie omvangryke skatkis van klassieke Afrikaanse rympies bevat ou bekende versies, minder bekende versies, tergrympies en raaiselrympies, volksliedjies en lawwe sêgoed, aksierympies en tongknopers, gebedjies en slaaptydrympies. Dis ’n noodsaaklike bron van geskiedenis wat sal keer dat ons volksrympies en ouer verse vir die nuwe geslag verlore gaan!

Skoolbesoeke

Wil jy graag ’n skrywer by jou skool laat kom gesels? Wil jy graag die Tippie- of Babalela-mascot vir ’n kuiertjie uitnooi? Wil jy ’n skolespanlid vra om met die leerders te gesels oor kreatiewe skryfwerk of die belang van lees? Jy kan, en dis baie maklik!

Daar is geen koste aan verbonde nie, maar ons verwag om ná afloop van die skrywersbesoek (of op ’n ander datum ná die praatjie) ’n boekuitstalling by u skool te hou. Ons boekuitstallings is twee dae lank waar die leerders op die eerste dag klas-vir-klas die geleentheid kry om na die boeke te kyk en op die tweede dag hulle aankope te doen. Die skool kry 10% van die verkope in die vorm van boeke terug. Let daarop dat wanneer een van ons skrywers u skool besoek, daar slegs LAPA/PRH-boeke tydens die verkoping aangebied sal word. So verseker ons kwaliteit bemarking aan ons skrywers en help dit om die onkostes van die toer te delg.

Kontak asseblief ’n lid van ons skolespan. Hulle sal hulle bes doen om jou drome waar te maak! E-pos: info@klaskameraad.co.za

Herfs Uitgawe 11

Van die eerste verhale wat ek gehoor het, was Jakkals & Wolf, Antjie Somers (die regte Antjie Somers en nie die boogiemanweergawe nie) en Die Heks van Hexrivier – De Doorns en die Hexrivier is deel van my grootwordwêreld in Worcester. My ouma Tos het gesorg vir hierdie verhale – in kleur en geur. As ek nou terugdink, moes haar Jakkals & Wolfstories eintlik ’n ouderdomsbeperking gehad het – hulle was rillers! Sy was my veldouma wat graag kaalvoet geloop en vis gevang het. Elke rivier en berg en bos het ’n storie gehad. My oupa Hennie het weer vir my volksliedjies geleer – Perdeby, Daar kom die wa, Hoe ry die boere sit-sit so ens. My ouma het graag die houtkis in die spaarkamer oopgemaak en die Statebybel uitgehaal. Dit was ’n gewyde oomblik. Dan het sy voorin vir my gewys waar die lang lys name van al die geslagte voor my neergeskryf is. Heelonder was my en my sus se name. Dit het my van kleins af laat besef dat ek iewers hoort.

Dat ek deel van ’n besondere groep mense is wat baie swaar tye deurleef het en anderkant uitgekom het. Op ’n manier is al hierdie ervarings en vertellings vasgevang in die stories, liedjies en rympies wat ek byna daagliks by hulle gehoor het. My ouma Winnie en oupa Jan het weer vir my boeke gekoop en Hollandse rympies geleer, my vertel van my Skotse en Vlaamse voorsate. Hul stories het my weer op ’n heel ander manier aan ’n heel ander deel van die wêreld verbind. Maar die somtotaal het my ’n gevoel gegee dat ek behoort. Dat al die stories op ’n vreemde manier vertel wie ek, Wendy, is.

Ek hou nie van die term ‘herskryf’ nie – die meeste mense verstaan nie wat dit beteken nie en dink ’n mens skryf net eenvoudig ’n storie oor. Ek gun elke kind

(en grootmens) daardie wonderlike gevoel om te behoort. Om op ’n kolletjie te staan en in die blou lug op te kyk en te weet hierdie is my land en my mense. Dis my plek. Hierdie bonte mengelmoes van kulture en tale is my tuiste. Nêrens anders op aarde is so ’n plek nie – en ek is ’n ou backpacker!

Daarom spoor ek volksverhale en legendes op wat dikwels reeds gesterf het, loop op hul spoor om weer die regte inligting te kry en gee hulle aan ons land en sy mense terug. Elke keer as ek ’n storie aan die ondermaanse teruggee, maak ek weer ’n venster tot ’n spesifieke streek of dorpie of plaas oop wat dikwels lank vergete is. Mense en plekke wie se name soms dekades lank nie meer genoem word nie. Stories het ’n rimpeleffek. Stories is kragtig. En stories

Herfs Uitgawe 12
Wendy Maartens se voorliefde vir volksverhale het haar beywer om dié stories en rympies weer vir almal toeganklik te maak. Sy vertel ons meer.

loop nooit alleen nie. Stories is die brug tussen die sienlike en die onsienlike. Die dinamika van stories verbyster my. Hoe harder ek hier in die ondermaanse werk om ’n storie wat vergete is terug te bring, hoe harder werk die onsienlike saam met my. Die sinchronisiteit slaan dikwels my asem weg.

Ek doen dit omdat stories oor mense gaan. Ons het stories nodig om onsself en mekaar beter te verstaan. En hoe beter ’n mens jouself en jou komvandaan verstaan, hoe makliker laat sak jy jou skanse om iemand anders te probeer verstaan. Ek glo met my hele hart dat ons land kan heel word deur kinders van kleins af die stories van hul eie komvandaan te leer. Aan moedersknie en in die skool. As ’n Afrikaner/Zoeloe/Sotho of watter kultuur ook al se kinders hul eie stories ken, verstaan hulle die kern van hul mense se identiteit en hou iemand wat anders as jy is nie vir jou ’n bedreiging in nie.

Terwyl ek skoolgehou het, het ek besef dat my leerders nie meer die volksverhale, legendes, spookstories en ware verhale ken

waarmee ek groot geword het nie, ook nie die rympies nie – dit was in die vroeë 2000’s. Dit het my laat besef dat hierdie stories in die moeilikheid is. Dit het my ook gedring om bundels te skryf –wat baie harde werk is. ’n Bundel het ’n langer rakleeftyd. ’n Bundel word met respek behandel.

’n Enkelboek word makliker weggegooi en weggegee, maar ’n bundel word gebêre – vir die kinders en die kleinkinders. En dis presies hoekom ek skryf – om stories te bewaar. Elke keer as ’n ouma en oupa vertel dat hulle een van my bundels koop om vir ’n

kleinkind wat nou oorsee woon te neem, is ek saam met hulle hartseer, maar ook dankbaaar. Hulle kan nie ’n windpomp, ’n plaashek en ’n bloekom teen die bloue lug inpak nie, maar hulle kan ons land se stories saamneem wat al hierdie dinge oor soveel geslagte heen adem.

Deur volksverhale, legendes, heldeverhale, spookstories en rympies kan Suid-Afrikaners vir mekaar op ’n ander manier sê: “Ek sien jou raak, ek hoor jou, ek wil jou graag probeer verstaan. Vat my hand sodat ons hierdie onseker pad saam kan stap.”

Herfs Uitgawe 13

Wat is op my

Ons het LAPA en PRH se drie kinder- en jeuguitgewers gevra om hulle leesplesiertjies met ons te deel.

Nandi Lessing-Venter

Uitgewer: Kinder-, jeug- en opvoedkundeboeke

Dit sal geen mens verbaas dat ek lief is vir lees nie. Ek het ’n passie vir letterkunde en ’n onversadigbare aptyt vir onortodokse storievertelling. Iets wat my verbeelding aangryp, my oortuigings uitdaag en my na nuwe en opwindende wêrelde wegvoer, is my aarvoeding. Van aangrypende post-apokaliptiese verhale tot historiese fiksie, kan jy op my bedkassie verwag. Op die oomblik lees ek The Forest of Hands and Teeth (Carrie Ryan), Upright Women Wanted (Sarah Gailey), en Die Waterplek (Carina Stander). Ek is ook baie lief vir digbundels en een van my gunstelinge op die oomblik is Hilda Smits se mag die diep slaap jou dan

Shawna-Leze Meiring

Besturende redakteur: Kinder-, jeug- en opvoedkundeboeke

My klein genot is om liefdesverhale te lees. Dit is ’n genre wat heel verwyderd van my werk is, so ek geniet dit om myself te verdiep in ’n lekker dik liefdesroman. Volgende op my lysie is Lucinda Riley se Seven Sistersreeks. Ek lees deesdae op my Kindle omdat my boekrakke dreig om oor te loop.

Ek is ook besig om ’n nuwe leesvaardigheid aan te leer: Ek luister deesdae meer oudioboeke. Onlangs het ek Tomorrow and Tomorrow and Tomorrow deur Gabrielle Zevin gelees. ’n Pragtige roman wat my met ’n traan in die oog gelos het.

An-Mari do Carmo

Senior redakteur: Kinder-, jeug- en opvoedkundeboeke

Ek is een van daai vreemde mense wat altyd ten minste drie boeke op een slag lees. Ek verorber boeke in enige formaat! Die fisiese boek wat ek tans lees is The Davenports, ’n jongvolwassene historiese romanse waaroor enige Bridgerton-aanhanger sal mal wees.

Op my Kindle lees ek The Bone Spindle saam met my boekklub; ’n YA fantasie-hervertelling van Sleeping

Beauty … maar die slapende skoonheid is ’n prins, nie ’n prinses nie! En dan lees én luister (via oudioboek) ek ook ’n boek waardeur ek al jare lank geïntimideer is, Game of Thrones … en dis eintlik baie lekkerder en makliker om te lees as wat ek verwag het. (@anmaridocarmo)

Herfs Uitgawe 14

Lesersindrukke

Die ware avonture van Adelie en Riley

Felicia Snyman-du Toit

Ek het groot respek en dank vir kinderboeke wat in Afrikaans vertaal word, maar daar is iets ekstra spesiaal daaraan om ’n vars produk uit eie bodem in jou hand te hou. Presies so het ek gevoel oor Felicia Snymandu Toit se eerste kinderboeke. Sy is uitstekend gekwalifiseer hiervoor, want sy is ’n bedrewe skrywer en boonop ma van twee kinders. Tewens, Adelie en haar geliefde Boston Terriër, Riley, was die inspirasie vir hierdie fantastiese avonture.

Die swembadmonster, vertel van Adelie en Riley se avontuurlike vaart op haar wit eenhoringopblaasskip na die eiland Pegasus, kompleet met ’n slymerige monster en tentakels. Kry gerus ook Die Amadidas vir nog meer leesgenot.

Die storielyne is uiters verbeeldingryk en sal kinders se aandag beslis hou. Ek is mal oor die oorspronklike gebruik van lettertipes en kleur om die teks en die oulike illustrasies te komplimenteer. Ek sien baie uit daarna om dit vir my kleinkinders voor te lees, en sal dit sterk aanbeveel vir ouers en grootouers wat nie skroom om die wonderwêreld van stories en fantasie en ’n skeut mitologie saam met hulle kleingoed te ontdek nie. Amanda Claassens

Die lewe se vuil houe

Graad 10 is ’n uitdagende lewenstadium; die mengsel van kind en volwassene in een liggaam en ’n daaglikse soeke na identiteit en behoort. En dis veel erger as jou pa dinge, soos sy huwelik, sy vrou, en twee seuns, minder gemaak het, terwyl jou ma dinge al hoe meer maak. Sy is ’n opgaarder.

Dit is die dilemma waarin Dewie (De Wet) Koster homself bevind. Op 15-jarige ouderdom behoort sy prioriteite tussen skoolwerk en rugby te wissel, maar in plaas daarvan, moet hy intree as sy ma se beskermer, nie net teen die wêreld nie, maar ook teen haarself. En dis ’n baie onregverdige las.

In hierdie roman vir jong volwassenes, wat op die kortlys vir die Lapa Jeugromankompetisie 2021 was, stel die skrywer die lyer van die opgaarsindroom se kompulsie (“Jy probeer alles wat jy het steeds hê. Naby jou. Jou veiligheidsnet. Jou onthou. Jou iemand wees.”) teenoor een van die slagoffers daarvan se stryd om oorlewing: “Hy is heeltyd in survival mode. Dit verander ’n mens.” Die eensaamheid, frustrasie, woede, angs en opstand van ’n kind wat met die mantel van paterfamilias opgesaal word, word treffend deur Dewie as fokaliseerder aan die leser oorgedra.

Die skrywer is welbekend in beide die kinder- en tienerboekemark. In die meerderheid van sy romans vir tieners en jong volwassenes, speel spannende raaisels en aksie ’n groot rol. In hierdie roman beweeg hy heeltemal weg daarvan; sonder om die voordeel van ’n raaisel aan te wend om die spanningslyn te behou, wend hy Dewie se toenemende eksistensiële krisis as spanningsbron aan en doen dit uitstaande. Die gevolg is, na hierdie leser se beskeie mening, die skrywer se beste roman vir jong volwassenes tot op hede.

Die roman kan ten beste opgesom word in een van die karakters se woorde: “Elke goeie boek kom en ruk jou hart uit as jy dit lees. Jy weet dit gaan gebeur, maar jy lees voort, want jy weet: In daardie laaste paar blaaie sit die boek jou hart weer saggies terug, op ’n beter plek.”

Anschen Conradie

Herfs Uitgawe 15

Het jy al ingeteken op dié jaar se Klasgids?

Die Klasgids bestaan al sedert 1965 en is een van die Afrikaansonderwyser se beste vriende in die klaskamer. Natuurlik het die pandemie en ons posstelsel ons genoodsaak om aan te pas en daarom is die gids op hierdie stadium elektronies beskikbaar. Een gids kan vir die hele skool se Afrikaansonderwysers aangekoop word, en teen slegs R600 ontvang jy vier digitale uitgawes van 64 bladsye wat die volgende insluit: Toetse en eksamenvrae met nasienriglyne. Huistaal- en eersteaddisioneletaal-take vir elke fase. Visuele tekste en luisterbegrippe. Bespreking en ontleding van letterkundige tekste.

Daar is twee pakkette beskikbaar, ’n laerskoolpakket en ’n hoërskoolpakket!

Indien u graag ’n kwotasie wil hê, stuur gerus ’n e-pos aan info@klaskameraad.co.za en sluit asseblief die volgende in:

Naam en van Skool se naam

Skool se adres

Gekose pakket: Laerskool/Hoërskool/albei

En as ek nou eers inteken?

Moenie bekommer nie. Indien jy die volle pakket koop, ontvang jy steeds die eerste twee uitgawes, plus die uitstaande twee uitgawes.

Kry 10 uitgawes vir R1000!

Koop 2022 se pakket van 10 uitgawes aan, en spaar! Dit kos slegs R1000! Stuur ’n e-pos na info@klaskameraad en dui aan dat jy die 2022-pakket wil aankoop.

Herfs Uitgawe 16

prentjiewoordeboek rympies en stories leeskaarte

Tippieleerklankeis ontwikkel in samewerking met ’n arbeidsterapeut om verskeie vroeë ontwikkelingsvaardighede in te sluit. Klankvaslegging, korrekte klankvorming vir skryf asook ouditiewe en visuele perseptuele vaardighede vorm deel van hierdie unieke benadering.

Hierdie reeks sluit ’n verskeidenheid versteekte kurrikulumuitkomstes in met visuele struktuur vir ’n duidelike begin en einde. ’n Gestruktureerde werkswyse met ’n fokus op links na regs, bo na onder word ook van die begin af aangeleer. Leergereedheid is belangrik.

Tippieleerklankeis ’n makliker manier om klanke op ’n ouderdomstoepaslike en kindgerigte wyse aan te leer.

Daaris26boeke indieboekpak

Beskikbaar in alle goeie boekwinkels en aanlyn by www.lapa.co.za

Tippie is trots Suid-Afrikaans en in lyn met CAPS-vereistes.

OOK IN ENGELS BESKIKBAAR

René van Zyl

Jou jeugverhaal, Die monster in mymelkskommel, het ’n rukkie gelede verskyn. Waar het die idee vir die storie vandaan gekom? Ek het as jarelange kinderwerker (20 jaar) baie te doen met kinders en tieners wat met erge trauma worstel en wat nooit hulp of berading kry nie – dis asof dit iets is waarmee almal net self moet deel. Die trauma kan enigiets wees van ouers wat geskei is tot gesinsgeweld of huisroof. Die effek is dieselfde vir elkeen. Dikwels word daar nie verdere hulp aan kinders verleen nie of ouers self weet nie hoe om hul kinders te help nie. En sosiale media help beslis nie – daar is almal net pragtig en uitgesorteer. Boonop kan mense jou daar slegsê en in die verleentheid stel, sonder enige gewetenswroeging. Dit laat tieners nog meer hopeloos en verlore voel. Ek wou met humor en interessante karakters ’n bietjie lig op die swaar onderwerp werp en hopelik tieners help om te deel met hul eie trauma.

Daar is sterk temas oor trauma, geweld en boeliegedrag in jou boek. Is dit die éintlike pandemie waarmee tieners sukkel en hoe, dink jy, help ’n boek soos die om hierdie realiteite vir kinders sagter te maak?

Ja beslis, skool is anders vandag. Tieners worstel met aanpassing, vrese, identiteitskrisisse, woede, frustrasie, ’n oormaat van informasie en slegte wêreldnuus. Selfs die toekoms lyk donker en soms is almal net te oorweldig – van die boelie tot die slagoffer – elkeen reageer uit sy eie pyn

en verwarring. Almal is eintlik slagoffers van iets. My eie dogter vertel nou die dag vir my van ’n angsaanval wat sy in ’n situasie gekry het. Ek vra bekommerd wat het daartoe gelei en sy antwoord: “Dis hoe dit deesdae is. Alle tieners het ’n vorm van sosiale angs. Ons jongmense sukkel natuurlik almal met PTSD en trauma – hoe dan anders? Ons word met sosiale media en massas inligting oorval en tussendeur moet ons goeie punte kry, probeer om gebalanseerd te lewe en boonop lyk of ons cope. En dit in ’n land waar korrupsie boonop ons hoop en ons toekoms steel.”

Ek wou met Die monster in my melkskommel probeer om hierdie trauma (hetsy van boelies, misdaad, gesinsgeweld, verlating, ens.) op ’n buite-die-boks manier aanspreek, maar ook met humor en met simboliek waarmee tieners bekend is. Tieners is mal oor vreemde kreature soos zombies en donker karakters soos naglopers en tokkelossies. (Ek ook – hierdie soort karakters fassineer my al my lewe lank!) Ek hoop dit help jongmense daarbuite wat dink dit is net hulle alleen wat sukkel met trauma en aanpassing. Elkeen sukkel – en die ergste is: jou ouers sukkel self met trauma uit hulle verlede –eintlik is hulle self nog besig om groot te word terwyl hulle hul eie kinders moet grootmaak – selfs onderwysers stoei met hul eie demone en trauma tuis en moet boonop daaglikse met ’n ‘glimlag’ kinders lei om goed aangepaste volwassenes te word. Ek wou hierdie verstaan ook aan die leser oorbring.

Wat was die lekkerste deel van die boek om uit te dink? Want kom ons wees eerlik, daar is zombies en tokkelossies, dis spannend én dis snaaks, so dis ’n mondvol! Eintlik was elke deel van die boek lekker om te skryf. Veral Lexi se hantering van haar vrese en die manier hoe sy beheer daaroor vat en besluit sy is die enigste een wat haar getraumatiseerde gesin kan red. Lexi se verbeelding was vir my fassinerend. Maar ook haar drie vriende, Taliep, Zinzi en Michael se reaksie daarop en hoe hulle voluit en vrywillig saamgesleep word met haar verbeeldingsvlug.

Daar is ’n paar onverwagte vriendskappe en interessante, diverse karakters. Hoekom is dit belangrik om stories so in te kleur, veral as mens die onlangse debat oor kinder- en jeugboeke in ag neem waar skrywers (en uitgewers) beskuldig is van té woke wees?

Ek moes nou eers gaan opsoek wat presies ‘woke’ beteken! ‘Woke’ word toenemend gebruik as ’n bywoord vir sosiale bewustheid. Ek is gebore met hierdie default setting: my sterreteken is ’n Vis (Pisces) –ons dra die las en smart van die mensdom op ons skouers.

Ek probeer altyd beide

Herfs Uitgawe 18
10vraevir…

die slagoffer en die bullebak verstaan, want beide moet volgens my met simpatie behandel word en gered word. So as dit my te woke maak, is ek seker?!

Ek geniet buitendien vreemde karakters wat nie in boksies pas nie. Ek glo die leser wil nie lees van gewone vervelige mense nie – daarom skryf ek hulle en geniet ek hulle self.

Wat is vir jou die lekkerste deel van die skryfproses?

Ek geniet die navorsing, die oplees oor vreemde mense en interessante feite en om dit alles dan in ’n kreatiewe storielyn te pas. Dis lekker om te skryf oor groot karakters met elkeen hul eie unieke geite en gawes – ek geniet dit alles. Veral om karakters van uiteenlopende persoonlikhede uiteindelik as vriende bymekaar te bring – dis gewoonlik die uitdaging en groot pret. Die einde is altyd vir my ’n heerlike verrassing, want dis asof die storie en karakters dit self uitdink – nie ek nie. En ja, natuurlik om daardie boek na al die werk en droom en duimvashou in jou hand vas te hou – dis die kersie op die koek.

Het jy enige spesifieke skryfroetines of dalk selfs bygelowe, soos ’n spesifieke plek waar jy moet sit, of selfs ’n sekere beker waaruit jy koffie drink terwyl jy skryf?

Nie juis bygelowe nie, maar ek kan die beste dink met my hande op die sleutelbord. Dis of my brein dan asem kry en spoed vang. Ek kan skryf in sneeu en donderweer, met lawaai in die agtergrond, in my kantoor of in ’n restaurant – my brein sluit af en ek leef in my eie wêreld.

Jy skryf ook volwasse fiksie en het al jou hand aan verskeie liefdesverhale gewaag. Dis seker onregverdig, maar watter genre is jou gunsteling?

Elkeen het sy eie bekoring. Wanneer ek in daardie genre skryf, is dit die lekkerste een op daardie stadium. Met die liefdesverhale is dit asof ek weer jonk is en die lewe en liefde vol hoop en verwagting voor my uitstrek. Met die samesweringsromans is ek in ’n wêreld van leuens, verraad en geloofskonflik vasgevang en dis uitdagend om die hele tameletjie saam met die karakters uit te sorteer. Die navorsing vir hierdie boeke is altyd baie intensief en ek geniet elke oomblik daarvan.

Watter boek (fiksie, kinder- en jeug, niefiksie, maak nie saak nie) wens jy jy het geskryf en hoekom? Enigiets wat Terry Pratchett geskryf het, veral sy Discworld novels. Hy was ’n Engelse humoris, satirikus en skrywer van fantasieromans – en hy was super intelligent. Hy is die mens met die grootste verbeelding en ’n manier om ’n ding te sê wat jou laat krul van lekkerkry en sy sin vir humor was ongelooflik.

Meeste van jou boeke het ’n sterk geestelike ondertoon. Hoekom is dit vir jou belangrik om dit in jou stories in te werk of gebeur dit organies?

Ek dink dit gebeur vanself, want ek het ’n baie maklike en spontane verhouding met God – ons lag en stry daagliks oor dinge, soos wat ’n mens met ’n goeie pa sal doen. Die pad wat ek oor

die laaste dertig jaar met Hom stap, met my seun wat op 15 maande ’n breinvirus gekry het en ergere breinskade oorgehou het ... Dít het my mak gemaak en vir my gewys dat God aan my kant is – aan elkeen se kant is. Ongeag. Niks wat jy kan doen of sê, kan Hom skok nie. Ek wil graag hê mense moet besef dat Hy so deel is van jou alledaagse bestaan soos asemhaal en Hy is nie iets om te vrees nie. Daarom werk ek dit seker outomaties in my stories in. Om ’n seun van 30 te hê wat soos ’n tweejarige is, maak die lewe ook vol humor en vreemde (soms rooigesig-) situasies waaroor ’n mens net later kan lag. Ek sou dit nie kon doen sonder God se hand wat my regop hou en soms saamsleep nie. Ek probeer geensins sê ek is hoogheilig nie – allesbehalwe – ek vloek en skel nes enige ander mens, val en gooi tantrums, maar ek voel beslis nie skuldig daaroor nie. Ek probeer eerder wys dat God heeltyd daar is vir jou – maak nie saak wie of wat jy is nie.

Wat is die lekkerste ding wat jy nog ooit geëet het?

Enigiets Italiaans – maar veral daai smullige roomys, Gelato. Elke hap is hemels. Die dorp waar dit ontstaan het, is Bergamo in die Noorde van Italië. Ons het daar ook die ongelooflikste Pizza

Romano geëet – ook genoem:

“scrocchiarella” – met ’n dun kraaklekker kors en dik gestapelde vulsel bo-op –hompe vleis en hope mozzarella kaas. My mond water nou!

Herfs Uitgawe 19

Lia en Reënboog sê: Kleur ons in!

Kyk uit vir al hierdie lekker titels!

Daar is iets vir elke leser - vir jonk én ’n bietjie jonger!

7+ 15+ 7+ 15+ 11+ 7+ 13+
5+
Skandeer die QR-kode met jou slimfoon OF gaan na www.lapa.co.za/kinder-en-jeughuddle-kompetisie-mei2023 *Kompetisie sluit op 1 Julie 2023. Terme en voorwaardes geld. Hoe om deel te neem Staan ’n kans om 10 van die boeke van jou keuse wat in die uitgawe van Die Huddle verskyn, te wen!
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.