Die Matie – 21 April 2021

Page 1

DieMATIE WOENSDAG 21 APRIL 2021

TAGTIGSTE JAARGANG | NO 3

MASKED-UP MOLASSESÊR 2021: Lydia turned on the camera to the new reality students face. PHOTO: Sibella Swanepoel

Die AU maak opslae in Stellies DOMINIQUE FUCHS

D

ie student wat in 2017 die organisasie gestig het wat Nazi-era plakkate regoor kampus opgesit het, Dean Dart, probeer weer lewe in dié beweging blaas. Nadat hy weens hierdie kontroversiële plakkate van die Universiteit Stellenbosch (US) verban is, kyk hy na die moontlikheid om die Anglo-Afrikaner Unie (AU) as ’n US-studentevereniging te registreer. Dart het in 2017 die Anglo-Afrikaner Studente-unie (ASU) gestig wat doodgeloop het en vanjaar het hy ’n gewysigde weergawe van dié veldtog, die AU, hervestig. Die AU is tans besig om na die reëls te kyk om moontlik ’n US-studentevereniging te word. “[Ons] sal ’n verklaring in hierdie hoedanigheid uiteensit sodra ons in plek is om dit te kan doen.” Die US se Studenteraad (SR), wat in beheer is van die goedkeuring van studenteverenigings, se kommentaar op die moontlike registrasie van die AU as ’n studentevereniging is as volg: “Ons voel dit is ’n ingewikkelde saak wat verder bespreek moet word”. “Waarskynlik kan niemand jou keer om ’n organisasie of beweging te begin nie, maar of dit amptelik as ’n studentevereniging mag funksioneer, is waarskynlik ’n ander storie,” sê Martin Viljoen, die US se woordvoerder.

Dart en twee ander studente het weens die plakkate in 2017 in die spervuur beland en moes onder meer gemeenskapsdiens doen. Hy het hom onsuksesvol tot die US se dissiplinêre appèlkomitee gewend en is daarna ’n nuwe straf opgelê en van die US geskors. Verlede jaar het Dart op 15 September die US se uitspraak op hersiening na die hooggeregshof in Kaapstad geneem. Die hof het egter vroeër vanjaar in die US se guns beslis. Die US se kommentaar oor die hof se beslissing was soos volg: “… die uitspraak van die hof ten gunste van die universiteit word deur die universiteit verwelkom; dit is ’n duidelike bevestiging dat die universiteit se dissiplinêre prosesse korrek en regverdig is. Die saak is afgehandel en dit het geen doel om verder oor hierdie saak te praat nie.” Dart het in 2017 sy studies aan die US as ’n BA (Taal en Kultuur)student begin. In dieselfde jaar het hy die ASU op kampus begin om die “Marxistiese Fees Must Fall en Open Stellenbosch-beweging teë te sit en sodoende die integriteit van die US te verdedig” lei Dart se politieke biografie. Die ASU het Hitler-jeug plakkate met hulle inligting op kampus versprei om hul eerste vergadering te adverteer. Volgens Dart het hy nie deelgeneem aan die ontwerp van die plakkate nie en was dit nie sy of sy kollegas se bedoeling

dat die plakkate Nazi-konnotasies moes hê nie. Die plakkate het volgens hom viral gegaan en het op nasionale koerante asook internasionale nuusplatforms soos CNN, BBC en Al Jazeera verskyn. Weens sy aktivisme is Dart glo deur die universiteit “geteiken”, van kampus verban en kon hy nie meer klasse bywoon nie. Nadat hy die administrasie hieroor aangevat het, is hy aan die einde van 2017 van die US geskors. Dart meen dat aangesien sy naam in die media genoem is, is hy “akademies, sosiaal en ekonomies uitgestoot,” en kon hy nie werk kry nie. Volgens Dart het hy die meeste van sy besittings verloor en is hy haweloos gelaat. Tans woon hy in Kaapstad en werk hy as ’n entrepreneur. Weens die kwessies rondom die Taalbeleid wat vanjaar hersien word, het Dart besluit om die AU te vorm wat dieselfde doel voor oë het as die ASU wat hy in 2017 gestig het. Die AU is op 1 April gestig en die Afrikaans Zal Blijven!!-veldtog is op 9 April geloods. “Ons veldtog loop goed en trek nou wyd nie net binne Suid-Afrika nie, maar selfs oorsee!” sê Dart. Die AU het op 9 April aan ’n massa-aksie vir Afrikaans deelgeneem saam met die DAK-netwerk, die Afrikaanse Taalraad, akademici en studente by die US waartydens ’n memorandum aan die universiteit oorhandig is.

Die organisasie se slagspreuk is “Afrikaans Zal Blijven!!” en die rede is volgens Dart dat “die Afrikaanse leksikon onstaan omtrent so 90% [uit] Nederlands. Ons dra eer aan die ryk erfenis waaruit Afrikaans onstaan het en aan die bydra wat dit gemaak het [tot] die vorming van die Germaanse-Taal groepering”. Die AU is in verbintenis met Vlaamse en Nederlandse studenteorganisasies wat die Afrikaans Zal Blijven!!-veldtog ondersteun en aktivisme-aksies by hulle universiteite gaan loods. Deur die slagspreuk dra die organisasie eer aan Jannie Marais, die stigter van die universiteit wie se standbeeld op die Rooiplein staan. “Sy nalatenskap was die stigting van die universiteit” en dit was Marais se visie dat die US onderwys in beide Afrikaans en Hollands sou bied. Volgens Dart het die organisasie al baie ondersteuning ontvang, al het hulle hulself eers in April bekendgestel. “Ons besef dat ons nie net met ’n taal te doene kry nie – ons het met ’n erfenis te doen,” sê Dart. In die AU se mediaverklaring van 13 April, skryf hulle dat “die beleidspraktyke wat nou in werking tree, institusionele strukture verder sal verskans wat deur afdelings binne die universiteit ondersteun is om ’n sistemiese onderdrukking van ’n taal te skep”

wat volgens hulle “’n direkte aanval op die waardigheid van elke Afrikaanssprekende is, hetsy swart, kleurling, wit [of] primêre, sekondêre [en] tersiêre sprekers.” Oor die vraag waarom juis die naam Anglo-Afrikaner Unie gekies is, antwoord Dart: “Ons skep ’n unie tussen die Afrikaanssprekende en Engelssprekende Westerling.” Volgens sy Twitter-bio, beskou Dart homself as ’n Anglokaner wat volgens die organisasie ’n Engelssprekende Westerling is wat hulself in Afrika bevind. In die AU se mediaverklaring wat op 13 April uitgereik is, skryf die AU ten slotte dat hulle die Afrikaans Zal Blijven!!-veldtog aan die US sal voortsit en dat dié “debakel ver van afgehandel is”.

CONNECT WITH US:

@diematie


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
Die Matie – 21 April 2021 by Die Matie - Issuu