courant
1 Wellington
dié
5 Julie 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 427
•LEWER VIR 40 JAAR APTEEKPAKKIES AF
5 Julie 2017
Marthinus trap die fiets na aftrede •Jaomi Zeeman Daar is baie bekende bakens in Wellington. Almal weet van die wingerde, die berge, Bainskloofpas, Andrew Murray, die droëvrugtebedryf, die wyn, die ongelooflike natuurskoon – en van Marthinus Marais. Saam met al die ander dinge wat eie is aan ons dorp, is hierdie vriendelike man op sy fiets ‘n onlosmaaklike deel van Wellington se alledaagse bedrywighede en aktiwiteite. Marthinus, wat hierdie maand sy 60ste verjaardag vier, werk al sedert 1976 as bode by die plaaslike apteek. As daar iemand is wat ‘n medalje moet kry vir die talle hoofpyne, ongesteldhede, kwinte en kwale wat sy aflewerings al moes verlig, moet dit Marthinus wees. Hierdie man ry al vir meer as 40 jaar lank elke dag die dorp op sy fiets plat met medisyne wat hy van huis tot huis aflewer. Marthinus, wat saam met sy gesin op die Bosmans se plaas woon, vertel dat hy as jong man in 1976 ‘n werk by die apteek op die dorp gekry het. “Ek het as bode by die apteek ingeval en moes elke dag voorskrifmedisyne en ander bestellings in die dorp aflewer. Nou is dit al meer as 40 jaar later en ek doen dit nog steeds. Ek het al baie mense sien kom en gaan hier in hierdie dorp,” sê hy. Van aftree wil Marthinus egter nog niks weet nie. Volgens hom hou die fietsryery hom gesond en aan die gang. “Ek lewer in die hele dorp af, tot so ver as Douglas Green. En dan aan die ander kant tot by Dukes. Dis wyd,” vertel hy. Alhoewel Marthinus baie gelukkig is in sy werk en dit vir niks sal verruil nie, sal hy definitief maklik as ‘n plaaslike toergids of iemand in die posbedryf ‘n werk kan kry. Hy ken al die mense in die dorp, weet van al die strate, agterstrate en buurte en het die een na die ander nuwe uitbreiding al met sy fiets verken. Hy ken nie net die mense nie, maar weet ook van almal se siektes, skete, beterskap of agteruitgang – geheime wat hy elke dag met hom saamdra terwyl sy fiets se speke deur die strate sing. “Mense wat van buite af die dorp besoek en soms verdwaal of ‘n plek of ‘n mens nie kan opspoor nie, kom stop baiekeer voor die apteek. Dan sê iemand: ‘Gaan vra net vir Marthinus, hy sal vir hulle die pad kan beduie of kan help’,” lag hy oor sy goeie kennis van ons dorp. Volgens Marthinus is die mense in die dorp baie lief vir hom. Dit is juis die mense wat sy werk vir hom so lekker maak.
“Die mense saam met wie ek werk, die mense by wie ek aflewer, die mense in die dorp wat my elke dag groet – dit maak my werk vir my lekker. Baie mense sê hulle wil my nie verloor nie, dat ek tog nooit moet ophou met wat ek doen nie, dat hulle lief is vir my, dat dit nie meer dieselfde sal wees as ek nie hulle medisyne kom aflewer nie. Dit maak my gelukkig,” sê hy nederig. Selfs die honde in die dorp ken vir Marthinus en hou van hom. “Die honde pla my nie juis nie en hulle jaag my ook nie. Ek het net een keer geval toe ‘n hond voor my inhardloop, maar andersins pla hulle my nooit,” vertel hy. Koue winterweer en styl bulte is nie iets waarvoor Marthinus skrik nie. Hy vertel dat hy eenvoudig sy reënbaadjie aantrek wanneer dit nat weer is en sorg dat die aflewerings gedoen word. “Berg-en-dal se bult is nogal erg, maar ek het hom al baie getrap. "Partykeer ry ons met die motor as daar baie aflewerings daar teen die bult is,” sê hy.
Volgens Marthinus het hy al baie kennis van medisyne oor die jare opgedoen. “Ek ken die name en die bestanddele en waarvoor wat gebruik kan word. Ek help partykeer die mense op die plaas met raad. "Ek het ook al my eie salf gemeng en ek weet wanneer daar ‘n goedkoper generiese medisyne is vir ‘n duur handelsnaam. Dan sê ek dit vir die mense,” vertel hy. Oor of hy van die plaaslike Marais’s familie is, lag Marthinus net. “Baie van die Marais’s het al gespot dat ek van hulle familie is en party noem my selfs ‘neef’,” lag hy. Intussen ry Marthinus elke dag met trots op sy fiets deur die dorp om die mense te help en te bedien. Hy glimlag altyd. Hy groet altyd. “As ‘n mens ‘n passie het vir wat jy doen en dankbaar is, sal dit met jou goed gaan. "Ek is dankbaar vir my werk. "Ek hét ‘n werk en ek is trots daarop,” sê hy voordat hy weer op sy fiets klim om nog ‘n aflewering te gaan doen.
NUUS • NEWS