Skip to main content

Wellington 404 25 Januarie 2017

Page 2

2

25 Januarie 2017

NUUS • NEWS

•MOTIVEERDER VAN FORUMS

Gemeenskap altyd eerste vir Barnard Die skielike heengaan van Attie Barnard op Woensdag 18 Januarie was ‘n groot skok vir die gemeenskap van Wellington. Sy heengaan laat ‘n geweldige leemte in die dorp – nie net onder sy familie en vriende nie, maar ook op die gemeenskapsforums waarvan hy die stigter, lid en motiveerder was. Volgens Francois Theron, wat saam met Attie by die Stopmisdaad-inisiatief betrokke was, was hy by uitstek ‘n gemeenskapsmens. Francois bring, namens Stopmisdaad, soos volg aan Attie hulde: “In sy persoonlike hoedanigheid het Attie inisiatiewe geloods rondom belangrike Wellington-projekte, veral wat openbare veiligheid betref. Deur sy inisiatief is die Buurtwag/Stopmisdaad-projek drie jaar gelede geloods. Hierdie projek, met ‘n huidige Facebook-lidmaatskap van ongeveer 4 000 en ‘n 'WhatsApp'-struktuur vir die deurgee van inligting, het ‘n vername bydrae gelewer om die grondslag te lê vir samewerking tussen Wellingtonners en die plaaslike SAPD. “Attie het ook oor vele jare in ander plaaslike strukture soos die Wellington Forum en Sakekamer ‘n onskatbare bydrae gelewer om plaaslike inisiatiewe te prioritiseer, projekte te loods, te evalueer en moniteer. As gemeenskapsmens het Attie beïndruk deur vername uitdagings te identifiseer en te sorg dat dit aangespreek word. Hy was by uitstek ‘n gemeenskapsleier. “Die van ons wat oor die jare met hom saamgewerk het, was beïndruk met sy opregtheid en

eerlikheid, sy opoffering en 'no nonsense' benadering tot openbare sake van belang. Wellington het in Attie ‘n baie spesiale, uitstaande persoon verloor. Ons dink in hierdie tyd veral aan sy vrou en kinders.” As mede-eienaar van Mattelo Computers in Wellington en die Paarl het Attie ook ‘n groot indruk gemaak op almal wat sy pad gekruis het. Sy verslae kollegas bring ook hulde aan hom: “Attie Barnard is Woensdag 18 Januarie ongeveer 18:00 die aand oorlede. Hy was vir ons by die werk ‘n goeie vennoot, kollega en in die eerste plek ‘n goeie vriend. "Ons by Mattelo, werknemers en kliënte sal hom geweldig mis. Die gemeenskap van Wellington en Paarl sal ook ‘n aktiewe gemeenskapsleier wat nie net gehelp het om misdaad te beveg nie, maar wat ook met deernis die nood van behoeftiges aangespreek het, mis. "Ons wil as kollegas vir sy vrou Marietjie en sy kinders Atmari en Eloïse ons innige simpatie betuig. "Mag Attie se lewe van liefde en omgee vir julle en almal wat sy pad gekruis het, kosbare herinneringe wees om in die jare wat kom te koester. "Mag sy gesin die troostende teenwoordigheid van die lewende Christus in hierdie dae en die maande en jare wat kom, ervaar. Mag Attie se besondere nalatenskap van naastediens en liefde vir ons almal inspireer om so te lewe.” Attie Barnard se spore lê voorwaar diep in die Wellington-gemeenskap. Sy nalatenskap is iets waarop daar voortgebou kan word.

Amasone:

Die plaaslike fotograaf en avonturier, Johan Dempers, vertrek later vanjaar op ‘n ekspedisie na die Amasone-reënwoud. Hy sal in Augustus as deel van ‘n uitgesoekte span internasionale spesialiste, bestaande uit vier kenners op verskillende gebiede, ‘n opvoedkundige reis na hierdie uitdagende gebied lei. Tydens die ekspedisie sal hulle avontuur met die natuur kombineer en veral op die STEM-gebaseerde stelsel (Science, Technology, Engineering, Mathematics) fokus. Studente en opvoeders van regoor die wêreld sal die ekspedisie kan meemaak. “Ek sien daarna uit om hierdie ongelooflike gedeelte van ons planeet met die wêreld te deel,” sê hy. Foto: Facebook

Kokkedoor laat kospotte op Wellington prut

Bo: Irusha Krohn en Anelma le Roux van die NEO Funksielokaal langs Johnny Hamman en Marius Uys van die nuwe NEO Restaurant. Johnny Hamman en Marius Uys het geen bekendstelling nodig nie. Johnny was die wenner en Marius een van die top-deelnemers in die Kokkedoor 2014-televisiereeks. Hierdie twee kreatiewe kokke het onlangs in Wellington hul nuwe tuiste gevind. Johnny en Marius is al reeds ‘n raps meer as twee weke lank besig om hul nuwe restaurant, NEO, by die voormalige Kleinevalleij-funksielokaal gereed te kry. Volgens dié twee Kokkedoor-gunstelinge is hulle baie opgewonde oor hierdie nuwe Bolandse avontuur. “Ons basis was die afgelope paar jaar in Somerset-Wes en ons het van daar af al ons catering en funksies gedoen,” vertel Johnny. “Spyseniering is iets wat ‘n mens op enige plek kan doen, jy het net ‘n kombuis nodig,” verduidelik hy. Met hul nuwe restaurant, NEO, gaan hulle egter op ‘n meer permanente basis en op ‘n groter platform vir mense kan kosmaak. “Ons sal steeds met ons oorspronklike spysenieringsbesigheid, ‘Slippery Spoon Kitchen’, voortgaan waar ons vir troues en funksies sal regstaan, maar ons wil met die restaurant probeer om ook die gewone mense, die breër publiek, te bedien en te bereik,” vertel hulle. Marius en Johnny het gesamentlik meer as 20 jaar se gekombineerde ervaring in die kosindustrie en hul “Slippery Spoon Kitchen”-spyseniering was ‘n spontane uitvloeisel van beide se kreatiewe benadering tot kos en hul passie om in die kombuis te werk. Dit was juis hierdie gemeenskaplike eienskappe wat hulle ná hul ontmoeting op die stel van Kokkedoor, saam ‘n besigheid laat begin het. Maar wat is dit wat hierdie twee bekende kokke na Wellington gelok het? “Ses maande gelede sou ek nooit kon droom dat ek vandag in ‘n kothuis buite Wellington sou bly nie,” vertel Johnny. Marius is nog op soek na ‘n blyplek in die dorp. “Ons nuwe naam, NEO, sê alles – alhoewel dit al lankal ‘n droom is, is hierdie nuwe restaurant, wel, heeltemal nuut,” sê hulle. “Anelma en Irusha, wat nou die funksielokaal by Kleinevalleij bedryf, het ons ‘n paar maande gelede gekontak met die voorstel dat ons ‘n restaurant hier kan begin. Nadat ons die ongelooflik goed toegeruste kombuis en fasiliteite gesien het, het ons besef dat dit dom sou wees

om níé ons droom van ‘n restaurant hier te kom verwesenlik nie,” vertel hulle. Anelma le Roux en Irusha Krohn is ook ou hande in die funksiebedryf. Dié twee besit en bestuur nie net die “Goeters”-verhuringsmaatskappy nie, maar is ook bekende en gerekende funksie-beplanners en –koördineerders. “Ons is al lank vriende met Johnny en Marius en dit het net sin gemaak om hulle vir die moontlikheid van ‘n nuwe restaurant te nader, nadat ons besluit het om die Kleinevalleij-funksielokaal te omskep en te bestuur,” sê hulle. Hierdie gedugte span van vier het groot planne vir die nuwe NEO funksie-bestemming. “Anelma en Irusha gaan die troues en funksies en alles wat daarmee gepaard gaan behartig en ek en Marius gaan natuurlik die spyseniering doen en dan ook die restaurant net langsaan hanteer,” sê Johnny. Volgens Anelma beplan dié span baie interessante dinge vir die nuwe NEO. “Ons gaan geweldig baie interessante, kreatiewe sessies en funksies hier aanbied. Die mense kan hulle maar regmaak vir dinge soos koservarings wat met blomme-werkswinkels gekombineer word, heerlike musiekvertonings en nog vele meer. Hou hierdie ruimte dop!” sê sy. Wat die planne vir Johnny en Marius se nuwe NEO restaurant betref, is hulle ook baie opgewonde. “Ons fokus is op die plaaslike mense, die plaaslike produkte en goeie kwaliteit. Jy sal gewone kos soos burgers en pizza’s, natuurlik met ‘n bietjie flair of ‘n twist, teen bekostigbare pryse hier kan kry,” laat hulle die aap ‘n bietjie uit die mou. Hul langtermyn-planne behels ook interessante dinge soos die moontlikheid van ‘n plaaslike mikro-brouery en ander spesialis-vaardigheidsbedrywe in. “Maar dit is in die lááángtermyn,” skerts hulle. “Ons wil onsself eers vestig.” Johnny en Marius beplan om hul nuwe NEO restaurant in Maart te open. “Hierdie is nie net sommer ‘n deel van ons reis nie – dit is heel waarskynlik ons afpakplek. Ons werk kliphard om reg te wees om oor ‘n maand of wat ons deure vir die publiek oop te maak,” sê hulle. “Ons is klaar verlief op Wellington.” En Wellington sal heel waarskynlik ook blitsvinnig op hierdie twee Kokkedore verlief raak.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Wellington 404 25 Januarie 2017 by DieCourant - Issuu