2 minute read

Daniël van der Merwe verwerf doktorsgraad in skaapvoeding

DDaniël van der Merwe het in Maart 2020 tydens die inperking sy PhD in skaapvoeding aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy studie is by die Departement van Landbou op Elsenburg uitgevoer. Die mikpunt van die studie was om ’n besluitnemingsondersteuningstelsel op te stel om die ideale slagmassa van die lammers van die verskillende skaaprasse te voorspel. Hierdie stelsel kan op die voerkraalafronding van lammers toegepas word.

In die proefskrif is wiskundige modelle ontwikkel om groei, voerinname, rugvetneerlegging en wolgroei, sowel as vleis-, wol- en leergehalte-eienskappe van lammers van verskillende skaaprasse te beskryf. Die rasse wat by die verskeie studies ingesluit is, het bestaan uit ooie en ramme van Dohne Merino, Dormer, Dorper, Meatmaster, Merino, Namakwa Afrikaner, Suid-Afrikaanse Vleismerino (SAVM) en Witdorper.

In die onderskeie studies is die lammers grootgemaak onder optimale groeitoestande vanaf geboorte tot en met die ouderdom van een jaar. Die modelle en resultate wat in die bogenoemde studies verkry is, kan gebruik word om simulasies van voerkraalsituasies van verskillende skaaprasse uit te voer en die moontlike uitkomste te voorspel. Ideale slaggewigte vir die lammers, in terme van die markspesifikasies of optimale winsgewendheid, kan dan bepaal word om die produsente te help met die besluitneming. Die resultate dui ook op die produkkwaliteit van vleis, wol en leer van die verskillende rasse, wat die produsent sowel as die verwerker kan help om te besluit oor die geskikste bemarkingstrategie vir optimale winsgewendheid.

Inligting uit hierdie tesis, sowel as drie ander tesisse waarvan die werk ook op Elsenburg en by die Universiteit Stellenbosch gedoen is, word tans gebruik om ’n praktiese rekenaarmodel te ontwikkel. Die skaapprodusent kan hierdie model gebruik om te bepaal hoe lank hy sy lammers van die agt rasse, sowel as sekere terminale kruisrasse, ná speen op die winsgewendste manier moet voer.

Sodra die model voltooi is, sal dit gratis aan skaapprodusente beskikbaar gestel word. Sewe wetenskaplike publikasies is reeds in erkende internasionale wetenskaplike joernale uit die werk gepubliseer, wat op sigself ’n uitsonderlike prestasie is. Daniël is tans voedingskundige by Kemin Industries onder die herkouer-platform. Die navorsingsprojek is finansieel ondersteun deur die navorsings- en tegnologiefonds van die Nasionale Navorsingstigting van SuidAfrika, Cape Wools SA sowel as die WesKaap Landbounavorsingstrust. Die vleiswerk is ook ondersteun deur die South African Research Chairs Initiative in Meat Science onder leiding van prof. Louw Hoffman. Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het finansiële ondersteuning verskaf, asook die fasiliteite om die werk uit te voer. Die werk is onder die studieleiding van prof. Tertius Brand, spesialiswetenskaplike van die Departement van Landbou op Elsenburg en buitengewone professor aan die Universiteit Stellenbosch, uitgevoer. AP

’n Groep nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch wat hulle studies by die navorsingsafdeling van die Departement van Landbou op Elsenburg onder leiding van prof. Brand uitgevoer het of tans uitvoer. Van links: Prof. Tertius Brand, Anieka Muller, JP van der Westhuizen, Johanet van der Merwe, Waldo van Rensburg, Colette Engelbrecht, dr. Daniël van der Merwe en Leanne Jordaan.

This article is from: