1 minute read

Besonderse prestasie val nagraadse student te beurt

deur dr. Johan Labuschagne, johanl@elsenburg.com

RRuan van der Nest, student aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Agronomie, het onlangs die besonderse prestasie behaal deur as wenner van die gesogte Junior Kaptein Scott Gedenkmedalje in plantwetenskappe aangewys te word. Hierdie medalje word elke jaar deur die SuidAfrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken vir die beste meestersgraadverhandeling in plantkunde of dierkunde (afwisselend elke tweede jaar), ingedien by ’n Suid-Afrikaanse universiteit. Hierdie jaar was dit plantkunde se beurt, en in ’n uitsonderlike gebeurtenis is twee meestersgraadverhandelinge in plantkunde vanjaar met die medalje beloon nadat die beoordelaars beide as uitmuntend beskou het.

Ruan se studie, getiteld “Liming strategies for barley and canola production in no-tillage systems”, het gehandel oor die opheffing van grondsuurheid deur bekalking en die reaksie van gars en canola daarop. Onder studieleiding van dr. Pieter Swanepoel (Universiteit Stellenbosch), met medestudieleiers drs. Johan Labuschagne (Wes-Kaapse Departement van Landbou) en Ailsa Hardie (Universiteit Stellenbosch), het Ruan ’n belangrike bydrae gemaak tot die kennisbasis om grondsuurheid onder bewaringslandboutoestande te bestuur. Aspekte rondom die vorm, fynheid en suiwerheid van kalk is bestudeer, asook hoe verskillende grade van grondversteuring die effektiwiteit van bekalking beïnvloed. Verder is ’n uitgebreide studie uitgevoer om die grade van grondsuurheid en die mate van pH-stratifikasie in die graanproduserende streke van die Wes-Kaap te bepaal. Die tesis is beskikbaar op die webtuiste van die Universiteit Stellenbosch by: library.sun. ac.za. In die April 2021 uitgawe van SA Graan het ’n opsommende artikel onder die titel “Stratifikasie van grond-pH in die Wes-Kaap ondersoek” verskyn. Die artikel kan ook direk op SA Graan se webtuiste gelees word by sagrainmag.co.za/magazine.

This article is from: