
3 minute read
OOR DIE MIKROFOON MIKROFOON D
by WCDOA pubs
deur Eloise Pretorius, eloisep@elsenburg.com
Die afgelope maande op RSG Landbou was beide bevestigend en bevredigend. Met trots het ons verneem dat ons Vrydag-program by die oggendskof ingesluit word, met talle nuwe luisteraars in dié gewilde tydgleuf. Bevredigend, want stories van hoop en inspirasie stroom steeds in, selfs teen ’n groter pas as ooit vantevore. Pandemie of te not. Suid-Afrikaners se vasbeslotenheid om na mekaar om te sien en steeds verbete teen ’n onsigbare vyand te bly veg, is iets wat telkens in RSG Landbou na vore kom.
’n Voorbeeld daarvan was die storie van Isa Basson, uitgesaai in April en steeds beskikbaar op elsenburg.com Isa moes in 2010 ’n vriendin help wat gesukkel het om kop bo water te hou met haar ingelegde vrugtebesigheid. Min het sy geweet dat dit haar lewe op ’n heel nuwe, onverwagse roete sou plaas. Sy vertel op ons program waarom sy positief is oor landbou, en hoe sy en haar gesin heelparty inperkingsuitdagings die hoof gebied het. Sy vertel ook wat haar toekomswense is, en hoe ’n mens nooit moet ophou glo in jou landboudrome nie.
Dr. Andri Manderson het gedurende Mei luisteraars bekoor met haar nederigheid en medemenslikheid. Like Mountains is ’n onderneming wat vlugtige olies uit inheemse gewasse onttrek, en onder haar leiding is hulle besig om berge te versit. Graag wil ek jou nooi om na ’n merkwaardige storie te luister wat op 1 en 8 Mei uitgesaai is, waarin hoop en die opheffing van veral vroue-kleinboere die hooftema is. Andri het aanvanklik tuinbouopleiding gedoen om mense te help met huishoudelike voedselsekerheid. Nou is sy besig met ’n grootskaalse projek om organiese vlugtige olies te onttrek uit plante wat op marginale grond verbou word. Dit het al werk verskaf aan 24 mense en bied plattelandse vroue ook die kans om self te boer. Oor die naam van die onderneming, Like Mountains, is daar ’n wonderlike staaltjie te vertel oor een van haar ander groot passies, naamlik joga. Sy deel ook haar ongewone storie oor ’n onderskeidingstydperk wat sy in die Ooste deurgebring het.

Die Fair Cape-groep se melkery is nou amptelik die eerste melkery in Afrika wat volkome op sonkrag staatmaak danksy sy nuwe sonplaas, een van wyle mnr. Eduard Loubser se laaste baanbrekersprojekte by dié groep. Die sonplaas bestaan uit 64 tafels op die grond met 1 536 sonpanele, 16 omsetters en 776 kragoptimaliseer- ders. Na beraming sal dit jaarliks byna 1 027 MWh krag verskaf en 19 681 MWh oor die volgende 20 jaar. Die sonplaas sal die groep se koolstofspoor ook aansienlik verminder. Sedert dit op 15 Maart vanjaar in werking getree het, werk dit volgens mnr. Louis Loubser, bemarkingsdirekteur van Fair Cape Dairies en een van die vyf Loubserbroers wat aan die stuur van die Fair Cape-groep staan, “soos ’n droom”. Die voordele vir die omgewing oor die langtermyn is deur ’n begeesterde Loubser op RSG Landbou van 29 Mei verduidelik. Intussen het ander landboumaatskappye by die groep aangeklop om hulle eie sonplase op te rig ná die uitsending.
Jeugmaand het vanjaar vir etlike hoogtepunte gesorg. Louw de Wet is die sesde geslag van die familie De Wet, wat op die plaas Retreat in die Robertson-omgewing boer. As die jongste toevoeging tot sy boerdery se vrugtemandjie het hy in 2016 met draakvrugte, of vuurvrugte, soos hy dit noem, begin eksperimenteer. Die behoud van die nageslag en gemeenskap is die dryf vir sy menswees. Boer-wees. Om te hoor hoe hierdie 32-jarige pa van ’n dogter en seun ander begeester, was onvergeetlik. Besoek gerus die departement se webtuiste om miskien hierdie uitsendings met iemand anders ook te deel, of om weer self daarna te luister. Verder het ons ook kennis gemaak met ’n jong plaasbestuurder van Ruiterbos in die Wes-Kaap. By die onlangse Giant Pumpkin-kompetisie op Heidelberg in die Wes-Kaap het Willem le Grange ’n nuwe rekord opgestel. ’n Bielie van ’n pampoen wat die skaal laat kreun het met ’n volle 867,5 kg, het le Grange met die louere laat wegstap. Hy vertel hoe veral sy ervarings op die rugbyveld hom aangespoor het om groot te droom.


In nóg ’n sprankelende program het ons ook gaan aanklop by bekende kletsrymer
Early B. Hy is nie net besig om die land aan die brand te sing nie, maar volgens hom is dit juis die boere van die Oos-Kaap, waar hy grootgeword het, wat hom bly inspireer. Hy droom self daarvan om dalk in die toekoms ’n lappie grond iewers te kan bewerk. Hierdie begaafde woordvoerder van hoop (veral vir ons jeug) is nóg iemand wat sy bydrae op ons Jeugmaand-programreeks gemaak het.
Onthou om Vrydae om 5:40 en Saterdae om 11:45 in te skakel vir onvergeetlike stories van hoop en inspirasie. Op RSG
Landbou bly dit ’n voorreg om aktief betrokke te wees by die storie van landbou. Om mense se lewens aan te raak met sulke inspirerende stories is iets waarop ons departement trots kan wees, en waarop daar voortgebou moet word.

“Sien” jou weer binnekort op die radio!
