1 minute read

COVID-19-stories van ons plaaswerkers

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou bied jaarliks die Wes-Kaapse Prestige Landbou-toekennings aan om erkenning aan plaaswerkers te gee vir hulle waardevolle bydrae tot die landbousektor. As gevolg van die COVID19-pandemie is die formaat van die 2020-toekennings verander en plaaswerkers en produsente van die 16 streke is gevra om hulle ervarings tydens hierdie tyd in die vorm van ’n storie en/of foto’s te deel.

Die onderstaande bydrae is deur Jacques Klaaste van Olifantsrivier ontvang.

Tussen die wingerdblare en -lote en in die vars lug

Die koue byt en ál hoe my hande ’n bietjie hitte kan geniet, is om te begin snoei.

Almal is gegroet, hande is “gesanitise” en my masker is gemaklik op my gesig.

En so begin die reis vir ekstra geld.

Stukwerk is nie kinderspeletjies nie.

’n Man en vrou moet werk vir sy/haar geld om daardie inkopielys van volgende week aan te pas. Spontaan neem my dominerende hand die vlymskerp Felco en binne minute is my eerste vak “done and dusted”. Perfek!

Nes Andree my geleer het.

Vernuwing is belangrik sodat vanjaar se oes goed kan wees, maar vernuwing by my as vriend, kollega en pa is nóg belangriker.

“Vader, U liefde waai elke dag seën in my lewe. Maak my ’n wuif-vir-ander-mense, asseblief.” Dis my gebed vanoggend.

Met die Coronavirus-pandemie het ek opnuut besef dat niks as vanselfsprekend aanvaar moet word nie. Daarom is ek baie dankbaar om nie net ’n werk te hê nie, maar ’n werk in die landboubedryf. Dis nie net nog ’n dag gewerk nie, maar nog ’n dag nader aan my droom, wat eens op ’n tyd soos ’n hopelose taak gevoel het.

As seuntjie het ek gedroom om my eie handelsbesigheid te kan besit, maar die “universe” het ander planne met my gehad. Daardie droom is glad nie vergete nie; ek benader dit net met ’n ompad.

Vandag het ek voorlopig my eie huiswinkel. Nelson Mandela se woorde motiveer my om my droom te verwesenlik: “It always seems impossible, until it’s done.”

Hier op Dessie Plaas is ons toegewy aan ons werk en ons dra ons oorpakke met trots en respek. Andree is meer as net ons werkgewer. Hy is ook ons vriend. Ons persoonlike welstand is vir hom belangrik.

This article is from: