
1 minute read
Indringerbeheerkontrakteurs KRY ERKENNING
by WCDOA pubs
deur Giselle Terblanche gisellet@elsenburg.com
Ten einde waterskaarste en klimaatsverandering aan te spreek, word groot en belangrike werk gedoen om indringerplante (veral langs riviere) onder beheer te bring. Om erkenning te gee aan die mense wat onverpoosd agter die skerms werk om dit te maak gebeur, is ’n jaarafsluiting en erkenningsfunksie einde verlede jaar in Worcester vir kontrakteurs in die Uitgebreide Openbare Werkeprogram (UOWP) gehou. Dit was die eerste keer dat die geleentheid as ’n formele funksie aangebied is. Aangesien dit ’n vereiste van die UOWP is dat sekere reëls en regulasies aan werkers oorgedra moet word, het daar terselfdertyd ’n oriënteringsproses vir 2019 plaasgevind.
Die geleentheid is bygewoon deur LandCare-beamptes (provinsiaal en nasionaal), beamptes van Casidra en Breede-Gouritz Opvangsgebied Bestuursagentskap, en – die eregaste van die dag – die indringerbeheerkontrakteurs en -spanne. Die 12 spanne wat die dag bygewoon het (altesaam 156 mense) is afkomstig van die Kaapse Wynland Distrik (Wolseley, Tulbagh en Wellington).
Sewe projekte word deur die departement gefinansier, terwyl ander befonds word deur:
• die Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning;
• die Breede-Gouritz Opvangsgebied Bestuursagentskap;
• die grondeienaars self;
• World Wildlife Fund;
• die Tafelbergfonds;
• Ceres Besigheidsinisiatief; en
• Witzenberg Munisipaliteit.
Die projekte word gekoördineer deur die “Upper Breede Collaborative Extension Group” (UBCEG) wat ’n netwerkplatform is vir die verskillende vennote. Hulle kan saam beplanning doen, en sodoende hul begrotings gesamentlik aanwend om ’n gemeenskaplike doel te bereik.
Tydens die geleentheid het elke kontrakteur erkenning gekry vir sy/haar suksesvolle bydrae tot die program. In elke span (bestaande uit 13 werkers) is ook toekennings gemaak aan die beste algemene werker en beste kragsaagoperateur.
Volgens Shalene Nicholas (LandCare – Kaapse Wynland) is van die spanne al sedert 2012 op departementele projekte werksaam. Sommige van die spanne het al só uitgebrei dat daar byvoorbeeld uit een van die spanne drie addisionele spanne onstaan het. “Baie van die werkers kom uit moeilike agtergronde en vind menswaardigheid deur die werk wat hulle op hierdie projekte verrig,” sê Shalene trots.
Chris Meintjies (LandCare – Kaapse Wynland) sê die sukses van die projekte kan hoofsaaklik toegeskyf word “… aan die betrokkenheid van grondeienaars en die toegewydheid van die kontrakteurspanne.”
Tot dusver is sowat 85% van die boBreederivier (Ceres tot Worcester), ontbos van enige volwasse indringerbome. Deurlopende onderhoud word gedoen op areas wat skoongemaak is, maar dit sal etlike jare neem voor die persentasie besmette grond tot onder 5% daal. Groot dele in die Wolseley-area is reeds onder die 5%-teiken en die grondeienaar kan dus self die onderhoud hanteer. Eienaars kan van hul eie werkers gebruik maak, maar baie verkies om die bestaande kontrakteurs te gebruik wat die ervaring en toerusting het. Die departement, in samewerking met die Wolseley Waterverbruikersvereniging, staan eienaars by deur monitering en evaluering van hierdie areas. AP