
1 minute read
CONNECT-AGRI WERP VRUGTE AF
by WCDOA pubs
C“Connect-Agri” is teen hierdie tyd ’n bekende woord op die lippe van amptenare werksaam by die Wes-Kaapse Departement van Landbou. Daar is egter goeie rede om te glo dat dit ook onder die breër landbou- en landelike gemeenskappe begin bekendheid verwerf.
Sedert die afskop van die program in Augustus 2016 tydens die George Landbouskou, het die departement al wye draaie in die res van die Wes-Kaap gemaak.
Hierdie program het hoofsaaklik ten doel om die jeug bewus te maak van die verskillende loopbaangeleenthede in die landbousektor, maar poog terselfdertyd ook om die dienste wat die departement aan die breë landbougemeenskappe bied, bekend te stel. Die Connect-Agri-span van die Departement het sedert die landbouskou by ’n verdere sewe geleenthede die loopbaanen dienste-uitstalling aangebied. Dit sluit landbouskoue vanaf Beaufort-Wes in die
Sentraal-Karoo tot Villiersdorp in die Overberg en Clanwilliam in die Weskusdistrikte in.
In 2018 het die Connect-Agri-program groot suksesse behaal op die Swartlandskou op Moorreesburg van 5 tot 8 September en op 11 tot 13 Oktober by die Agri-Expo Livestockgeleentheid wat by Sandringham gehou is. Tydens hierdie twee geleenthede het ’n totaal van 1 591 mense die departementele uitstalling besoek en met amptenare gesels. Verder het 700 leerders (graadneges en -elfs vanaf twaalf skole) hierdie geleentheid bygewoon as deel van ’n skoleprogram; voorwaar ’n suksesverhaal wat die relevansie van hierdie program bevestig.
’n Blyk van waardering word uitgespreek teenoor alle amptenare vir die afgelope twee jaar se harde werk om van hierdie agt geleenthede ’n groot sukses te maak. Intussen word oorweging geskenk aan waar die volgende Connect-Agri-geleentheid in die 2019/20 finansiële jaar sal plaasvind.


