Hoogtepunte: 1956 tot 2016 Algemene ontwikkeling In 1956 word die eerste groep van 64 eerstejaarstudente toegelaat vir studie in Elektrotegniese, Meganiese en Siviele Ingenieurswese. In 1959 word toelating verleen aan die eerste studente in Metallurgiese en Chemiese Ingenieurswese. In 1960 skryf die eerste studente in vir Bedryfsingenieurswese en in 1962 vir Mynbou-ingenieurswese. (Meer besonderhede oor die eerste fase van die bestaan van die Fakulteit word op pp 8–9 gegee.) In 1976 word Elektroniese Ingenieurswese en in 1999 Rekenaaringenieurswese as graadprogramme toegevoeg. Die Departement Ingenieurs- en Tegnologiebestuur word in 1994 gestig en in 2007 word die naam na die Nagraadse Skool vir Tegnologiebestuur verander. Die Skool bied verskeie nagraadse programme aan. Teen 2014 is sowat 3 000 honneurs-, magister- en doktorsgrade toegeken. In 2000 word die Fakulteit Ingenieurswese as die Skool vir Ingenieurswese ingesluit in die nuwe Fakulteit Ingenieurswese, Bou-omgewing en Inligtingtegnologie, tesame met die Skool vir die Bou-omgewing en die Skool vir Inligtingtegnologie. Sedert 2001 ondergaan die Skool vir Ingenieurswese se nege voorgraadse programme met gereelde tussenposes van sowat vyf jaar ʼn nuwe internasionaal erkende akkreditasieproses deur die Ingenieursraad van SuidAfrika (IRSA). Akkreditasie geskied in ooreenstemming met voorgeskrewe standaarde van die Washington-verdrag, wat tans in 17 lande wêreldwyd toegepas word vir die beoordeling van opleiding vir professionele ingenieurs, insluitende Australië, Indië, Kanada, Nieu-Seeland, die VK en die VSA.
Fasiliteite Die eerste gedeelte van die J G Strijdomgebou vir Ingenieurswese (tans bekend as die Ingenieurswese 2-gebou) word in 1957 voltooi en die tweede gedeelte in 1960. Die Swaarmasjienlaboratoriums word in 1958 in gebruik geneem en
in 1973 word ʼn addisionele vleuel bygevoeg. In 1975 word die Ingenieurswesetoringgebou (tans bekend as die Ingenieurswese 1-gebou) voltooi. Die gebou maak voorsiening vir die dekaanskantoor en administratiewe personeel, departementele kantore en tien lesinglokale met 700 sitplekke in totaal. In 1987 is die destydse Fisikagebou opgeknap en ingerig om die departemente Materiaalkunde en Metallurgiese Ingenieurswese, asook Mynbouingenieurswese te akkommodeer. Dit huisves ook die Departement Geologie, waardeur noodsaaklike interaksie tussen hierdie drie dissiplines bevorder is. In 2015 is ʼn vyfde vlak bygevoeg as uitbreiding vir Mynbou-ingenieurswese. Dié vlak huisves onder meer die Kumba Virtuele Werklikheidsentrum vir Mynontwerp (VRC) (Sien ook p 47.) In 2011 is die Ingenieurswese 3-gebou voltooi. Die gebou bestaan uit ses lesingsale met ʼn totaal van 2 060 sitplekke, laboratoriums, kantore, asook parkeerruimte in die keldervlakke. In 2013 word die Mynwese-studiesentrum wat voorsiening maak vir 800 studente, in gebruik geneem. (Meer besonderhede oor hierdie fasiliteite verskyn op p 20.)
Studenteprofiel Op grond van studentegetalle word die Fakulteit Ingenieurswese in 1971 die grootste van sy soort in die land. Teen 1980 was daar 1 670 ingeskrewe voorgraadse en 460 ingeskrewe nagraadse studente. In 2015 was daar 5 734 voorgraadse en 2 546 nagraadse inskrywings, dus 8 290 studente in totaal. Die grootste enkele nagraadse groep in 2015 was aan die Nagraadse Skool vir Tegnologiebestuur met 1 082 studente. Die eerste 17 BSc.Ing-grade word aan die einde van 1959 toegeken. In 2013 is ʼn rekordgetal van 694 BIng-grade toegeken. Die eerste drie magistergrade word in 1962 toegeken en in 1963 word die eerste doktorsgraad aan Dr Hugo Kiderlen toegeken. In 2014 word 503 honneurs-, 203 magister- en 24 doktorsgrade toegeken. (Kyk ook na die tabel op p 18 en die grafieke op p 19.) Universiteit van Pretoria | University of Pretoria | Yunibesithi ya Pretoria
15