
2 minute read
Mossie Mostert: 'n Seder het geval
Mossie (Petrus Johannes) Mostert (71), oftewel Oom Mossie, 'n bekende en geliefde persoonlikheid van Malmesbury, is Vrydagaand oorlede.

Advertisement
Oom Mossie het gesterf ure ná 'n motorfiets hom in Voortrekkerweg, naby FNB, getref het.
Volgens sy seun, Jacques, het hulle die aand laat aan begrafnisbriewe gewerk. Jacques het die pad lughawe toe aangepak om familielede te ontmoet en Oom Mossie het bank toe gegaan en sou daarna terugkeer huis toe.
Op pad terug na sy voertuig het die motorfiets hom getref.
Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie.
Oom Mossie, wat as Petrus Mostert gedoop is, was vir talle 'n skouer, 'n oor, 'n rots.
Hy is in Alexanderbaai gebore, skoolgegaan by HTS Drostdy en het terug gekeer na Alexanderbaai om sy vakleerlingskap te voltooi.
Hy het onder andere vir Yskor gewerk en het vinnig opgang in die mynbedryf gemaak.
Oom Mossie, wat etlike jare by die Doves-groep betrokke was, het in 1999 na die omgewing verhuis toe hy sy vrou aan kanker verloor het.
Hy het toe by die Paarl-tak van Doves aangesluit. Van hier het hy na die Doves-kantoor op Moorreesburg geskuif waar hy die tak bestuur het.
In 2008 het hy na Malmesbury verskuif om hier die tak vir Doves te bestuur. 'n Groot slag het hom getref toe hy in 2012 moes aftree, weens sy ouderdom.
Dit is toe wat hy besluit het om sy eie begrafnisonderneming te open. Hierop was hy trots en in sy kantoor hang daar koerantknipsels van die opening.

So ook van elke jaar se verjaarsdag van die onderneming.
Die deure van Mossie Begrafnisdienste het in Augustus 2012 sy deure op Malmesbury geopen.
As hy in die winkel gesien is, het hy altyd geselsies aangeknoop en altyd uitgevra na ander se welstand.
'n Omgee-mens in murg en been.
Mossie Begrafnisdienste het onder sy bekwame bestuur en leiding in 'n kort tydperk baie uitgebrei, soveel so dat die onderneming van perseel moes skuif, sodat hulle nog ekstra dienste kon aanbied.
Oom Mossie was nie baie lief vir talle stokperdjies nie, maar was 'n bo-baas braaier met 'n voorliefde vir biltong en sy unieke varknetpotjie.
"Om te braai was sy ontvlugting as dinge swaar op sy hart gedruk het," vertel Jacques.
Volgens Jacques was Oom Mossie se grootste sukses die dag toe hy sy eie onderneming begin het.
"Hy het oor die jare heen onwetend sy eie handelsmerk begin bou. Dit was sy droom om elke kliënt te dien soos hy dit graag wou doen."
Familie was vir hom baie belangrik en as hy mense kon dien en gelukkig maak, was hy tevrede.
Hy het ook sy kleinseun geleer hoe om mense te fop en hulle onverwags skrik te maak - iets wat sy kleinseun daagliks met hom ook gedoen het.
"Hy wou altyd mense laat lag."
'n Staaltjie wat Jacques vertel is die dag toe hulle rugbybal geskop het. Die bal het op Oom Mossie se vinger beland en die vinger agteroor gebuig. Almal was bang dat die vinger gebreek het, maar Oom Mossie het sommer skielik die vinger teruggedruk in sy lit en wou net verder speel.
Oom Mossie het altyd almal dieselfde behandel.
"Hy het Jesus kom uitleef. Jy kon dit sien in sy leefwyse. Sy naam is nie verniet Petrus, wat rots beteken nie."
Oom Mossie se legende sal voortleef deur die diens wat Mossie Begrafnisdienste steeds sal bied.
"Een van my laaste gesprekke met my pa was om te dink aan 'n nuwe slagspreuk. Vir hom was dit maklik - Ons maak kliënte familie. Sy hart was werklik liefde," vertel Jacques.
In die kantoor van Mossie Begrafnisdienste staan die kenmerklike ronde tafel nou bietjie leër.
Hier is families getroos, beplanning gedoen, saam gelag en saam gehuil. Intussen moet Jacques voortgaan met die onderneming en steeds, onder moeilike emosionele omstandighede, die diens lewer wat sy pa na gestreef het.
Oom Mossie se diens vind Maandag om 15:00 vanuit die NG Moedergemeente Swartland op Malmesbury plaas.