
1 minute read
Die agterpaadjies van Stellenbosch
Carlo Hoogendijk
Ek gaan eerlik wees, Coetzenburg se staproetes verveel my al so ’n bietjie. As iemand wat baie van stap hou, móés ek net ’n ander opsie vind. Ek het navorsing gaan doen oor ander staproetes in en rondom Stellenbosch en het ’n paar goeies opgespoor. Ek besluit toe sommer om hulle te deel met diegene wat ook al een keer te veel om die Coetzenburg-dam gestap het.
Advertisement
1. Die Jonkershoek-watervalroete Hierdie 9,8 km-staproete is nie baie uitdagend wat die helling betref nie. Dit is ’n heen-en-weer-roete, so jy stap 4,9 km, draai om en stap dieselfde roete terug. Op die roete is daar waterpoele (insluitend die twee alombekende watervalle) en heerlike piekniekareas in die koelte. As jy gelukkig genoeg is om hierdie roete ná ‘n lekker reënbui aan te pak, sal jy heelpad die pragtige groen van die natuur kan geniet en die kalmerende klank van die kabbelende strome romdom jou hoor. Dit is beslis ’n staproete wat die hele gesin saam kan geniet.
2. Uitkyk via die Du Toitskloofen-Manganese-roete
Hierdie roete is korter as die Jonkershoekroete (9,3 km), maar dit sal jou meer laat hyg as gevolg van die hoogtetoename van 713 m. Dit is ’n sirkelroete wat min of meer vier uur sal neem om te voltooi. Die roete is goed gemerk en daar is bordjies as rigtingaanwysers. Daar is nie baie skaduwee nie, so begin so vroeg as moontlik stap.
3. Banhoek Bewarea se Watervalroete
Hierdie 10,5 km-roete is weereens ’n kans vir die gesin om saam te gaan stap. Dit is ’n sirkelroete met min tot geen skaduwee, maar daar is wel stroompies en poele (en natuurlik die waterval) waar ’n mens kan afkoel gedurende die drie tot vier uur lange staptog.
4. Die Sosyskloof-roete. Die Sosyskloof-roete van slegs 6,6 km behoort nie meer as twee uur te neem om te voltooi nie. Daar is hier en daar lekker skadukolle, maar maak seker dat jy genoeg water en sonskerm saamvat. ’n Probleem van hierdie staproete is dat die paadjies nie altyd so duidelik gemerk is nie en plek-plek toegegroei is. Die voëls wat in die omgewing waargeneem kan word, is een van die hoogtepunte van die roete. Hopelik vind iemand sy nuwe gunstelingstaproete uit bogenoemde opsies. ’n Mens weet nooit, dalk loop ons mekaar raak. Tot dan toe.