
1 minute read
Die Koshuisoriëntering
Op 16 Januarie het daar 57 onseker, senuweeagtige en opgewonde nuwe Nova- en Prima-inwoners by ons aangesluit. Oriëntasie het ’n week lank geduur. Dit is nie maklik om ver van die huis af in ’n vreemde omgewing voor ’n klomp kaalkop matrieks te kom staan nie. Hulle het dit dalk nie toe besef nie, maar oor die volgende vyf jaar van koshuislewe gaan hulle ongelooflike herinneringe bou.
Prima en Nova is ’n baie belangrike deel van Paul Roos Gimnasium. Die koshuismanne is 100% van die skoolweek op die skoolterrein en is altyd beskikbaar vir funksies, sportgeleenthede en om ouers te beïndruk.
Advertisement
Dit is hoekom elke graad 8-leerder moet weet hoe belangrik dit is om die Paul Roos-waardes uit te leef.
’n Paar dinge om te onthou as jy die beste gr. 8-koshuisman wil wees:
-Groet almal altyd hard, duidelik en met selfvertroue.
-Wees netjies.
-Maak seker jou kamer lyk nie soos ’n varkhok nie.
-Wees altyd betyds vir skool en ander geleenthede.
-Neem aan soveel moontlik aktiwiteite (sport EN kultuur) deel.
-Doen maar jou huiswerk, al is jy nie lus nie.
-Wees vir ander ’n voorbeeld om na te volg.
-Sing jou hart uit op die pawiljoen.
-As iets jou pla, praat met jou mentor of jou koshuisvader.
-Onthou: Jy is nie alleen nie.
-Betoon respek aan ouer seuns, koshuisassistente en onderwysers.
-Staan op vir jou mede-Paul Roosers, VERAL vir jou koshuisbroers.
Onthou om elke oomblik te geniet – jou koshuislewe vlieg verby. Maak die beste daarvan!
Graad 8-koshuisgangers, geniet hierdie jaar se eerstes! Onthou ’n mens is NET een keer in gr. 8. Probeer altyd jou bes en versterk ons skool se ruggraat!