2 minute read

Mentorprogram

Lyle Williams

Onbekend is onbemind, sê die spreekwoord. Graad agts kom van heinde en ver na Paul Roos Gimnasium — sommige met afwagting, ander met besorgdheid oor die onbekende. Die Paul Roos-kultuur, -tradisie en -waardes is oor dekades vasgelê. Die beste manier om daardie aflosstokkie aan die nuwe PRGleerders te oorhandig, is deur die senior leerders wat hulle oor nuwelinge ontferm en vir hulle hierdie, dikwels ongeskrewe, reëls en gebruike leer.

Advertisement

By dié skool word daar op die individu gefokus en jy word dan ook deel van ’n groter, ondersteunende geheel. Dit help jou om tuis te voel selfs al word jy omring met begrippe wat vir buitestanders vreemd sou klink, soos die "maroen masjien" en die ontdekking dat jou bloed werklik maroen is.

Met hierdie agtergrond en ondersteuning van senior leerders, begin al die aktiwiteite sin maak. 'n Gevoel van "verlore wees", maak plek vir 'n gevoel van "behoort".

Die doel van die mentorstelsel is om lewenslange broederskappe tussen matriekmentors en graad agts te vorm. Mentors word spesiaal gekeur vir hul begrip en uitlewing van die PRG-tradisies en met die nodige omgee en meelewing om hul graad agts nie net gerus te stel en gewoond te maak aan die roetine nie, maar om hulle ook aan te moedig en te inspireer.

Juffrou Cronjé voer deeglike onderhoude met die 60 kaalkop mentors. Hulle moet met respek lei, en nie vrees inboesem nie. Elke matriek kry twee tot drie graad agts wat hul vir die skooljaar onder hul vlerk neem.

Hulle word reeds in die eerste week aan mekaar voorgestel. Daarna volg sosiale interaksie by verskeie geleenthede.

Verhoudings word rondom die braaivleisvuur gesmee en terwyl balspeletjies gespeel word. Later sal hierdie groot matrieks die graad agts se skoene blink poets — as 'n teken van wedersydse respek.

"Hoe weet ons dat die bleskoppe nie net sal 'verdwyn' nie?" Elke Woensdag deel die mentors en hul graad agts kosblikke. Dan gesels hulle oor die afgelope week se nuus, hoogtepunte, ervarings en, hopelik, min probleme. Dit is dan wanneer raad en ervaring gedeel word en diegene wat dit nodig het met nuwe moed en inspirasie teruggaan klas toe.

Die mentorstelsel is 'n waardevolle instelling wat help om van groot getalle leerders 'n familie te maak. 'n Maroen familie.

Eerste dag as koshuisman

Die Maandag toe ek vir die eerste keer die koshuisgronde betree het, was dinge nog lekker rustig en ek vol selfvertroue. Toe ek egter klaar in my kamer ingetrek en my ouers gegroet het, het alles begin … kaalkop matrieks wat op jou skree en skel, klokke wat lui en HK’s wat jou die heeltyd besig hou. Daar was trane, maar met my nuwe koshuismaats aan my sy het ons saamgestaan en deurgedruk.

Op die eerste skooldag was daar nie veel “skool” nie. Ek het die dae van net sit en staan vir 20 minute aaneen met frustrasie afgetel, want sien — ék ken die erekode, maar al my broers nog nie …

Een van my ouer familielede het ná ontgroening vir my vertel wat die werklike doel daarvan is. Hy het my van die leuse “Ex Unitate Vires”, oftewel “Eendrag maak mag” vertel – as een persoon in die span nie sy deel doen nie, sal die spel nie goed verloop vir daardie span nie. ’n Ketting is net so sterk soos sy swakste skakel. Selfs in die Bybel word die voordele van spanwerk gegee. In Markus 6:7 word vertel dat Jesus se dissipels Hom gehelp het en Hy hulle twee-twee saam na die dorpies toe gestuur het. Christenskap is spanwerk en spanwerk is kragwerk.

Die oomblik toe ek my das by die rektor gekry het en hy vir my sê om “op te kyk”, het my nek nou wel soos ’n stuk karton wat skeur geklink, maar dit was alles die moeite werd. Ontgroening het ons samehorigheid geleer.

Met PRG-trots vars in my hart en gedagtes, moedig ek toekomstige broers aan om deur te druk. Stadig maar seker kom ’n mens tot die besef dat jy sterker geword het en dit gaan oorleef. Hier is jy deel van ’n span, ’n groter prentjie.

Danksy samehorigheid en deursettingsvermoë kan ek ook nou my “Semper Splendidior”-pad begin stap.

This article is from: