
2 minute read
Stoffies: ’n Legende en die hart van PRG
Jo van Rooyen

Advertisement
Vandat juffrou Stofberg in 2006 vir die eerste keer by Paul Roos Gimnasium ingestap het, het daar maroen bloed deur haar are gepomp. Sy was daardie dag reeds net so entoesiasties oor dié uitstekende instelling soos toe sy op 31 Januarie 2023, 17 jaar later, met baie emosies hier weggestap het. Toe sy daardie dag haar personeelbaadjie vir ’n cheerleader-baadjie verruil het, het sy amptelik die status van ’n Paul Roos-legende ontvang. Stoffies het ’n trotse “Old Boy” geword. Die hele skool het vir haar die tradisionele “slow clap” gegee en die matrieks het ’n erewag gevorm om dié legende te groet.
Juffrou Stofberg het haar hele hart en siel vir Paul Roos gegee en dit was duidelik dat sy ’n Paul Rooser in murg en been is en altyd sal wees. Stoffies was só nou betrokke by omtrent elke liewe
PRG-aktiwiteit en -geleentheid dat vele die skool tong-in-diekies “Stoffies Gimnasium” genoem het. Sy was in beheer van die leerlingraad en die cheerleaders, sy het die eerste hokkiespan bestuur, sy was in beheer van branderplankry en nog vele meer.
Wat die meeste mense soms vergeet is dat sy ook ’n uitstekende wiskundejuffrou was. Sy het nooit toegelaat dat al haar buitemuurse take haar keer om ’n uitstekende onderwyseres te wees nie. Haar leerders was mal oor haar klasse en het hulself gedruk om met haar hulp beter te doen. Juffrou Stofberg het ál haar take uitstekend uitgevoer. Die meeste Paul Roosers het merkwaardige respek vir haar en haar bydrae gehad.
Juffrou Stofberg sal nie net vreeslik deur die leerders gemis word nie, maar ook deur verskeie personeellede, ouers en natuurlik die “Old Boys”.
Die bydrae wat Stoffies by Paul Roos Gimnasium gelewer het, was groot en haar naam sal vir altyd in ons skool se gange sweef en in ons harte klop. Ons almal respekteer haar besluit om tyd vir haarself te neem en die wêreld te gaan verken. Juffrou Stofberg gaan ’n seilkursus voltooi en op seiljagte oorsee gaan werk om vir ’n ruk te ontspan. Ons wens haar voor- spoed toe op haar reis deur die wêreld en haar lewenspad vorentoe.




Tydens haar laaste saalbyeenkoms het juffrou Stofberg baie belangrike wyshede met ons gedeel wat elke Paul Rooser in sy hart moet koester. Niemand sal die toespraak vergeet waartydens sy sjokolades en fizzers op verskillende plekke in die saal geplaas het nie. Haar boodskap was eenvoudig:
“Moenie te bang wees om te werk vir wat jy wil bereik nie. Moenie te bang wees om iets te doen omdat iemand anders, wat dalk groter as jy is, in jou pad staan nie.”
Sy het ons herinner dat Paul Roos Gimnasium regtig baie geleenthede bied aan Paul Roosers en dat jy baie sal leer as jy die geleenthede met selfvertroue en albei hande aangryp. Sy het gesê dat ons nie net vir die sterre moet mik en hard moet werk om sukses te bereik nie; ons moet mekaar ook soos broers met ons hele hart ondersteun.
Juffrou het die matrieks van 2023 uitgesonder en bedank omdat hulle ná die Covid-19-pandemie die PRG-gees en -broederskap saam met die 2022-matrieks laat voortleef het. Sy het gesê die matrieks bepaal die kultuur, houding en gevoel van die jaar en ons is uitgedaag om hierdie jaar onvergeetlik te maak.

Ons eer juffrou Stofberg vir alles wat sy vir Paul Roos Gimnasium gedoen het. Dit was regtig ’n voorreg om so ’n legende by ons skool te kon hê.
