3 minute read

Mnr Karookop Primêr tree af

Henk Brand het na 19 jaar van skoolhou en hoofskap by Karookop Primêr afgetree. Skool was sy lewe en daarom het hy nooit geskroom om tyd aan die skool af te staan nie. Hy het uit sy pad gegaan om dinge te laat gebeur en vir alle uitdagings kans gesien. Ofskoon Karookop se skoliere kom van plase in die Moutonshoek area, noord van Piketberg, het hulle aan alles moontlik deelgeneem. By die jaarlikse Eisteddfod het kinders onder mnr Brand se leiding, die laaste paar jare meestal Cum Laudes verwerf. Deelname aan sport was 'n groot hoogtepunt, waar Karookop op 'n stadium die wenners van elke rygbyspan in die kring van plaasskole was. Mnr Brand is bekend in onderwyskringe vir sy goeie prestasie in Wiskunde as die jaarlikse sistemiese toetse afgelê word. Vanjaar het sy leerders ongeveer 20% beter gevaar as die gemiddelde van die provinsie. Die personeel het op 31 Maart, toe die skool sluit, 'n verrassingsafskeid vir hom gehou, wat ook bygewoon is deur die uitvoerende burgemeester van Bergrivier, Raadsheer Ray van Rooy. Van die oud-leerders en assistent het 'n toneel opgevoer waarin hulle sy manier van klasgee uitgebeeld het en ook sy gunsteling items wat deur die jare by skoolkonserte opgevoer is, vir oulaas opgevoer. Mnr Brand het, uit die goedheid van sy hart, vir elke kind 'n kospakkie van Chicka Chicka gekoop. Elke klasgroep en personeellid het op 'n video boodskappe gestuur wat hy kan hou as aandenking.

Ben en Nellie vier 60 jaar

Advertisement

Nellie du Toit, 'n nooi van Oos-Londen, kom in haar st 9-jaar op 'n plaas in die Eendekuildistrik kuier. Saam met haar, is haar pa en haar tannie. Haar tannie was met een van die plaasseuns getroud. Dis hier waar die jonger seun op die plaas, Ben, vir Nellie du Toit raaksien. Na skool kom studeer sy verpleging te Grootte Schuur hospitaal, want volgens Ben, was die vriendskap toe al meer as net 'n briefskrywery. Ben is toe werksaam by die kaasfabriek op Eendekuil. Hulle trou op 20 April 1963 in Oos Londen en vestig hulle op die plaas Spaarkloof, Eendekuil. Uit die huwelik is Nico, Danie, Bennie en Francois gebore. Hulle woon en werk hard op Spaarkloof tot 2016. Vanaf 1994 het Nico en Beatrix saam met hulle geboer. Daarna verhuis hulle na Bettiesbaai waar hulle vir vyf jaar baie lekker woon. In 2020 kry Nellie 'n beroerte en verskuif hulle na Huis Nerina in Porterville. As skoondogter wat saam met hulle op die plaas gewoon en gewerk het, getuig Beatrix van mense met mooi harte en geen kwade bedoelings nie. Elizabeth, hul oudste kleindogter, merk tydens 'n onlangse kuier op, dat al wat van haar ouma oorgebly het, is haar goeiemaniere. Nellie het haar alles gegee vir Eendekuilgemeenskap, veral met die brei van letterlik 1000de poppies vir die "Waardevol vir Jesus"-projek. In Bettiesbaai was hulle baie betrokke by die plaaslike sendingkommissie. Nederig, hardwerkend en 'n lewe in eerbied voor God, kenmerk steeds hulle lewe.

Hier is ek weer met my albumstories voor jou deur. Hallo hallo. Mense, April se dae het vir my letterlik so gou soos ‘n paar ureverby gevlieg. My selfopgelegde taak is nog niet voltooid, maar ek volhard, want dit bly ‘n feestelikheid - altans in my oë. Gedurende my April-minute is my grysstof se kuns’files’ keer op keer uitgetrek, ingeloer, aangepas, weer gestoor en na talle herhalings is ek byna by afleweringstatus. Die voorreg bly steeds groot, want om met ou foto's te werk en iets nuuts daaruit te skep, is en sal altyd vir my ‘n voorreg bly en die wik-en-weeg van uitleg, die moet-ek-doen-of-los-ek idees, talle sny-kleur-plak oomblikke, en wat-is-reg-of-wat-is-te-veel vrae dwarrel telkemale deur my kop, want om met 60jaar oue herinneringe te speel, bring sy eie wow-ness en verwonderinge. Gewone elemente in die mark is of te klein of te groot, so dan moet ek my eie skep om by die projek te pas - soos die foto-hoekies. En om dit te los, is nie ‘n opsie nie, want dit gee die nasate wat dalkies hierdie foto's weer wil omskep in iets anders, die voordeel om dit net uit te glip uit die agtergrond, want al hét ek die toestemming gekry om dit uitmekaar te haal, wou ek die foto's geensins beskadig nie. Dus moes ek ander planne beraam en om alle foto's te kon gebruik het ek dan afdrukke laat maak van een sy vd oorspronklik gemonteerde lieflikhede, en sodoende kon ek gemaklik en met gemoedsrus hierdie taak stukkie vir stukkie aanpak. Dankie tannie Myrtle, dat Tannie my hiermee vertrou het en mag Tannie ‘n vreugdevolle verjaarsdag vier op 4 Mei. Ek kom inloer met my pakkie. Hierdie maand met talle vakansiedae, was dit uiters stil op die kunsfront, net om Mei weg te spring met ‘n boem-ba-bam. Maar dis vir volgende keer se stories. Mag dit goed gaan, waar jyook al mag gaan.