4 minute read

Uit die Woord

Next Article
Wolmarkverslag

Wolmarkverslag

Oestyd vir ons almal

Ds Werner Klindt NG Gemeente Noord Ladybrand

Advertisement

Dwarsdeur die jaar sal daar altyd iewers ’n boer wees wat besig is om te oes, ’n boer wat klaar geoes het, en ’n boer wat bid vir sy oes. Die Bybel praat ook van oeste, en ek wil graag twee kort tekste oor oes met u deel:

2 KORINTIËRS 9:6 Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.

LUKAS 10:2 Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.

Jesus gebruik dikwels gelyke - nisse en metaforiese beeld - spraak. Oes was iets wat Jesus se gehoor goed verstaan het, en as jy hierdie boodskap nou lees, is daar ‘n baie groot moontlikheid dat jy ook iets van oes weet. Die oes waarvan Jesus praat is nie ’n letterlike gewas wat ons van die lande gaan afhaal nie, nee; dit het met mense se siele te doen asook met die werk wat ons as mense verrig. As jy min moeite doen (karig saai) sal jou oes ook swak wees. Jesus sê ook dat daar baie werk is, maar min mense wat die werk wil en kan doen (die arbeiders is min). Een ding wat ons baie goed weet is dat jy nie kan oes as jy nie gesaai het nie. Kom ons kyk na die gelykenis van die saaier wat Jesus vertel:

LUKAS 8:5-8 “‘n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Met die saai het ‘n deel op die pad geval, en dit is vertrap en die voëls het dit opgepik. ‘n Ander deel het op ‘n klipbank geval, en nadat dit opgekom het, het dit ver - droog, omdat dit geen vog - tigheid gehad het nie. Nog ‘n ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het daarmee saam gegroei en dit laat verstik. Daar was ook ‘n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en ‘n honderdvoudige oes gelewer.” Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”

LUKAS 8:11-15 “Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is die woord van God. Dié wat op die pad val, dui op mense wat die woord

hoor, maar dan kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie. Dié wat op die klipbank val, dui op hulle wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar dit skiet nie wortel nie. Hulle geloof hou net ‘n tydjie.

Die oomblik dat dit op die proef gestel word, gee hulle moed op. Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie. Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.”

Die feit dat jy ’n gelowige is, beteken dat die saad op goeie grond by jou geval het; dit beteken dat jy deel is van die oes. Verder, as jy deel is van hierdie oes, wag daar nou ’n nuwe verantwoordelikheid op jou � jy moet nou gaan saai. Die vraag is: “Wat gaan jy saai?”

Jy gaan die evangelie saai. As gelowige saai jy die evangelie, selfs al weet jy nie dat jy dit doen nie. Mense kyk na jou, mense sien jou optrede raak, mense hoor hoe jy praat wanneer dinge moeilik gaan jy is besig om te saai, maar hoe saai jy? Saai jy karig, of saai jy tot die beste van jou vermoë?

Ons lewe nou in ’n tyd van Covid-19, ’n tyd waarin baie mense baie swaar kry, ’n tyd waarin iets wat vantevore seker was, nou onseker is, ’n tyd waarin jy dalk baie verloor het oor ’n wye spektrum. In hierdie tyd het jy as ’n gelowige ’n baie groot taak - jy moet saai! Die volgende teks help ons hiermee:

GALASIËRS 6:8 Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.

Maak die doelbewuste besluit om te gaan saai op die akker van die Gees. God sal sorg dat die saad wat jy saai, goeie saad is, daardie saad gaan soos in Jesus se gelykenis op verskillende plekke land, maar die goeie nuus is dat jy dalk net die goeie saad saai by iemand wat dit werklik nodig het en dat daardie persoon dan ook deel word van Jesus se oes. Die oes is groot, maar die arbeiders is min!

This article is from: