19
April 2011
Fokus op die Halfmens in die Bosveld-streek Een van Suidelike Afrika se kenmerkendste inheemse vetplante is die Halfmens van die Richtersveld in Namakwaland. Hy het ‘n paar broers, waarvan een op groot skaal in Limpopo voorkom. Bekend as die koedoelelie, is dit een van vyf halfmens-soorte in die land. Sy naam is Pachypodium saunderseae en beteken letterlik in Grieks “dikvoet”. Die koedoelelie het sy oorsprong uit die Lebombobergreeks en het oor jare daarvandaan versprei na KwaZulu/Natal, Mpumalanga en Limpopo se bosveldstreke. Dit is ‘n gewilde sierplant onder plantversamelaars en verkrygbaar by spesialis-kwekerye in die provinsie. Die oorsprong van die naam halfmens strek baie ver terug in die geskiedenis. Die eerste een is in 1830 deur ene Lindley aangeteken. Vandag is daar twintig spesies. Benewens die vyf in Suidelike Afrika kom die ander soorte in Madagaskar voor. Volgens oorlewering versinnebeeld die halfmens van die Richtersveld die stryd wat die KoiSan Boesmans eeue gelede gevoer het om te oorleef. Hulle het in Wes-Afrika suid gevlug om weg te kom van vyandige stamme, maar van hulle het in die vlug omgekyk na die noorde en spreekwoordelik soos Lot se vrou soos ‘n soutpilaar bly staan. Die halfmens se kroon en takke kyk vandag nog almal noord. Die plantspesies verskyn nog nie op die internasionale rooilys van bedreigde plante nie, maar wel op streeklyste waar dit wissel van “laerisiko naby bedreiging” tot “vatbaar”. In Madagaskar raak die omgewing vir sy halfmenssoorte al kleiner soos die mens in die plante se natuurlike habitat uitbrei. Dit het reeds gelei tot ‘n drastiese vermindering in veral stadiggroeiende soorte. Waarnemers sien kommersiële voortplanting as die enigste manier om hulle te laat voortbestaan. Limpopo se koedoelelie val in die Apocynaceaegroep (selonsroos) wat berug is vir sy giftige inhoud. Die plante se sap is deur die eeue gebruik vir
die bereiding van gifpyle wat vir oorlogs- en jagdoeleindes gebruik is. Al die spesies dra helderkleurige blomme boaan die vet stam. Die koedoelelie se blomme verskyn in die herfs en is spierwit. Dit word hoofsaaklik van saad gekweek. Dit word wêreldwyd versprei, maar het wel ‘n CITES-beperking wat die uitvoer van plante op groot skaal verbied. — Met erkenning aan SP Bester van die Nasionale Herbarium in Pretoria