
2 minute read
VOORWOORD
VOORWOORD
Welkom by Afrikaans Eerste Addisionele Taal graad 12.
Al die werk vir die jaar word in die handleidings vervat. Taalkunde en letterkunde het aparte handleidings en fasiliteerdersgidse. Al die werk in beide handleidings moet behandel word soos in die jaarplan aangedui.
Die taalaspekte van graad 12-werk word op grond van kennis gedoen. Die kandidate het reeds vanaf graad 8 taalkennis begin opbou en nou moet die kennis net toegepas word. Die moeiliker aspekte van die taal sal egter weer behandel word.
Die kandidate moet elke aktiwiteit in die handleiding getrou voltooi nadat die gegewe leerwerk hanteer is. Gaan al die antwoorde saam met die kandidate na en doen hersiening waar nodig.
PORTEFEULJEWERK
Die jaarpunt word deur portefeuljetake bepaal, wat in die portefeuljeboek gevind kan word. Die take in die portefeuljeboek moet betyds voltooi en aan Impak gestuur word teen die bepaalde datums op die puntestaat (in die portefeuljeboek).
Die take sal dan by Impaq nagesien word. Die punte sal in ’n vorderingsverslag/puntestaat gegee word, maar die take word nie teruggestuur nie. Die kandidate moet dus ’n gewaarmerkte afskrif vir hulself maak en hou. Die take sal by Impaq in die kandidate se persoonlike portefeulje gehou word – die portefeuljes van alle kandidate moet te alle tye beskikbaar wees vir moderering deur die eksamenraad.
Afrikaans het ook ’n praktiese gedeelte, naamlik die mondelingtake. Hierdie take tel as individuele take, maar die punt maak ook vraestel 4 van die Eindeksamen te punt op. Fasiliteerders evalueer nie die mondelinge nie. Reëlings vir die evaluering van mondelinge sal deur Impaq getref word.
EKSAMENS
Daar is drie eksamens wat in die jaar afgelê moet word. Die vraestelle is as volg: Vraestel 1 fokus op leesvaardigheid, kennis van visuele tekste, vermoë om op te som en taalkennis. Vraestel 2 is letterkunde, wat poësie en prosa behels. Vraestel 3 is uitsluitlik ’n skryfvraestel waar alle vorme van geskrewe werk (opstelle en transaksionele tekste) geassesseer word. Vraestel 4 word voor die Eindeksamen afgehandel – dit is eintlik net ’n samestelling van al die kandidaat se mondelingpunte deur die jaar.
ADDISIONELE BRONNE
Indien julle ekstra oefeninge wil doen, word die volgende boeke aanbeveel (let wel: die nodige werk word in die handleidings gedek en enige addisionele boeke dien slegs as verryking):
Gouws, R., Gouws, S. en Lätti, M. 2013. Afrikaans sonder grense, 12 Eerste Addisionele Taal. Maskew Miller Longman
Lutrin, B. 2004. Afrikaans Handbook & Study Guide. Berlut Books
Vosloo, R., Viljoen, H., Prinsloo, B., Stevens. H. en Ras, B. 2013. Piekfyn Afrikaans Graad 12. Best Books