Gr 10 AFRIKAANS HUISTAAL FASILITEERDERSGIDS LETTERKUNDE

Page 13

Fasiliteerdersgids G10 ~ Afrikaans Huistaal: Letterkunde

Eenheid

1

Voordat ons met gedigte kan werk, is dit belangrik om die verskil tussen prosa (’n kortverhaal, roman of drama) en poësie (gedigte) te verstaan. Gedigte het spesifieke kenmerke wat die skrywer (digter) tydens die skryf daarvan toegepas het. • • •

Om die les vir die leerders goed voor te berei, kan jy vir hulle vooraf ’n digbundel en verskillende soorte skrywers se romans voorhou. Wys vir hulle die verskil in tipografie en dat dit ’n absolute kuns is om gedigte te skryf – want baie word met min woorde gesê. Jy kan selfs vir die leerders sekere gedigte speel wat reeds deur bekende sangers getoonset is, mits jy sulke voorbeelde in jou besit het. BELANGRIKE TERMINOLOGIE: GEDIGTE Dit is belangrik dat leerders die terminologie wat in gedigte gebruik word verstaan en kan identifiseer. Hierdie lys is ook in die handleiding as verwysingsbron wanneer voorgeskrewe gedigte bestudeer word.

1.

TIPOGRAFIE Die manier waarop die drukkuns aangewend word vir ’n sekere effek. Dit beteken dat daar gekyk moet word na hoe die gedig letterlik lyk; die uiterlike bou van die gedig. Visuele tekens tot die teks is onder meer spasiëring, leestekens, hoofletters en kleinletters. Soms gebruik die digter tipografies ’n oop ruimte in ’n gedig. So ’n oop ruimte word tipografiese wit genoem. Die funksies is veral om stilte te suggereer en om die leser vir ’n oomblik te laat ophou lees.

2.

DIE BOU VAN ’N GEDIG ’n Gedig word opgebou uit versreëls. Versreëls word nie prosagewys aaneen gedruk nie, maar onder mekaar. Die onbedrukte wit gedeelte aan weerskante sluit die versreël af.

2.1

Die einde van ’n versreël val nie noodwendig saam met die einde van ’n sin nie. Wanneer die sin sonder onderbreking na die volgende versreël oorloop, noem ons dit enjambement. Die funksies van enjambement is om die rym te verdoesel (weg te steek of die aandag van die rym af te lei) en om beweging te ondersteun.

2.2

© Impaq

Die lang reeks versreëls wat onmiddellik op mekaar volg en wat deur tipografiese wit van mekaar geskei word, word strofes genoem. ’n Tweereëlige strofe word ’n koeplet genoem. ’n Driereëlige strofe word ’n tersine genoem en ’n vierreëlige strofe word ’n kwatryn genoem. ’n Strofe met ses reëls is ’n sekstet en ’n strofe met agt reëls is ’n oktaaf. 11


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.