Fasiliteerdersgids G10 ~ Afrikaans Huistaal: Letterkunde
Eenheid
1
EENHEID 1 Poësie Les 1: Literêre begrippe LEERDOELWITTE Aan die einde van hierdie les behoort die leerders die volgende te kan doen: Verstaan die unieke kenmerke van gedigte: • Tipografie, bou van ’n gedig, enjambement, rym, rymskemas, vrye vers, herhaling, die verskil tussen spreker en skrywer, progressie, inversie. • Tradisionele digsoorte: die Italiaanse sonnet. • Beeldspraak volgens ooreenkomste en assosiasies. • Stylfigure, bv. antitese/teenstelling, paradoks, klimaks, antiklimaks, hiperbool, litotes, eufemisme, herhaling, woordspeling, inversie, retoriese vraag, ironie, sarkasme, metonimia en sinekdogee. Die volgende punte moet in ag geneem word met die ontleding van ’n gedig: • Daar is twee kernvrae wat jy oor ’n gedig moet vra: Wat word gesê? Hoe weet ek dit? Die tweede vraag dien as motivering van die eerste. Die eerste vraag bepaal wat deur die tweede vraag geopenbaar sal word. • Alle outeurs skryf omdat hulle iets het om te sê – iets wat hulle as interessant beskou en gewoonlik van belang is vir die kultuurgroep vir wie hulle skryf. • Daar is nie altyd finaliteit met betrekking tot die interpretasie van ’n gedig nie. • Die volgende aspekte ondersteun die boodskap of tema van ’n gedig: o Letterlike en figuurlike betekenis o Stemming o Tema en boodskap o Beeldspraak (personifikasie, metafoor en vergelyking) volgens ooreenkomste en assosiasies. o Stylfigure (inversie, simbool, klanknabootsing/onomatopee, ironie, kontras, satire, sarkasme, antiklimaks, eufemisme, hiperbool, woordspeling, sinekdogee, metonimia, onderbeklemtoning en retoriese vraag). o Tipografie, bou van ’n gedig, enjambement, rym, rymskemas, vrye vers, herhaling, verskil tussen spreker en skrywer, progressie, inversie. o Tradisionele digsoorte: die Italiaanse sonnet.
© Impaq
10