3 minute read

 Mnr FW de Klerk se Planne

Die probleem was dat alle operasies in Angola eers deur die SVR goedgekeur moes word. Onder leiding van TSK is dan 'n werkgroep saamgestel om die komops van sulke operasies te beplan. Die geleentheid vir lekkasies was dus legio. Op my en AMI se aanbeveling verkry die destydse minister van verdediging toe goedkeuring om invalle tot 'n sekere afstand, ek dink dit was 350 km, self te magtig en dit verder af vir verskillende afstande te delegeer. Ek neem dan deel aan AMI se beplanning en lig, soms, TSK-lede in, en identifiseer staatsdepartemente en organisasies soos die staatsmedia in dat 'n aanval beoog word, hulle later ingelig sou word oor die waar, redes en wanneer en dat hulle solank beeldmateriaal, verklarings, ens vir bv diplomate gereed moes kry. Op die dag van die aanval word ek dan deur AMI ingelig en lig ons dan die betrokkenes in. Hierdie prosedure is met sukses in baie operasies toegepas. Die lekkasies het gestop en suksesvolle stratkom is gevoer.

 Mnr FW de Klerk se Planne

Advertisement

Soos ek aan die begin gesê het, was daar om begryplike redes geen komops-operasies gedurende Savannah nie. Dit het ongelukkige en skadelike gevolge gehad. Ongelukkig het die politici nie hul les geleer nie. Die aankondiging van die vrylating van meneer Mandela en die ontbanning van sekere verbode organisasies is nie voorafgegaan deur behoorlike komops/stratkom nie. Belangrike rolspelers het via die media daarvan verneem. Hieroor sê 'n vorige HSAW, generaal Meiring in die boek DAYS OF THE GENERALS deur Hilton Hamann: “We did not know about De Klerk's plans to unban the ANC. It was a complete surprise. Nobody knew about it, but when it happened, we had a major problem …... After that we had to do things in a com-ops way.”

Generaal Meiring het toe op sy eie in twee gevalle fiasko’s (en moorde) voorkom deur sy eie goeie komops toe te pas.

Gedurende Kodesa is ook geen stratkom/komops toegepas nie en kosbare geleenthede is verspil. Selfs voor Kodesa is alle stratkom- en komopsvermoë vernietig. Toe Kodesa plaasgevind het was daar niks oor nie; want alles wat na die NVBS, militêre of PW Botha geruik het is ongevoelig vermorsel met dramatiese gevolge vir die RSA en droewige gevolge vir menige personeellede beide van die SSVR en die SAW en ander departemente en tot nadeel vir die RSA. Ander vaardighede wat onder leiding van TSK in samewerking van onder andere AMI ontwikkel is, is ook nie by Kodesa gebruik nie. Hier praat ek byvoorbeeld van strategie, toekomsstudies en onderhandelingsvaardighede. Hoe is dit moontlik dat onkundige en onbekwame onderhandelaars oor hierdie onderwerpe by Kodesa gebruik is? Die gevolge vir die RSA was mos duidelik voorsienbaar.

Toe Dr Niel Barnard, na die verskyning van sy boek GEHEIME REWOLUSIE hierop gewys is, was sy reaksie: “…. kommentaar oor die slimmighede (kundigheid) van die SSVR is lagwekkend. Daar was kundige mense; onder andere die wat aanbeveel het Mandela se lewe so spoedig moontlik beëindig moes word.” Die bewering verskyn ook in sy boek. Die waarheid is miskien te vinde in DAYS OF THE GENERALS waar Generaal Chris Thirion beskryf hoe 'n werkgroep bestaande uit NI, die militêre en die polisie in NI se hoofkwartier vergader het om te besin oor die vraag of Mandela vrygelaat moes word, indien wel, wanneer en hoe. Hy sê “a document was produced” and “I think it could be understood that the intelligence community said: “Yes, at some other time he must be released.'” Aangesien die vergadering by NI gehou is, word aanvaar dat daardie instansie die formulering gedoen het. Die SSVR was nie teenwoordig nie en het dus nie die aanbeveling gemaak nie. Wie is nou skuldig, die SSVR of NI en wie praat die waarheid?