Bladsy 10
DIE POS/THE POST 8 November, 2013
POSSAK / POSTBAG dieposnuus@icon.co.za
Kandidaat het beter dorp ten doel Kobus Nel, raadslid: Modimollemunisipaliteit, skryf: Die Vryheidsfront Plus (VF+) maak graag sy kandidaat vir die tussenverkiesing in wyk 8 bekend. Johan Prinsloo het pas 40 jaar oud geword, is getroud met Marie en twee kinders is uit die huwelik gebore. Johan en sy gesin is inwoners van wyk 8. Hy is ’n gelowige gesinsman wat graag by die aktiwiteite van sy kerk (NG Oosgemeente) betrokke raak. Sy motivering om by die verkiesing betrokke te raak, is om mee te werk om van Modimolle ’n beter dorp vir almal te maak. Tydens die onlangse algemene vergadering van die provinsiale bestuur het die party onder die indruk gekom dat daar ’n gebrek aan insig en kennis by sommige kiesers is oor watter rol die VF+ saam met ander opposisiepartye wil speel om die diversiteit van Suid-Afrika se samelewing te beklemtoon en die kulturele erfenisse van die verskillende groepe te bevorder, en sodoende Suid-Afrika vir alle burgers ’n beter plek te maak. Niks verhoed opposisiepartye om, in sake van gemeenskaplike belang, saam te werk nie. As kiesers moet ons daarteen waak om weer in ons ou gebruike te verval waar ons spreekwoordelik al ons eiers in een mandjie plaas deur slegs vir een party te stem. Die Nasionale Party het vroeër, en nou die ANC as huidige regering, hul oorweldigende steun van kiesers gebruik om tot ’n groot mate te maak soos hulle wil en kritiek deur die opposisiepartye en ander groepverteenwoordigers te ignoreer. Dit skep ’n posisie waar mag misbruik word om eie belange, in plaas van landsbelange, te bevorder . Voorbeelde van misbruik van mag in Suid-Afrika is legio en aan ons almal bekend. Dit is ook algemeen bekend dat, in lande waar koalisies van partye regeer, die misbruik van mag nie maklik voorkom nie en beter beleid- en bestuursbeginsels toegepas word. Indien die opposisiepartye in ’n provinsie soos Limpopo, waar meer as 70% kiesers verkies om vir die regerende party te stem, in ’n koalisie sou saamwerk, kan ’n groter magsbasis geskep word wat beter besluite en bestuur kan verseker. Indien die kiesers egter meen dat die opposisie net uit een party moet bestaan en sodoende alleenreg op alle besluite gee, verleng dit die tydperk van oorheersing deur die ANC en is dit my beskeie mening dat dit nog lank gaan neem voordat ons ’n gebalanseerde en gesonde bestuur met gepaardgaande voorspoed in Limpopo sal beleef. Langtermynvrede lê in ’n samewerkingsooreenkoms waar alle landsburgers inspraak het, en gevolglik gemaklik en tuis voel. Deur u stem vir die VF+ uit te bring, versterk u die vooruitsigte van gesamentlike besluitneming en sinvolle regering.
Glo en vertrou Annetjie Olivier, Bela-Bela, skryf: Dit is so hartseer om te sien van ons jong seuns wat so gesterf het (Modimolle weer in rou, Vrydag, 1 November). Ek kan sê ek verstaan julle seer, maar ek weet ook dat elke sterfgeval, al is dit eenders, nooit dieselfde is nie. Maar ek kan sê, ek weet hoe dit voel as die dood aan jou deur klop. Dit is ’n hartseer wat niemand kan beskryf nie. My enigste seun is as al 22 jaar oorlede, maar dit voel soos gister. Maar dan is dit nie finaal nie, eendag sal ek hom weer sien by ons Koning Jesus. Dus wil ek net sê: Sterkte, die Here sal julle deurdra. Glo en vertrou.
BRIEWE / LETTERS
diepos.linmedia.co.za / www.diepos.co.za
’n Ope brief aan Adriaan Basson — redakteur van Beeld Beste Adriaan, Ek kan nie jou onbegrip verstaan oor die feit dat jy ’n onskuldige kind van 11 jaar in jou koerant so kon blootstel nie. Dit kan seker nie maklik wees om in so “hoë” posisie soos jy te sit en dan te verwag dat mense moet dink dat jy die hart en kognitiewe denke van ’n 11-jarige verstaan nie. Veral nie as jy die redakteur van ’n koerant soos Beeld is nie. Jy sien, Adriaan, ’n kind is mos maar net ’n kind. Ongeag watter kant van die spoorlyn ’n kind bly, ongeag velkleur, ongeag die ouers se politieke sentiment of geloofsoortuiging of hulle geleerdheid of gebrek daaraan, ongeag of die pa ’n goeie bordeaux-versnit bo klippies en Coke verkies, ongeag of hy ’n misdadiger of die redakteur van ’n koerant is. Eintlik is daar mos net een woord wat sinoniem aan kindwees is: onskuld. Ek hoop jy verstaan dat ek dieselfde skok en hartseer sou ervaar het indien jou ope brief aan enige ander 11-jarige kind gerig was. Die inhoud van jou brief en of ons van mekaar mag verskil of nie (die skilde waarmee jy jou so heftig teen die kritiek verdedig), is nie die rede waarom mense teleurgesteld is in jou optrede nie. Sou jy min of meer dieselfde brief (natuurlik sonder die foto) aan die dogter se volwasse ma gerig het, was dit ’n perd van ’n heel ander kleur. Die doel reinig mos nie die middel nie. En laasgenoemde is in hierdie geval ’n onskuldige kind. Ek wonder of jy kan onthou hoe klein is ’n mens as jy 11 jaar is? Jou “brief” het my baie ver laat terugdink aan my eie skooldae. Ek onthou vir “Pietie”. En ek onthou hoe ons laerskoolhoof hom eendag voor in die saal laat staan het en vir al die kinders vertel het dat “Pietie” se pa in ’n motorongeluk oorlede is en dat die personeel en leerlinge se harte uitgaan na hulle gesin. Terwyl “Pietie” so terugstap na sy sitplek, steek die skoolhoof ’n behoorlike sedeprekie af oor wat gebeur as ’n mens drink en bestuur. Ek onthou die insident besonder goed, want die volgende dag het my ma se vriendin haar bedanking by die einste skool ingedien. Natuurlik nie sonder dat sy haar ontsteltenis die vorige middag in ons huis aan my ma oorgedra het nie. Dit was die aand om ons etenstafel ’n vurige besprekingspunt. Dit het nié gehandel oor die inhoud van die skoolhoof se sedeprekie nie. Dit was in ’n tyd toe onderwys soms maar ’n “onmenslike” stelsel was. Gelukkig is daar op pedagogiese vlak baie vordering
gemaak sedert my laerskooldae in die vroeë 70’s. Veral ná 1994 waar die beskerming en regte van kinders so sterk in ons grondwet onderskryf word. Deesdae se skoolhoofde en BEA EMSLIE onderwysers, wat ek vermoed deel is van jou generasie (die Y-generasie), is besonder fyn ingestel om onskuldige kinders met die grootste sensitiwiteit denkbaar te hanteer. Deesdae word daar in die meeste skole laer getrek om kinders te beskerm teen die seerkry wat deur hul ouers en ander volwassenes se onvolwasse, onsensitiewe en onnadenkende optrede veroorsaak word. Ek wonder of jy en jou vriende en jou “beeldskone” vrou soms met ’n bordeauxversnit in die hand en ’n skaaptjoppie op die vuur gesels oor nuwe, moderne navorsing en idees rondom die affektiewe en gevoelsmatige begeleiding van kinders? Ook bekend as die primêre grond van opvoeding? Ek wonder of julle praat oor Mandela, sy kindertrust en sy strewe om die kinders van sy land te beskerm. Ek lees dat jy groot respek het vir Madiba. Ek ook, daarom wonder ek hoe hy sou voel oor jou ope brief? Ek wonder nie of hy ooit ’n 11-jarige kind van een van die apartheidsleiers of – toepassers sou blootstel nie. Ek weet hy sou dit nooit doen nie. Praat julle so om die braaivleisvuur oor oorlog? Dan sal jy weet dat Hitler foto’s van Joodse kinders in sy Nazi-beheerde koerante geplaas het as deel van die antiJoodse veldtog. Het jy al die fliek The boy in the striped pajamas gekyk? Kinderonskuld teenoor grootmenswreedheid. Ons land het nie ’n Voltaire nie. Ons het wel vir Dalene Matthee wat mos maar in haar skryfwerk lewensfilosofie so vertelvertel ingeskryf het. Oor die universele waarde van ’n boek soos Kringe in ’n Bos dink ’n mens mos ’n leeftyd oor na. Onthou jy die woorde van die ikoniese Fiela Komoeti aan die “almagtige” magistraat in Fiela se kind? “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie.” Adriaan, ek wens jou net die beste toe op jou lewens- en loopbaanpad. Ek hoop jy vind vrede. En ek hoop jy vind dit in jou om vir ’n onskuldige kind jammer te sê. Beste wense, Bea
DAGBOEK / DIARY Slegs skole, kerke, sportklubs, liefdadigheidsorganisasies of instansies wat ’n deel van die opbrengs van hul funksies aan liefdadigheidsorganisasies in Die Pos se lesersgebied skenk, mag gratis in Die Pos se dagboek-kolom adverteer. 8-9 NOVEMBER: • The Arise Conference takes place at the Koinonia Christian Community Centre in Chris Hani Street in Modimolle. Costs are R120 per person. The conference will equip you for personal growth and minister healing to others. For more information, contact Rojean Muller at tel. (012) 717 3342 (mornings only). SATERDAG, 9 NOVEMBER: • Die sanggroep Kaleidoskoop tree by die hoofpawiljoen van Hoërskool Warmbad op. Bring stoele komberse en piekniekmandjies en geniet ’n aand van musiek onder die sterre. Ligte etes en koeldrank sal te koop wees. Kaartjies is by die Hervormde Kerk by tel. (014) 736 3124 beskikbaar en by Hoërskool Warmbad by tel. (014) 736 2166. Kostes beloop R100 vir volwassenes, R50 vir skoliere en toegang vir voorskoolse kinders is gratis. Fondse is ten bate van die Hervormde Kerk en Hoërskool Warmbad. • Die Bosveld Voëlklub se afsluiting, ’n noenontbyt, vind om 10:00 by Klein Paradus-gasteplaas tussen Modimolle en Bela-Bela plaas. Kostes beloop R45 per persoon. Hulle ontmoet reeds om 07:30 om voëls te kyk. Bespreek voor Saterdag, 2 November, by Elise Giezing by tel. (014) 715 2915, Annatjie Becker by tel. (014) 736 4374 of Magriet Le Roux by tel. 083 454 5543. Kry die bankbesonderhede by Marie Swart by tel. 082 567 0677. SATERDAG, 16 NOVEMBER: • Die ATKV-tak Waterberg bied ’n manneontbyt aan met Cobus Erasmus, outeur van S.T.U.K.K.E.N.D. Dit word gehou by Spur Bela-Bela en begin om 09:00 vir 09:30. Kaartjies kos R70 per persoon. Erasmus praat oor ’n tragiese ongeluk in sy eie lewe, versoening en wonderwerke. Kostes beloop R70 per persoon. Vir meer inligting, bel Thom Schimper by tel. 083 230 7606. SONDAG, 17 NOVEMBER: • ’n Kerssangdiens vind om 18:00 by die NG Kerk Warmbad-Wes plaas. Francois en Elizabeth Fourie bied dit aan onder die tema, Somer Kersfees. Almal is hartlik welkom. ’n Kollekte sal opgeneem word. VRYDAG, 13 DESEMBER: • Die Pos se kantore sluit vir die Kersvakansie. Ons Kersuitgawe verskyn op Vrydag, 20 Desember. Ons kantore open weer op Maandag, 6 Januarie 2014.
You’re welcome! The Post invites readers to voice their views in letters to the editor. Send letters to dieposnuus@icon.co.za(.)
TaalPOS VERWIKKELINGE is ongunstig, anders praat ons van ONTWIKKELINGE.